November 2015

TOIT WESSELS ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Kaapprovinsie, ALZENA GOMES, skakelbeampte en LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Wes-Kaap, almal van Graan SA. Foto’s: ALZENA GOMES

Met die 2015 Agri Mega Week iets van die verlede, kyk ons weer eens terug na al die gebeure tydens dié week wat op Bredasdorp plaasgevind het. Mega Park was vanaf Woensdag, 16 September, tot Saterdag, 19 September, ‘n miernes van bedrywighede en met ‘n ietwat kleiner Graan SA-tent, maar met hope meer gasvryheid en pragtig versier, het baie goeie interaksie tussen Graan SA-lede en die bestuur van Graan SA plaasgevind.

Lede is oudergewoonte bederf met ‘n stomende cappuccino, geborg deur John Deere Financial en toe die verwagte koue neersak en die ysige windjie opsteek, was die koffie en warm sjokoladedrankies ‘n besliste treffer.

Dit was ‘n wonderlike paar dae waar daar gesellig en informeel gesels is en “oplossings” vir al die graanprobleme gevind is.

Die eerste dag van die Megaweek het stil-stil afgeskop met ooglopend minder Swartland-lede wat besoek kom aflê het. Die groendroogte wat daar ondervind word, was definitief ‘n bydraende faktor aangesien dit glad nie goed lyk daar nie – en ja laat ons dit maar noem – koring word nie geplant om kuilvoer te maak nie!

Ons het egter weer ons invorderingsagente genooi as gaste vir die dag en mnr Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) het hulle tydens die middagsessie bedank vir hul onbaatsugtige diens en hul rol in die sukses van heffingsinvorderings beklemtoon. Die vergadering is afgesluit met ‘n gesellige ete en daar is lekker saam met die gaste in die tent verder gekuier.

Graan SA-lede kuier heerlik saam by die Megaweek

Graan SA-lede kuier heerlik saam by die Megaweek

Graandebat

Die getalle in die tent het egter teen Donderdag dramaties vermeerder, wat toegeskryf kan word aan die belangstelling in die Graandebat wat plaasgevind het. Die onderwerp “Hoe kan ons die produksie van koring in die Kaapprovinsie sowel as in Suid- Afrika verhoog?” was ‘n treffer en die sprekers het eerlik en openhartig gepraat.

Hierdie gesprek, ingelei deur mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA), het die byna 200 gaste teenwoordig, breedvoerig ingelig oor die werksaamhede tot op hede van die Koringforum en gaste op hoogte gebring ten opsigte van die forum se gesprekke en besluitnemings.

“Almal is dit eens dat die doel moet wees om meer winsgewend te wees sodat ons koringproduksie kan opstoot,” het De Villiers gesê.

Mnr André Uys (hoofuitvoerende bestuurder: Overberg Agri), het die debat geopen en het moontlike verhoogde produksie bespreek uit die oogpunt van landboubesighede en koringopbergers. Uys het beklemtoon dat kommunikasie tussen alle rolspelers van uiterste belang is en dat bydrae tot die groei van koringproduksie topprioriteit geniet.

Hy het verder beklemtoon dat inflasie-aangepaste kommoditeitspryse onder druk sal bly in die lang termyn en dat koringproduksie slegs gestimuleer sal kan word as dit die beter alternatief vir produsente is om te plant. Uys het afgesluit deur produsente aan te moedig om nie op te hou om kleiner verbeteringe aan te bring nie, maar om te besef dat die langtermynoplossing in tegnologie lê.

Mnr Gido Janse van Rensburg (direkteur: Graan, Bester Voer en Graan) het bevestig dat handelaars graag die koringbedryf wil bystaan om sodoende tonnemate te vermeerder. Verder het Janse van Rensburg die aandag behoorlik vasgevang met die bespreking van uitdagings rakende die lang tydperk rondom die afkondiging van die invoertarief en dat GMO-koring meer in die Suid-Afrikaanse koringbedryf benut moet word.

Mnr Erich Jordaan, (hoofaankoper: Tiger Brands) het uitgebrei ten opsigte van meulenaars se werksaamhede en behoeftes. Jordaan het ook die gedagte dat die Suid-Afrikaanse koringbedryf nie in nood is nie, beklemtoon, maar wel sekere realiteite uitgelig, soos dat marginale grond nie onder produksie gaan kom nie en die hoë risiko van koringaanplanting in die Vrystaat.

“Die kontantmark kan nie werk solank ons nie graan kan waarborg nie,” het Jordaan gemaan.

Na afloop van die sprekers het verskeie vrae en redenasies uit die gehoor ontstaan en ‘n baie suksesvolle debat is afgesluit deur mnr Nico Groenewald (hoof: AgriBesigheid SA, Standard Bank) – die borg van die landboudebat.

Mentorsvergadering

Ná die oggend se verrigtinge, het Graan SA met opkomende boere, hul mentors sowel as lede van Casidra – wat verantwoordelik is vir die implementering van die Grain Commodity Project Allocation Committee (CPAC), vergader. Die getal bemagtigingsprojekte in die Wes-Kaapse graanbedryf het gedurende die afgelope drie jaar verdriedubbel. Die groei en sukses van ‘n handjievol projekte, soos die Agri Dwala Bemagtigingstrust, Suurbraak Graanprodusente, Swart Boerdery, Knolkop Bemagtigingstrust en Genadeshoop Boerdery het die baan geweg vir bemagtingsprojekte in die Wes-Kaap.

Met behulp van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en uitstekende mentors, kon ‘n hele paar van hierdie projekte die nodige hupstoot kry vir ‘n voet in die deur om met kommersiële produsente te kompeteer. Verder het hierdie baanbrekerprodusente ander aangesteek en gewys wat wel moontlik is en daarom groei die belangstelling in bemagtigingsprojekte by die dag.

Die mentors van hierdie inisiatiewe is self almal kommersiële produsente met jare se ondervinding in die bedryf. Om egter ‘n effektiewe mentor te kan wees, verg ‘n paar unieke karaktereienskappe,waaronder praktiese en bestuurskennis, goeie kommunikasie, beskikbaarheid, ‘n passie vir ontwikkeling en wedersydse respek.

Soos bekend, is graanboerdery as sodanig nie sonder uitdagings nie en met ‘n produsent/mentor se betrokkenheid by hierdie tipe inisiatiewe, verg dit baie goeie beplanning, bestuur en ‘n duidelike visie. Graan SA is nou betrokke by hierdie projekte en bied ondersteuning deur middel van opleiding, studiegroepvergaderings, hulp met die opstel van besigheidsplanne en so meer.

Tydens die vergadering, het De Villiers terugvoer van die Wes- Kaapse mentors gekry en die geleentheid gebruik om te bepaal waar Graan SA nog waarde kan toevoeg. “Ons is baie trots op hierdie Graan SA-lede wat proaktief optree en bereid is om die ekstra myl te loop om ware bemagtiging in die Wes-Kaap ‘n werklikheid te maak,” het Me Liana Stroebel, (ontwikkelingskoördineerder: Wes- Kaap, Graan SA) gesê.

Ter afsluiting bedank ons die Graan SA-span sowel as mnre Richard Krige en André Kirsten (Graan SA-hoofbestuurslede) vir hul bydrae tot die suksesvolle week en vir die teenwoordigheid van Steytler en De Villiers, wat beslis bydra tot die sukses van die Graan SA-tent. Ons sien uit om ons lede volgende jaar weer by die Megaweek terug te verwelkom.

Publication: November 2015

Section: Grain SA