Die mense wat agterbly

106

Beste Grootneef

Anderdag stop ek in ’n klein dorpie in die Noordoos-Vrystaat om diesel in te gooi. Die “Welkom in …”-bordjie is so geroes dat die plek se naam moeilik leesbaar is. Die stukkie teerpad in die dorp is vol slaggate, met hier en daar een wat halfhartig met gruis toegegooi is. By die petrolstasie gekom, gaan soek ek iemand in die klein kantoortjie om die tenk vol te maak.

Met die pomp aan die dreun en liters diesel wat in die bakkie se keelgat af verdwyn, vra ek die joggie uit oor die dorpie. En toe begin hy vertel.

Die ou mense in die dorpie raak al hoe minder. Min nuwe mense trek in. Die wat dit kon bekostig, is vort. Die wat oor is, se kinders word na die naburige dorp se kosskool gestuur. Dinge het egter vir altyd verander toe Mohammad se “Cash en Kerrie” die een nag onder die zama-zamas van Welkom deurgeloop het. Die OTM is met dinamiet uit die winkelmuur geblaas.

Met die OTM uit die muur geskiet en die kontant gesteel, is die gat in die muur in ’n japtrap vergroot. Al die negosie is van Mohammad se winkelrakke gestroop – sakke mieliemeel en suiker, melk en koeldrank uit die yskaste. Lekkergoed en twak. Alles is weggedra en op ’n bakkie gelaai. Selfs die kassie met Panado’s is leeggemaak.

Toe die polisie se enigste voertuig ’n uur later daar opdaag, was die zama-zamas weg, met net Mohammad wat verdwaas op die stoep na die gat in sy winkelmuur staan en kyk.

Die bakkie se tenk was lankal vol, maar die joggie klik sulke klein slukkies diesel af om dit nog voller te kry. Ons gesels lekker en daar was buitendien geen ander voertuig op die ryvlak nie. Die pompjoggie vertel toe verder.

Met die dorpie se enigste OTM tot niet, moes almal wat maandeliks ’n pensioen of toelaag ontvang dit noodgedwonge op die buurdorp gaan trek. En dan die geld sommer dáár spandeer. Die besigheid het oornag uit die dorpie gevloei. Waar mense voorheen in lang toue voor Mohammad se winkel gestaan het om kontant te trek, het die voete en die besigheid nou met taxi’s weggevloei.

Mohammad het die gat in sy muur herstel en die deure en vensters met staalplate toegesweis. Een middag is hy met die winkelrakke op sy bakkie vort. Mense weet nie of hy weer sal terugkom nie.

Die twee ander besighede doen darem nog goed. Die bottelstoor en die skrootwerf se deure is steeds wawyd oop. Meestal verkwansel die mense ’n paar stukkies yster by die skrootwerf en kry dan koers na die drankwinkel.

My bakkie se tenk is nou só vol dat die diesel sigbaar net onder die inlaat blink. Daar is skaars plek vir die prop. Ons begin klaarmaak. Die joggie loop soek na die kaartmasjien. Na ’n wyle kom hy terug met ’n groot verskoning – die lyn is af en kan ek dalk met kontant betaal?

Ek was al in die bakkie op pad om te ry, toe die joggie begin vertel van die water wat so skaars is. Die munisipaal se boorgatpompe het bykans twee jaar gelede tot stilstand geknars. Sedertdien groei die kakiebos die pompstasie toe. Maar die burgemeester het ’n plan gemaak – elke dag ry ’n vragmotor al die pad Heilbron toe om watertenks vol te maak. Die water word dan na die dorpie en sy woonbuurt gekarwei, sodat die mense hul waterkanne kan volmaak. Die vrouens staan in lang toue om 20-literkanne vol water te tap. As die water vir die dag op is, is dit op – die lorrie ry net een keer per dag.

Die joggie lag verleë toe ek vra of dit nie beter sal wees indien die munisipaal bloot die twee waterpompe by die boorgate herstel nie. Hy glo nie dit sal werk nie, want die burgemeester se neef het die transportkontrak vir die waterlorrie. Maar die burgemeester het gesê die mense moenie ”worrie” nie. ’n Pyp word nou al die pad van Koppiesdam aangelê vir drinkwater. Die burgemeester se broer hanteer glo die projek. Dit sal nog net so ’n jaar vat, dan sal daar weer genoeg water vir almal wees.

Met die ryslag was daar ’n diepe deernis vir die mense van die dorpie wat sonder kontant of water vasgevang is. Dit in ’n plekkie wat na die tuin van Eden vernoem is. Die mense wat nog ’n bestaan daar probeer maak, is die wat agtergebly het. En algaande gewoond geraak het aan minder, terwyl die burgemeester in ’n nuwe kar rondrits.

En toe wonder ek of die geheel van die Suidland nie ook maar so lyk vir die buitelandse toeriste wat vir ’n week of wat hier aandoen nie? En kyk hulle nie ook met deernis na ons klompie wat in die Suidland agtergebly het nie?

Groete op die Oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.