August 2015

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

image“My lede wil hul silo’s vol graan kry, maak nie saak wie die graan produseer nie. ‘n Mieliepit is geel of wit, nie swart of wit nie,” verduidelik me Mariana Purnell, hoofbestuurder van Agbiz Grain, wat die belangrikheid van kleinboerontwikkeling nie genoeg kan beklemtoon nie.

Mariana meen kleinboere moet so gou as moontlik kommersieel begin boer en sinvolle hoeveelhede by silo’s lewer, sodat hulle kan bydra tot die ekonomie en voedselsekerheid van die land. “Kleinboere wat hulself reeds bewys het, moet ‘n lae rentekoers lening kry wat hulle in staat sal stel om grond en implemente te koop, sodat hulle hulself kan vestig en só sekuriteit kan kry vir gewone produksielenings soos enige kommersiële produsent.”

Volgens haar is een van die grootste uitdagings tans in landbou, die teenstrydige beleide in regeringsdepartemente wat verwarring in die landbousektor skep. “Die groter prentjie om genoeg kos te produseer vir ‘n groeiende bevolking, word deur die regering gekniehalter deur absurde uitsprake oor grondplafonne te maak.”

‘n Uitdaging wat volgens haar wêreldwyd ‘n probleem in die landbousektor is, is jongmense wat nie meer op plase wil bly en boer nie. “‘n Besigheid ontstaan omdat daar ‘n behoefte is en die behoefte vir voedsel raak by die dag meer. Die jeug moet besef dat daar altyd ‘n mark vir landbou sal wees, omdat mense wêreldwyd drie of meer keer ‘n dag moet eet.” Sy vertel van die “Agriculture is sexy”-skakel op die jeugbladsy van Agbiz Grain se webtuiste waar drie Amerikaanse broers landbou op parodie-video’s uitbeeld. Gaan loer gerus op www.agbizgrain.co.za.

Inisiatiewe vir oplossings

‘n Groot hoogtepunt op Mariana se Agbiz Grain-kalender is die mini-simposium wat sy jaarliks vir haar lede reël. Een van die kwessies wat vanjaar by dié simposium bespreek gaan word, is die nuwe en gewysigde regulasies van die Nasionale Padverkeerswet. “Ek sal graag wil sien dat die hele graanbedryf selfregulerend word. Die suikerbedryf het reeds daarin geslaag en ons kan baie by hulle leer. Daar is steeds baie onsekerheid en vrae in die bedryf oor dié kwessie en daarom kry ek kundiges in die bedryf om met my lede te kom gesels.”

‘n Tweede inisiatief wat sy van die grond af wil kry, is om ‘n bewusmakingsveldtog van die graanbedryf en die onderskeie rolspelers deur middel van ‘n uitstalling by die parlement te hou. “Ek wil hê ons moet die regering bewus maak dat die graanbedryf uit ‘n klomp komponente bestaan, verduidelik wat elkeen se rol is en hoe al die komponente soos ‘n legkaart by mekaar inpas,” vertel sy met groot opgewondenheid.

Agbiz Grain

Agbiz Grain is ‘n volwaardige lessenaar van Agbiz en verteenwoordig tans die twaalf grootste hantering- en opbergingsmaatskappye in die graanbedryf. “Nouer samewerking met Agbiz, wat op ‘n hoër politieke vlak beweeg, help Agbiz Grain en sy lede om meer ingelig te bly oor die strategiese aangeleenthede wat die landbousektor kan beïnvloed,” verduidelik Mariana.

Klimaatsverandering en die veranderende landbou-omgewing speel ‘n groot rol in die graanbedryf. Daar is tans silo’s in gebiede waar graan nie meer geproduseer word nie en dié multimiljoenrandsilo’s kan nie meer volgemaak word nie. Goed koper, alternatiewe opbergingstrukture, soos silosakke, word weer al hoe meer in nuwe graangebiede gebruik.

Mariana verteenwoordig haar lede by vergaderings van verskeie rade, komitees, trusts en organisasies. “Indien ‘n maatskappy nie ‘n lid is van Agbiz Grain nie, sal ek nie die maatskappy se betrokke kwessies kan uitdra op die verskeie forums nie en sal hulle ook nie belangrike inligting ten opsigte van ontwikkelings in die bedryf, regulasies en wette wat verander asook geleenthede in die industrie kan ontvang nie.”

Mariana nooi daarom tradisionele sowel as alternatiewe hanterings- en opbergingsmaatskappye uit om by Agbiz Grain aan te sluit.

Agtergrondinligting oor Mariana

  • Ná skool verwerf Mariana haar BSc-graad in Plant- en Dierkunde sowel as haar BScHons in Plantfisiologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Later verwerf sy ‘n MSc-graad en verskeie ander kwalifikasies.
  • Haar loopbaan begin as navorser by die Instituut vir Sitrus en Subtropiese gewasse se proefplaas in Oos-Londen, waar sy na-oesprobleme van pynappels, wat per boot uitgevoer is na Engeland, ondersoek het. Hierna sit sy haar loopbaan voort in plantweefselkultuur/biotegnologie by dié instituut se hoofkantoor in Nelspruit, waar sy onder meer betrokke was by die suksesvolle kloning van pynappels. Later tree sy ook op as gasspreker by die eerste pynappelsimposium in Hawaii.
  • In 1995 het sy Suid-Afrika verlaat om as landbouwetenskaplike-verteenwoordiger by die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington DC, VSA, op ‘n vierjaarkontrak te werk. Tydens haar tyd in Amerika, het sy ‘n uitstalling van inheemse Suid-Afrikaanse blomme gereël om die ver skeidenheid sowel as die omvang van navorsing daarop ten toon te stel, samewerking met die VSA te bevorder en addisionele navorsingsfondse te bekom. Dit was hoogs suksesvol en is een van die prestasies in haar loopbaan waarop sy die trotste is.
  • Begin 2004 het sy ‘n loopbaanskuif gemaak na die graansilobedryf waar sy by Senwes vir tien jaar werksaam was, voordat sy in 2013 as uitvoerende hoofbestuurder van Agbiz Grain aangestel is.
  • Sy is tans president van haar Rotariërklub in Pretoria-Oos en sy het ook ‘n groot passie vir proeflees, skryf en lessenaarsetwerk (desktop publishing).

Publication: August 2015

Section: Relevant