August 2016

LOUREINE MULLER, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Dít moet jy weet as jy GRONDBOONSAAD aankoopDit raak haas weer tyd vir grondboonsaadaankope. Hierdie jaarlik se aksie gaan gepaard met ‘n besluit wat elke produsent moet neem aangaande die kwaliteit van die saad wat aangekoop moet word.

‘n Produsent het sekere regte wanneer dit by die aankoop van gesertifiseerde saad kom. Daardie regte sluit die volgende in:

  • Die reg tot hoëkwaliteit saad.
  • Kultivar-egte saad wat voldoen aan die plantbeskrywing van die spesifieke kultivar.
  • Saad wat gemerk is volgens SANSOR standaarde (Foto 1).
  • Die reg om saad te weier indien dit nie aan bo-genoemde vereiste voldoen nie.

Die produsent moet ook weet dat saadmaatskappye onderhewig is aan sekere riglyne wanneer dit by saadproduksie kom. Hierdie riglyne word onderskryf deur SANSOR en behels die volgende:

  • Maatskappye wat saad produseer moet by SANSOR geregistreer wees om sodoende gesertifiseerde saad te kan produseer.
  • Grondboonsaad het ‘n minimum vereiste vir kieming van 70%.

Daar is tans geen riglyne oor die saad se fisiese voorkoms nie. Hier moet die produsent sy eie diskresie gebruik deur die volgende vrae te beantwoord:

Dít moet jy weet as jy GRONDBOONSAAD aankoop

  • Is die maatskappy waarby die produsent saad aankoop geregistreer by SANSOR?
  • Besit die maatskappy oor die nodige kennis om suiwer saad van hoë kwaliteit te verbou?
  • Hoe lyk die saad fisies wat aangebied word vir aankoop? Let op vir saadhuid-beskadiging.
  • Sal jy die saad eet (Foto 2)?
  • Is daar gevlekte of selfs sade wat moontlik siek lyk in die besending saad (Foto 3)?
  • Hoe word die saadsakke hanteer en wat was die omstandighede waaronder die saad gestoor is voor verkope?
  • Stem die kiemingspersentasie wat aangedui is op die sakke ooreen met die kiemingsertifikaat van die saadlot?

Dit is noodsaaklik dat die produsent seker maak dat die kultivar wat hy wil aanplant, geskik is vir ‘n spesifieke omgewing. Indien die nodige inligting nie bestaan nie, sal dit ‘n goeie idee wees om kultivars op die proef te stel deur klein aanplantings van die kultivars te maak om waarnemings te doen oor die geskiktheid van die kultivars in die gespesifiseerde gebied.

Die goue reël in hierdie geval is om matigheid voor oë te hou. Moenie oorhaastig besluite neem deur te groot te wil begin met grondboonaanplantings nie. Indien jy reeds ‘n gesoute grondboonprodusent is, sal daar reeds die nodige wisselboustelsels in plek wees om kwaliteit grondboonoeste te produseer.

Vir die beginner-grondboonprodusent is dit raadsaam om aanvanglik nie meer as 50 ha grondbone te plant nie. Leer eers die gewas en kultivars ken, voordat daar groot aanplantings gewaag word. Beplanning en kommunikasie is die sleutelwoorde by saadaankope. Maak seker dat SANSOR gesertifiseerde saad aangekoop word om sodoende jouself en die maatskappy baie hartseer te spaar.

Indien verdere inligting hieroor benodig word, kan jy vir Loureine Muller by 018 299 6100 of SalomonL@arc.agric.za kontak.

Publication: August 2016

Section: On farm level