September 2018

Met vol gepakte tasse en ‘n stywe skedule het die beoordelingspaneel in Julie vir die jaarlikse besoeke aan die Graanprodusent van die Jaar-finaliste vertrek. Ons stel met trots hierdie jaar se uitnemende graanprodusente aan ons lesers voor – afkomstig van Swellendam in die Wes-Kaap, Ladybrand in die Vrystaat en Middelburg in die Oos-Kaap.

Die bekendmaking van die wenner van dié titel vind op 12 Oktober vanjaar in Midrand plaas. Die kompetisie is reeds in sy 19de jaar en is ‘n ongelooflike vertoonvenster vir die uitmuntende graanprodusente van Suid-Afrika.

Tydens die beoordelingsproses word die produsente deur ‘n kundige paneel van beoordelaars besoek, wat onder meer ‘n agronoom, ‘n landbou-ekonoom en ‘n grondkundige insluit, asook graanprodusente wat op Graan SA se Hoofbestuur dien.

Alhoewel die finaliste diversifiseer, word klem gelê op effektiewe en doeltreffende verbouing van graan en word die primêre beoordeling uitsluitlik op graanproduksie gedoen. Produsente se doeltreffendheid en effektiwiteit word gemeet aan verskeie kriteria, wat onder meer agronomie, hulpbron-, finansiële- en bemarkingsbestuur insluit. In ooreenstemming met Graan SA se strategiese doelwitte, is produsente se betrokkenheid in die gemeenskap en beleidsomgewing ook belangrik. Verder word produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur ook geëvalueer.

Dit is vir Graan SA uiters belangrik om aan graanprodusente erkenning vir uitnemendheid te gee. Suid-Afrika het goeie produsente wat kán, maar – belangriker vir die organisasie – is om die beeld van die graanprodusent na buite op te bou; om die beeld van landbou en produsente, maar spesifiek die standaard van graanproduksie plaaslik, te beklemtoon.

Die breër publiek is onbewus van wat dit vereis om ‘n suksesvolle produsent te wees – van wat ingesit word, waar produsente vandaan kom, waarmee hul begin het, en op watter gesofistikeerde wyse graanproduksie aangepak word. Dié toekenning dien ook as inspirasie vir die jonger geslag produsente – en ons vertel stories wat inspireer, die standaard stel en beklemtoon dat die sukses van nou eintlik in niemand se skoot geval het nie.

Dit is, om die minste te sê, aangrypende stories. Geniet die uitstappie na ons 2018-finaliste en hou gerus die November-uitgawe van die tydskrif dop vir ‘n blik op die galatoekenningsaand vol swier en prag.

Publication: September 2018

Section: Grain SA