Fertasa besin oor impak van COVID

Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA
Gepubliseer: 2 Augustus 2022

529

Op 13 April 2022 het Fertasa (Fertilizer Association of Southern Africa) hul jaarlikse kongres aanlyn gehou. Dr Pieter Haumann, voorsitter en hoof- uit­voerende beampte (HUB), het die kongres hartlik verwelkom met ’n paar woorde van dank vir almal se by­woning.

Die tema van die kongres was “Lesse geleer uit die COVID-19­pandemie”. Die sprekers by hierdie kongres was van hoë gehalte.­ Dr Johan Purchase, voormalige HUB van Agbiz, het gepraat oor agribesigheid in die VUCA-wêreld en die bou van vennootskappe vir volhoubaarheid.

Theo Boshoff, Agbiz se nuwe HUB, het oor regulatoriese lesse geleer uit COVID-19 en nuwe inisiatiewe vir 2022 gesels. Dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA het op sy beurt gepraat oor gewasproduksielesse en -uitdagings.

Henk le Roux (uittredende voorsitter) het die jaarverslag tydens die kongres voorgehou.

Theo Venter, politieke analis, het die onderwerp van politiek deur die perspektief van ’n pandemie, aangeraak. Henk le Roux (uit­tredende voorsitter) het Fertasa se jaarlikse verslag aan die kongres voorgehou. Hier volg ’n paar hoogtepunte uit dié verslag:

Le Roux het die voorlegging begin deur ’n oorsig te gee oor hoe Fertasa 2021 ervaar het. Volgens hom was die sêding “adapt or die” besonder van toepassing op die jaar. “Die landbousektor het goed presteer in hierdie tydperk, maar hoë kommoditeitspryse het gelei tot hoë voedselinflasie,” het hy bygevoeg.

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in die tweede kwartaal van 2020 met 51% gedaal, maar in kontras het die landbousektor met 15,1% gestyg. Dit maak landbou die enigste sektor wat in die tweede kwartaal gegroei het. Teen die vierde kwartaal het die situasie effens verbeter met minstens vyf sektore wat gegroei het, maar landbou was steeds ’n uitblinker met ’n groeipersentasie van 12,2%. Die naaste kompe­teerder was die handelsektor met 2,9%. In 2021 was landbou die sektor wat die tweede meeste gegroei het met 8,3%.

Die internasionale kunsmisprysbewegings is ook genoem in hierdie voorlegging. Volgens Le Roux het pryse sedert 2007 (uitsluitend die 2008/2009- finansiële krisis) ’n afwaartse tendens getoon tot in laat 2020. In randterme lyk die situasie egter anders. Tussen 2007 en 2021 het ammoniak met 427% gestyg, kaliumchloried met 327%, DAP met 220% en ureum met 197%. Die rand het in hierdie tydperk met 105% verswak.

Tom Mason is verkies as voorsitter en Mark Hawksworth as visevoorsitter.

Ander hoogtepunte:

  • Fertasa-lidmaatskap het tussen 2020 en 2021 met 47% gestyg nadat dit die vorige ses jaar relatief min verander het.
  • Bywoning van die kunsmisadviseurkursus het met 104% en 20% onderskeidelik gegroei in 2019/2020 en 2020/2021.
  • ’n Nuwe kunsmiswet behoort in 2022 in die Staatskoerant te verskyn.
  • Kunsmisregistrasie: Alhoewel registrasie steeds ’n probleem bly vir groep 3-kunsmis, is 100 produkte al geregistreer.
  • Strategiese Landbou-insetforum: Hierdie entiteit is gestig om die registrasieproses van kunsmis te bespoedig.
  • Kunsmisregulasies: Fertasa het heelwat veranderings aan die 2017-regulasies voorgestel.
  • Groep 3-riglyne: Hersiene riglyne is aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) gestuur en daar word tans gewag vir aanvaarding.
  • Bemestingshandleiding: ’n Elektroniese weergawe is bekend­gestel.
  • Kunsmiskwaliteitmonitering: Nog ’n ronde kunsmiskwaliteitmonitering is in 2021 afgehandel met ondersteuning van Fertasa, Graan SA, die Sasol-landboutrust en DALRRD.
  • Fertasa-webblad en -nuusbrief: Die webblad by steeds hoogs funksioneel; alle ou publikasies is geakkommodeer en word gebruik vir effektiewe kommunikasie. ’n Kwartaallikse nuusbrief hou lede op hoogte van sake.
  • Publikasies in SA Graan/Grain-tydskrif: Twaalf artikels wat handel oor grondsuurheid is vanaf 2020 tot 2022 in SA Graan/Grain gepubliseer.
  • Graan SA-samewerking: Fertasa en Graan SA het ’n komitee wat jaarliks voor die someraanplantingseisoen begin, vergader.
  • IFA (Internasionale Kunsmisassosiasie): Lidmaatskap is behou deur die Afrika-forum.
  • ADASA (Agro Dealers Association of South Africa): Fertasa ondersteun landbouprodukverteenwoordigers wat aan klein produsente verkoop en ondersteun word deur AFAP (African Fertiliser and Agribusiness Partnership).
  • ’n Strategiese beplanningsessie met direkteure het verskeie mikpunte geïdentifiseer.

Volgens die voorlegging is die direkteure en bestuur gelukkig met die aktiwiteite deur Fertasa aangepak.

Ter afsluiting het Le Roux sy amptelike vaarwelboodskap aan die organisasie gerig. Hy het die direkteure, bestuur en lede van Fertasa bedank vir wonderlike jare saam met die organisasie.