April 2015

image

image

Beste Grootneef

Ek en Buurman het vroeër vandeesweek oor die draad staan en kuier. Dis droog man, die veld is sommer vaal. Buurman vertel toe dat die ou NAMPO-gebou in Bothaville uiteindelik verkoop is.

Daardie middag moes ek gou-gou dorp toe. Daar gekom, besluit ek om vinnig ‘n draaitjie deur die ou gebou te stap, net so vir oulaas.

Die leë gange was nogal aardig. Die voetval van ‘n menigte besoekers nou stil. In een van die ou kantore het ek vasgesteek en uitgekyk. Buite was dit ‘n perfekte somersdag met ‘n ligte oostewindjie wat die takke en blare roer. ‘n Swerm mossies aan’t raas oor wie onder watter dakbalk intrek.

En toe wonder ek, wie sal onthou van die groot geeste uit vergange se dae, wie op hul tyd die pas in die ou gebou aangegee het? Van die planne wat gemaak is en die brûe wat gebou moes word?

Want wie onthou vandag nog hoe moeilik dit was om ‘n eie mondstuk net vir graanboere staan te maak? Of toe PW die manne ontbied het om te verduidelik hoe nóú met die oes! Of dat oud-president Mandela, Trevor Manuel en Terror Lekota een Sondagoggend in ’93, toe almal in die kerk was, kom kuier het om meer van die graanboere te leer? Dit was nog vóór die verkiesing in ’94, waarna dit mode geraak het om ‘n kiekie met die nuwe staatspresident te neem…

En wie onthou nog die TV-kanaal met weeklikse uitsendings oor die mark en met Sakkie Nigrini se weervoorspellings! Vandag het elke huis ‘n PVR met ‘n duisend programme om na te kyk, maar om in toeka se dae ‘n eie TV-kanaal net vir lede staan te maak, was nie net vir val uit die boom nie. Wie was daardie mooi aanbieder nou weer?

En dalk het almal al vergeet hoe moeilik dit was om al die planne vir ‘n vrye mark binne twaalf maande in plek te kry, toe die nuwe goewerment besluit het om landbou te dereguleer en die Rade toe te maak! En wie onthou nog ons eie Makelaarsdiens? Net so om al die nuwe graanmakelaars se kommissie eerlik te hou!

Nou ja, as jy so deur ‘n ou gebou stap, hoor jy nie net die vloerplanke kraak nie. As jy reg luister, hoor jy ook die stemme van die helde wat help bou het aan die organisasie van vandag. Soos alles in die lewe, gebeur niks vanself nie. Daar was hope moeite agter elke poging, hoe nederig ook al.

Die voorgangers van toeka, het egter ook nie al die kennis van goed en kwaad gehad nie. Oor sekere besluite, raak die gebou net stil. Party planne werk mos en party nie.

Op pad terug plaas toe, dreun ‘n ou groen Cortina by my verby. En jy kan aan die man agter die stuur sien dat hy aan die trek is. Die agtersitplek vol tasse en ‘n rooi wasgoedmandjie vol hangers. En op die voorste sitplek langs hom, ‘n potplant. Aan die handreling teen die dak ‘n paar hemde wat heen en weer wieg met die ritme van die ongelyk teerpad.

Ek dink toe by myself: Dis goed om nou en dan te trek ook. Want dan kan al die goeters wat nie meer inpas nie, agtergelaat word.

Groete op die Oosgrens. En groete aan Neef Giel.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: April 2015

Section: Features