Bestuur jou waterkwaliteit met byvoegmiddels

Gerrit Jansen van Vuuren, Rolfes Agri
Gepubliseer: 8 September 20220

91

Glifosaat bly steeds die onkruiddoder wat wêreldwyd die meeste gebruik word. Baie produsente en landbouchemiese handelaars is bewus dat glifosaat se werking grootliks deur waterkwaliteit beïnvloed word.

Ongelukkig bestaan daar steeds wanbegrippe by beide produsente en landbouchemiese verskaffers rakende die effek van sekere waterkwaliteiteienskappe asook die gebruik van byvoegmiddels om dit te bestuur. Dit is goed om altyd net weer hierdie eienskappe en hulpmiddels te bespreek.

Opgeloste soute in die water
Produsente weet oor die algemeen dat glifosaat se werking deur opgeloste soute benadeel word, veral natrium-, kalsium- en magnesiumsoute. Daar bestaan verskeie byvoegmiddels wat hierdie probleem baie effektief regstel, waarvan ammoniumsulfaatbevattende byvoegmiddels sekerlik die bekendste is. Hoewel daar ook ander produkte soos sekere cheleermiddels gebruik kan word, bly ammoniumsulfaat steeds die wenner wanneer effektiwiteit en prys oorweeg word.

Sommige produsente wat gelukkig is met water van goeie kwaliteit op hul plase, mag redeneer dat hulle nie ammoniumsulfaat hoef te gebruik nie. Hoewel miskien tegnies korrek, is daar steeds voordele aan die byvoeging van ammoniumsulfaat verbonde:

  1. Met die byvoeging van ammoniumsulfaat bind die positief gelaaide ammoniumkomponent aan die negatief gelaaide glifosaatmolekuul, terwyl die negatief gelaaide sulfaatkomponent aan positiewelading-soute of -metale bind. Dit is belangrik om te verstaan dat die ammoniumglifosaat-molekuul baie meer effektief deur die onkruid opgeneem word as die glifosaatmolekuul op sy eie. Ammoniumsulfaat verbeter dus die opname van die glifosaat deur die onkruid, selfs met water van “goeie” kwaliteit.
  2. Tenkmengsels van glifosaat plus hormoonaksie-onkruiddoders: Daar word algemeen tenkmengsels gemaak met glifosaat plus byvoorbeeld MCPA (veral die kaliumsoutformulasies) of 2,4-D-amienonkruiddoders. Daar bestaan in baie gevalle ’n mate van antagonisme tussen hierdie produkte in ’n tenkmengsel, wat veral sigbaar is as ’n fyn, wit melkerigheid in die water. Ammoniumsulfaat speel ’n groot rol om verenigbaarheid tussen glifo­saat en die hormoononkruiddoder te bevorder en is ’n moet vir sodanige tenkmengsels.
  3. Sekere onkruide, soos veral withondebossie (Chenopodium album), besit sogenaamde kalkkliertjies op die epidermis van die blare wat met ’n vergrootglas duidelik as wit kolletjies op die blaaroppervlak sigbaar is. Ongelukkig benadeel hierdie strukture die glifosaat se opname net soos wat kalsiumsoute in die water sou doen. Ammoniumsulfaat speel ook hier ’n rol om effektiwiteit te verbeter.

Waarskuwing
Baie produsente gebruik kunsmisgraad-ammoniumsulfaat vir hul glifosaatmengsels as gevolg van die prysvoordeel. Let daarop dat hierdie produkte onsuiwerhede kan bevat wat die werking van die glifosaat kan benadeel. Waar die mengsel oor ’n GM-gewas gespuit word, kan die gewas self benadeel word. Gebruik eerder altyd doelontwerpte geregistreerde ammoniumsulfaatbyvoegmiddels wat van ammoniumsulfaat van ’n suiwer graad vervaardig word.

Water-pH
Hier bestaan steeds onkunde en wanpersepsies. Die volgende stelling word gereeld as waarheid aangebied:

“Hoe hoër die water-pH, hoe meer soute is in die water teenwoordig.” Daar word gereeld verkeerdelik aanbeveel dat die water versuur word om die soute te neutraliseer. Daar moet onderskei word tussen opgeloste soute versus water se pH. Hoewel dit soms wel gebeur dat water met ’n hoër pH ook oor hoër soutkonsentrasies beskik, is daar baie gevalle waar die water ’n gemiddelde pH het (<8,0), maar hoë soutkonsentrasies of omgekeerd (’n hoë pH, maar lae opgeloste soutkonsentrasies).

Die praktyk om glifosaatmengsels te versuur kan ook ’n pro­bleem skep by tenkmengsels van glifosaat plus hormoonaksie-onkruiddoder, byvoorbeeld MCPA. Let daarop dat die byvoeging van versurende byvoegmiddels kan veroorsaak dat die hormoononkruiddoder uit die oplossing kan neerslaan, veral wanneer teen laer watervolumes gespuit word. Dit is nie nodig om die water na suur vlakke af te bring nie – daar is genoeg literatuur wat bewys dat effektiewe beheer met glifosaat teen byvoorbeeld pH-vlakke van 8 verkry word, solank daar nie opgeloste soute is wat die glifosaat bind nie.

Elektriese geleidingsvermoë (EC)
Gebruik eerder EC as ’n indikator van soute in die water as pH. Indien daar nie ’n gedetailleerde wateranalise beskikbaar is nie, maar die EC van die water kan gemeet word, sal dit ’n meer betroubare aanduiding van die opgeloste soutkonsentrasies wees as pH. (Daar is ’n meer direkte korrelasie tussen soutkonsentrasie en elektriese geleidingsvermoë van die water.) Wanneer ’n EC-waarde van 100 mS/m (= 1 mS/cm – let op of die eenheid mS/m of mS/cm is) oorskry word, is dit ’n aanduiding dat daar ongewensde vlakke van opgeloste soute in die water is en word ’n ammoniumsulfaatbevattende byvoegmiddel beslis aanbeveel.

Gebruik van benatters in glifosaattenkmengsels
Die gebruik van kwaliteitbenattingsmiddels in glifosaatformulasies speel ’n bepalende rol in die verskil tussen ’n goeie versus ’n minder goeie glifosaatonkruiddoder. Wanneer toestande marginaal is vir onkruidbeheer (byvoorbeeld groter onkruidplante verby die aanbevole groeistadia of onkruide wat in die droë, warm vroeë somer gegroei het, maar steeds klein vertoon), kan daar gerus addisionele benatterbyvoegmiddels by die tenkmengsel gevoeg word om opname van die aktiewe bestanddeel deur die onkruid te verbeter.

Verseker effektiewe onkruidbeheer met glifosaatmengsels deur jou waterkwaliteit te ken en die werking van byvoegmiddels te verstaan.