February 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die jaar het afgeskop en is volstoom aan die gang. Ons spanne is besig met streeksvergaderings in die veld om inligting te deel en die gemoedstemming op grondvlak te bepaal voor ons Kongres 2015 aanpak.

Dit bly maar altyd vir my ‘n lekker ervaring om saam met al die produsente te dink oor die toekoms en dít waarmee Graan SA besig moet bly. Ons staan nou die aand by Lekkerrus in Limpopo om die vure ná die vergadering en praat oor die gaping tussen die dinge waarmee elke produsent daagliks besig is op die plaas en die dinge wat oor my tafel gaan. “Ja, Graan SA kommunikeer beter as in die verlede, maar die gaping bly steeds daar,” was een van die opmerkings.

Mnr Willem Groothof (Graan SA-hoofbestuurslid) verduidelik aan die manne wat hy beleef het toe hy die eerste paar Hoofbestuursvergaderings bygewoon het en die gaping wat hy moes oorbrug vanaf plaasvlak na nasionale sake.

Ons het ook oor die weer gepraat en dit was wonderlik toe ons ete op die ou end deur ‘n heerlike bui reën onderbreek is en ons lekker in die reën teruggery het Pretoria toe. Die mark (en die produsente) raak elke dag al hoe meer senuagtig as daar nie reën vir die Noorde voorspel word nie. Ons bly maar so afhanklik van ons God om te voorsien.

Die menigte in ons land wat bykans net ‘n van-die-hand-tot-die-mond-bestaan voer, is soms so totaal onbewus van die mini-krisisse wat elke dag op die plaas afspeel om kos vir die nasie te voorsien.

Olieprysdalings hou goeie vooruitsigte in vir sekere insette, maar kan nogal die internasionale mark befoeter as die voorrade bly styg. Dít ten spyt, bly die vraag na graan steeds styg en gee dit ons steeds moed.

Daar is heelwat onweerswolke in die lug oor die Graan SA se Graanprodusentontwikkelingsprogram en ons leiers sal binnekort groot besluite oor die toekoms daarvan moet neem. Die nuwe trustees wat die minister op die graantrusts aangestel het, is nie meer produsente of wetenskaplikes nie, maar wel politikusse. Hulle bring nuwe sienings en prioriteite en beskik in sommige opsigte oor min ervaring van die graanbedryf. Baie van die huidige projekte word opnuut besoek en baie vrae word gevra. Dit op sigself is nie ‘n probleem nie, maar die vrye mark het nie baie aptyt vir inmengerigheid nie. Dit is dinge waarmee ons baie omsigtig moet omgaan.

Daar is ook groot opgewondenheid oor die hand wat die adjunkminister van Landbou (generaal Bheki Cele) na georganiseerde landbou uitsteek. Teen die einde van Januarie vanjaar, sou al die bedrywe kans gehad het om hulle vreugdes en uitdagings met die ministerie te kon deel en saam na oplossings te soek.

Ek is ook opgewonde oor die nuwe verwikkelinge en brawe besluite wat in die koringbedryf geneem word. Ek hou dit natuurlik met besonderse belangstelling dop, aangesien ek ‘n groot hand in die ontwikkeling van die huidige bestel gehad het toe ek nog aan die ander kant van die draad was. Soos toe, het ek nou baie min vriende aan die ander kant van die draad…Wat my egter bemoedig, is dat die bedryf saam besluit het dat dit tyd is vir drastiese veranderinge.

Ek probeer elke jaar by ander streke ‘n draai maak, sodat ek darem so oor tyd oral in die land by ons lede kan uitkom. Hoop ek sien jou iewers by een van die streeksvergaderings of by Kongres.

Publication: February 2015

Section: Features