Sojaboonbedryf hou beplanningsessie

Marleen Smith, SA Graan/Grain medewerker

187

Suid-Afrikaanse produsente het hulself die afgelope dekade uitstekend in die verbouing van sojabone begin kwyt. Dit het onder meer ’n onmisbare wisselbougewas in baie saaiboerderye geword, produksie het die afgelope vyf jaar verdubbel en die plaaslike aanbod is basies genoeg om in die binnelandse vraag te voldoen. Maar steeds word oliekoek op groot skaal ingevoer.

“Die sojaboonbedryf het gróót potensiaal om produsente te help om finansieel te oorleef, om die ekonomie ’n hupstoot te gee en om werksgeleenthede te skep,” sê mnr Jozeph du Plessis, sedert November verlede jaar die voorsitter van die Forum vir Sonneblom en Sojabone en hoofbestuurslid van Graan SA.

Jozeph, wat by Schweizer-Reneke in die Noordwes Provinsie boer, sê sojabone het byvoorbeeld vanjaar talle saaiprodusente, veral in die weste, van ondergang weens die voortslepende droogte gered.

Verwerkingsaanlegte in die westelike somersaaigebied, plaaslike kopers wat die onderneming gee om net plaaslik te koop en die vestiging van uitvoermarkte vir jare van oorskot, is volgens hom die drie kernkwessies. Een groot bottelnek, meen hy, is dat sojabone uit die westelike somersaaigebied, waar daar tans die vinnigste produksie-uitbreiding is, vir verwerking na aanlegte oos vervoer moet word.

In ’n beplanningsessie wat dié forum en die Proteïen-navorsingstigting georganiseer het, is bespreek watter stelsels in plek moet kom om die saak in balans te bring. In die sessie is daarop gewys dat die bedryf se handelsbalans die afgelope vyf jaar uitstekend in Suid-Afrika se guns verbeter het en dat betekenisvol minder oliekoek oor dié tyd ingevoer is. Nogtans is daar op die oomblik ’n groot voorraad beskikbaar en oliekoek word steeds ingevoer, lui ’n verklaring oor die vergadering.

Verskeie sleutelbelanghebbendes het die vergadering bygewoon. Dit sluit in oliesaadverwerkers, die nasionale veevoer­vervaardigingsvereniging AFMA, die verhandelaarsvereniging SACOTA, Graan SA, die Proteïen-navorsingstigting, die Departement van Handel en Nywerheid en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Kyk na die hele waardeketting
Mnr De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van AFMA, het benadruk dat die sojaboonbedryf ’n hoeksteen vir verskeie ander bedrywe is: “Dit het tyd geraak om ’n algehele waardekettingplan saam te stel sodat bykomende waarde vir ons eindverbruikers geskep kan word.”

Almal het saamgestem dat daar oorgenoeg groeigeleenthede is. Dit is weer eens bevestig dat verwerkingskapasiteit plaaslik 2,1 miljoen ton is. Teen ’n vlak van 80%-benutting beteken dit 1,68 miljoen ton perskapasiteit. Vir volvetverwerking staan die plaaslike kapasiteit op 450 000 ton en 360 000 ton as 80% daarvan verwerk word.

Volgens die jongste amptelike statistieke van die Nasionale Oesskattingskomitee het Suid-Afrika die afgelope seisoen (2018) 1,55 miljoen ton sojabone geproduseer. Daar is ook konsensus dat die reeds bestaande verwerkingskapasiteit voldoende vir die volgende twee tot drie jaar is.

Daar is wel glo steeds groot uitdagings vir persers, soos meganiese probleme wat hul masjiene gedurig laat staan en perskapasiteit ernstig benadeel. Hulle sê plaaslike infrastruktuur is ook ’n groot probleem. Beurtkrag en beperkte toegang tot water veroorsaak aansienlik lang tye wat die verwerkingsaanlegte noodwendig moet stilstaan. Hierby veroorsaak dít groot hoeveelhede vermorsing en verliese, wat regstreeks winsmarges benadeel, net soos in alle ander landboubedrywe.

Verbeterde infrastruktuur is nodig vir ingevoerde oliekoek om heeltemal deur die plaaslike produk verplaas te word, veral in gebiede nader aan die kus. Om oliekoek vanaf Argentinië hierheen te laat verskeep, kos tans sowat $30/ton, terwyl plaaslike vervoer vanaf die gebiede wat sojabone en oliekoek produseer na die Wes-Kaap meer as $55/ton kos. Daar heers wel optimisme dat meer plaaslik-geproduseerde sojabone in die komende seisoen gepers gaan word.

Die Departement van Handel en Nywerheid het aangedui dat daar aanmoediging-finansieringskemas vir meer verwerkingsaanlegte in die weste van die somersaaigebied beskikbaar mag wees omdat die grootste uitbreiding in produksie en groeigeleenthede deesdae daar is. Veevoervervaardigers het bevestig dat hulle daartoe verbind is om oliekoek wat plaaslik vervaardig is, te verbruik en dat hulle meen die binnelandse mark behoort mettertyd selfvoorsienend te kan word.

Gehalte nie meer die probleem nie
Dit is ook herbevestig dat Suid-Afrikaanse sojabone en oliekoek van ’n goeie gehalte is, maar dat betroubare en konstante voorsiening hiermee saam nodig is. ’n Bedryfsnorm sal nou ontwikkel word om oliekoekgehalte in Suid-Afrika te bestuur en te koördineer. Die bedryf gaan dus ondersoek wat die beste praktyke in terme van internasionale standaarde en gehalte is en vasstel in hoeverre die plaaslike bedryf hieraan voldoen.

Dít is baie belangrik om ’n voortgesette en betroubare voorsiening van (plaaslike) sojabone te kan verseker. ’n Groot komponent hiervan is om meer inligting te bekom en gehalte te monitor om die bedryf te help om vinniger te ontwikkel en uitvoermarkte te skep.

Ter wille van groter deursigtigheid word daar ook hard gewerk aan die ontwikkeling van ’n oliekoekkontrak op die Safex-termynmark. Dié behoort kopers en verkopers van oliekoek die geleentheid te gee om hulself te verskans.

Voorts is die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in die proses om vir toegang tot markte soos China aansoek te doen en daar was reeds bilaterale vergaderings. Só ’n proses bly egter tydrowend.