Hou masjinerie so aan die werk

Gepubliseer: 13 April 2023

414
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Graanprodusente ken die gevoel: Die stroper of planter is in die stoor getrek en mooi toegemaak, maar sodra hy uitgetrek word, is daar een of ander nuwe probleem. Of die trekker is besig in die land en ewe skielik is die sein net weg en alles staan. Die tegnikus antwoord nie sy foon nie en die werk kan nie aangaan nie.

CASE IH het in samewerking met Graan SA einde verlede jaar ’n kursus op NAMPO Park aangebied om van die algemeenste probleme wat met masjinerie ondervind word, te hanteer.

Stoor van masjinerie
Dit is uiters belangrik om implemente, stropers, trekkers of masjinerie reg skoon te maak en te stoor. Muise en rotte kan produsente baie skade berokken. Vog is ook een van die sondaars wat probleme veroorsaak. Korrosie in die konneksiepunte weens vog of weens goggas wat in die punte nesmaak, veroorsaak verdere skade. Dit is dus raadsaam om die punte toe te maak of iets te spuit wat goggas afweer. In die toerus­ting of implement se handleiding is daar gewoonlik ’n gedeelte oor hoe dit geberg moet word. Maak seker dat die punte mooi kontak maak voordat die toerus­ting weer gebruik word.

Programmatuur
Toerusting se programmatuur moet net soos dié van ’n selfoon gereeld opgedateer word. Aangesien die meeste masjinerievervaardigers in die Noordelike Halfrond gestasioneer is, vind hierdie opdaterings dikwels binne die plaaslike werktyd plaas. Dit is daarom ’n goeie beleid om voor daar begin word met die dag se werk, seker te maak dat die toerusting se opdate­rings gedoen is. Produsente kan hul handelaars kontak om hiermee te help. Opdaterings kan ook tydens kort breuke in die seisoen gedoen word.

Die globaleposisioneringstelsel (GPS)
Aan die begin van die seisoen wil die GPS soms net nie werk nie. Daar moet eerstens seker gemaak word dat die ontvanger wel sein kry:

  • Kyk veral dat daar nie iets is wat die sein blok nie; dit sluit bome, geboue of dalk ander groter toerusting in.
  • Maak seker dat die ontvanger op die hoogste punt van die toerusting is. ’n Verlenging van die graantenk op die stroper kan dalk veroorsaak dat die GPS nie meer werk nie.
  • Die toerusting moet reg gekoppel wees en die koppelpunte moet mooi kontak maak.
  • Lees die handleidings en hou indikatorliggies op die ontvanger dop.
  • Rooi liggies beteken dat daar nie sein tussen die satelliete en die ontvanger is nie.
  • As die liggie geel is of flikker, is daar iets wat met die sein inmeng.
  • As die liggie groen is, kan die fout tussen die ontvanger en die monitor gesoek word.
  • Hou die bandwydte waarmee data ontvang word en hoe vinnig die kommunikasie tussen die ontvanger en satelliete is, dop.
  • Gaan die vervaldatum van die satellietsubskripsie na en kyk of dit nog geldig is.

Soms is daar foute met die akkuraatheid van die GPS. Die fout kan op baie plekke gevind word, maar begin deur seker te maak van die volgende:

  • Die toerusting moet lank genoeg aan wees om self die satellietsein op te tel.
  • Satelliete se posisionering moet reg wees.
  • Daar is soms fout met die sein wat die ontvanger ontvang.
  • ’n Tweerigtingradio of iets anders kan dalk ’n pro­bleem vir die sein veroorsaak.
  • Die frekwensie van die sein na die ontvanger moet reg inge­stel wees.
  • Die ontvanger moet op die regte plek op die toerusting geplaas wees, en dit moet nog daar wees waar dit opgesit is. Soms stamp iets die ontvanger en dan is hy uit. Die instellings op die toerus­ting beïnvloed natuurlik ook die akkuraatheid. Gebruik die handleiding om hierdie instellings reg te stel en te kontroleer.

Probleme met die planter
Die plantproses kan vele probleme oplewer, soos die planter wat nie op die regte plek begin plant nie:

  • Kyk of die offsets reg ingesleutel en opgestel is. Die sisteem moet weet waar alles in verhouding tot die ontvanger geplaas is, met ander woorde hoe lank die plantersleepbalk is asook die afstand vanaf die ontvanger.
  • Maak seker dat die plek waar die implement gehaak is, reg op die rekenaar ingestel is.
  • Kyk ook na die turn-on/turn-off-tyd. Hierdie tyd kan dalk bietjie verander word.

As die rye met seksiebeheer en rybeheer nie reg afskakel by die wenakkers van die lande nie, kan daar verskeie oorsake wees.

  • Kyk of die inligting tussen die verskillende monitors reg deurvloei.
  • Maak seker dat die inligting van die monitor na die planter reg deurvloei en dat die plantereenheid die regte sein ontvang.
  • Kyk of die inligting vinnig genoeg van die monitor na die eenhede deurvloei.

Dit is belangrik dat die trekker en die planter voor die tyd saam getoets word om enige probleme vroegtydig uit te skakel – veral as dit nuwe toerusting is. Maak seker dat die koppelings die regte sein deurgee. Gaan ook die elektriese stroomhoeveelheid op die plan­ter na sodat dit ooreenstem met dit wat die trekker lewer. Soms gebeur dit dat die volts deur die harnas afneem en dan te laag is op die kontrolemotors wat die saad en kunsmis moet beheer. Dit veroorsaak dat die saadspasiëring en kunsmistoedieningshoeveelhede nie korrek is nie.

Moontlike stroperprobleme
Die stroper bly ’n uiters belangrike implement wat data moet opneem. Maak dus seker dat dit getoets en reg ingestel is voor die stroopseisoen begin. Dit moet per gewas per kultivar gekalibreer word en die kalibrering moet reg bly. Aangesien produsente dikwels hierdie inligting gebruik om hul volgende beplanning te doen, kan verkeerde inligting ’n probleem bly.

Daar is heelwat dinge wat verkeerd kan loop in die stroopaksie. Let op die volgende punte:

    • Maak seker dat die programmatuur opgedateer is.
    • Maak seker dat die tafelhoogtesensor (header height sensor) reg werk en dat die stroper reg ingestel is om die spesifieke gewas te stroop. Die sensor kan veroorsaak dat die stroper nie weet wanneer om data op te neem nie.
    • As die opbrengs wat gemeet is nie reg vertoon word nie, is daar ’n paar plekke om na die fout te gaan soek:

        • Is die tafel se wydte reg ingesit?
        • Is die spoed waarteen die stroper stroop korrek?
    • Die probleem kan ook by die graanvloeimonitor wees.

        • As dit ’n impaksensormoniteringsisteem is, maak seker dat die plaatjie waarteen die graan val reg en skoon is – as hierdie plaatjie vibreer, is die opbrengs uit.
        • In die geval van ’n optiese-opbrengsmoniteringsisteem moet seker gemaak word dat die ogie skoon en vas is en dat die afstand tussen die sensorplaat en die spane reg gestel is. Raadpleeg die handleiding vir die regte afstande. Gaan ook die graanhyserspoedsensor (grain elevator speed sensor) na en maak skoon.
  • Maak verder seker dat die soortlike gewig van die gewas wat gestroop word, reg ingesleutel is.

Hierdie is maar net ’n paar probleme wat algemeen voorkom.

’n Ander probleem wat dikwels opduik, is dat die landnommers en landname tussen byvoorbeeld die trekker en die stroper verskil. Dan kan die stroper of trekker nie die landkaart vind nie. Dit is be­langrik om hierdie data op een sentrale plek reg te maak en dat dit dan elektronies na die verskillende masjiene oorgedra word.

Maak ook seker dat die data reg gestoor word. Pasop om dit net op een plek te stoor, dit moet gerugsteun word. Produsente moet onthou dat hierdie data uiters belangrik is. Dit help nie die boerdery beskik oor toerusting wat alles kan meet en bymekaarmaak, maar die produsent verwerk en gebruik nie die data nie.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.