Gerat vir die nuwe seisoen

Gepubliseer: 22 Februarie 2022

805

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Soos tye en behoeftes verander, is dit van tyd tot tyd nodig om aanpassings binne organisasies en besighede te maak om te verseker die fokus is reg en dat die spanne voldoende toegerus is om uitvoering aan die strategie te gee.

Ons het die afgelope paar maande dikwels gepraat oor die nuwe seisoen en die hooffokus om Graan SA strategies te herbevestig om die langtermynwins­gewendheid en volhoubaarheid van die graanprodusent te bevorder! Dit is vir die Graan SA-leierskap uiters belangrik om te luister en sodoende beter te verstaan wat kommersiële produsente en opkomende graanboere se behoeftes is. Ons weet behoeftes verskil, maar oorkoepelend is dit dieselfde drywers wat groot en kleiner boere se winsgewendheid raak.

Strategies fokus Graan SA op ses hoofafdelings om te verseker dat ons kan aanhou om ons doelstellings te bereik. Die span is opgestel met ’n kernleier vir elke afdeling. My regterhand in die kantoor – sonder wie ons nie sal kan werk nie – is Susari Teubes. Sy help om alles professioneel en tydig te organiseer en te reël.

Eerstens is enige organisasie net so goed soos sy mense. My antwoord op ’n vraag die afgelope week oor wat my gevoel is rakende die standaard van die Graan SA-span, was maklik en sonder twyfel: “Bo standaard en ongelooflik toegewyd!” Om dié rede glo ek dit is baie belangrik om na die welstand en ontwikkeling van die span om te sien. Hier neem Coretha Usher die leiding met die doel om ’n volledige en weldeurdagte ontwikkelingsplan saam te stel sodat individue persoonlike groei en ontwikkelingsgeleenthede gegun word.

Tweedens is die finansies van Graan SA vanselfsprekend vir ons van kardinale belang. As niewinsgewende organisasie moet ons op ’n besonder verantwoordelike wyse hiermee handel. Christa Herbst neem hier die leiding.

Gekoppel hieraan, maar ook gesien in die lig van die omstandighede waarin ons as produsente-organisasie moet funksioneer, besef ons derdens dat fidusiêre verantwoordelikhede al hoe belangriker gaan word in die toekoms. Ons is uiters bevoorreg om die kundigheid en institusionele geheue van Nico Vermaak te kan aanwend om dié afdeling (die Maatskappysekretariaat) in Graan SA te vestig en verder uit te bou.

Getrou aan ons hooffokus op winsgewendheid, het ons vir Corné Louw om die vierde afdeling, naamlik Toegepaste Ekonomie en Lededienste, te lei. Hierdie span landbou-ekonome fokus daarop om relevante tendense en verwikkelinge deurlopend te monitor om onafhanklike inligting tydig op verskeie maniere aan graanprodusente beskikbaar te stel.

In die vyfde plek lei die veelsydige dr Dirk Strydom ’n uiteenlopende span Graan SA-bemarkers, navorsers asook die NAMPO-spanne.

Dr Sandile Ngcamphalala staan aan die hoof van Ontwikkelingsboerdery by Graan SA, die sesde afdeling. Dié welbekende ontwikkelingsprogram wat in 2004 begin is, ondersteun nuwe toetre­ders tot die primêre graanproduksiebedryf deur die koördinering van ontwikkelingsbefondsing en mentorskap. Die afdeling is juis begin omdat Graan SA lank reeds die visie het om transformasie in die bedryf op ’n gekoördineerde wyse te ondersteun – en om befondsers se beleggings en skenkings opreg, eerlik en met uiterste verantwoor­delikheid optimaal te bestuur.

In opvolgende artikels in SA Graan/Grain gaan elke afdeling se hoof lesers meer vertel oor die betrokke span se fokus en kundigheid om ons gesamentlike doelwitte te bereik. Die doel hiermee is om meer inligting te verskaf sodat bestaande en potensiële nuwe lede beter kan verstaan wat elke afdeling daagliks doen en waarom die nodige kapasi­teit en kundigheid by Graan SA onontbeerlik is. Van die vrae wat beantwoord gaan word, is byvoorbeeld hoekom Graan SA soveel landbou-ekonome in diens het en waarom daar navorsingkundigheid in die organisasie moet wees.

Dit is vir my belangrik om van produsente te hoor en daarom maak ons ’n punt daarvan om by julle op die platteland uit te kom om te sien en te luister, maar ook te vertel van ons suksesse en uitdagings. Baie dankie aan elke produsent wat so betrokke is en getrou die vrywillige heffings betaal. Julle maak ons hande sterk en dra die graanprodusente van die land!

Ek hoor graag van julle. Groete en geniet die boerdery!