November 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek het ‘n klompie jare gelede ‘n boek gelees oor leierskapstyle in tye van verandering. Die skrywer (Alan Roxburgh: Crossing the bridge) het baie moeite gedoen om te verduidelik wanneer die samelewing verandering beleef en wat nodig is, vir jou as leier, om onder sulke omstandighede te doen.

Sy beskrywing van verandering was: Verandering vind plaas wanneer daar vaste oortuigings is wat begin verdwyn of wanneer daar twyfel daaroor ontstaan. Suid-Afrika is tans op só ‘n plek. Ons is nie seker of ‘n lig gaan aangaan as jy dit aanskakel nie en baie dorpe en stede is selfs nie meer seker van die water in hul krane nie.

As grondeienaars is ons nie meer so seker of ons dit gaan behou of nie. Die kerk neem besluite wat indruis teen ons diepgewortelde geloof en die droogte en weervoorspellings van nog droogtes, kom staan vierkantig voor ons as graanprodusente se geloof. Wat staan ons te doen as elke weervoorspeller, en selfs nou ook politici, sommer drie jaar se droogte kom voorspel? Dit daag ons diepgewortelde geloof uit!

Die droogte van 2015 los diep letsels in ons graangemeenskap. In die noordweste van die land is dit nie so ongekend nie, maar die Swartland beleef sulke erge droogtes beslis minder gereeld. Die koring wat op die lande staan en selfs nog op party plekke groen voorkom, is leeg binne. (Dit klink vir my nogal soos mense wat poste vul, maar nie diens lewer nie…) Leë are kan nie salarisse of paaiemente betaal of diesel koop nie.

Ons kan die beste landboupraktyke toepas, maar plante kan nie sonder water klaarkom nie. Ons harte gaan uit na julle wat die droogte nie op ‘n televisieskerm volg nie, maar op die lande. Ons weet dit is net julle wat die toestande op die lande moet omsit in rand en sent, wat regtig die impak daarvan verstaan.

Daar is of was nog altyd ‘n diepgaande gesonde verhouding tussen Graan SA en die verskillende graantrusts. Die produsente was immers daar toe dit gestig is, maar dit is aan die verander. Nuwe trustees met ander sienings en beperkte kennis oor waar die geld vandaan kom en vir watter doel dit geskep is, maak dit al hoe moeiliker.

Ons het verlede jaar in ons jaarverslag al iets van die ou bestaande verhoudinge wat aan die verander is, probeer deurgee. Die goeie nuus is dat die oue altyd plek maak vir die nuwe. Ons sal binnekort verder hieroor terugvoer gee. My saak handel egter vandag oor wat ons te doen staan rakende die diepste oortuigings wat aan die verander is en wat die taak van ‘n leier in sulke gevalle is.

Roxburgh se raad is dat ‘n mens baie mooi moet gaan delf om die diepe waarhede waarin ons steeds vas glo en waaraan ‘n mens kan vashou, uit te grawe. Dit is waaraan ons mekaar moet bly herinner. Hy noem onder andere die voorbeeld van Daniël wat in ballingskap steeds by die waarhede gebly het waarin hy vas geglo het, al was alles rondom hom vreemd.

Mense gaan in sulke tye heen en weer oor ‘n brug van die oue en die nuwe. Jou werk as ‘n leier is om op die brug te staan en die verwarde mense rigting te gee met vaste waarhede. Harder werk en vinniger hardloop gaan nie in hierdie fase so goed werk nie. Daar is baie emosies en diverse sieninge van, en optredes rakende dieselfde dinge.

Een ding is egter vir my duidelik en dit is dat die graanbedryf ‘n nuwe raamwerk en veld vir die toekoms sal moet uitteken en dat ons met ons bestaande vennote in ‘n nuwe verhouding moet tree, om selfs meer onafhanklik van die staat en volhoubaar te kan produseer. Dit gaan tyd neem en daar is nie opleiding daarvoor nie. Google Maps het ook nog nie hierdie roetes opgeteken nie. Sterkte!

Publication: November 2015

Section: Features