October 2017

Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker en dr ELBÉ Hugo, onkruidwetenskaplike, Syngenta

Onkruide en die ondoeltreffende beheer daarvan kan ‘n beduidende uitwerking op gewasopbrengste hê. Om die ekonomiese verliese wat gepaardgaan met hoë on­kruiddruk en/of swak beheer te kwantifiseer, is egter nie so maklik nie.

Die effek van hoë onkruidinfestasie en/of swak beheer word dik­wels onderskat. Gewasverbouing – veral in Suid-Afrika onder droëlandtoestande – hou vele uitdagings en risiko’s in wat bestuur moet word en waarvan onkruidbeheer en gewasversorging ‘n wesenlike deel uitmaak.

Meeste onkruidspesies is sterk kompeteerders en die belangrikste faktore waarvoor die gewas moet kompeteer, is vog en voe­dingstowwe. As gevolg van lae reënval en die swak verspreiding daarvan in ‘n groeiseisoen, kan die swak beheer van onkruide die ekonomiese impak op die gewasse dramaties verhoog.

Die verwantskap tussen onkruidgetalle en opbrengsverliese is nie ‘n eenvoudige liniêre verwantskap nie. Klein of min onkruide aan die begin van die seisoen sal nie ‘n sigbare effek op die gewas hê nie, omdat daar dan nog genoeg vog en voedingstowwe in die grond is.

Kritiese periode van beheer
‘n Kritiese periode van beheer is die punt waar onkruidgetalle ‘n betekenisvolle effek gaan hê. Wat die interaksie tussen onkruide
en die gewas nog verder kompliseer, is die feit dat nie elke onkruidspesie en/of gewas dieselfde kritiese periode van beheer
het nie.

Die mees kritiese tyd vir onkruidbeheer in mielies is tussen die vier- en tienblaarstadium. Tydens hierdie stadium van die plant se lewensiklus moet die kompetisie met onkruide minimaal wees, aangesien mielieplante in die vroeë groeistadium swak kompeteerders is.

By sojabone is die kritiese onkruidbeheerperiode rondom die drieblaarstadium en moet onkruide beheer word om opbrengsverliese te verhoed. Dit kan van land tot land en van area tot area wissel, wat sterk verband hou met heersende omgewingstoestande.

Produsente moet egter besef dat die kritiese onkruidbeheerperiode en omgewingstoestande in sommige jare maklik hanteerbaar sal wees, maar in ander jare kan ontydige oormatige reën, of die afwesigheid daarvan, die beheer van onkruide ‘n aansienlike uit­daging maak.

Navorsing wat hierdie effek en interaksie onder Suid-Afrikaanse toestande beskryf, is skaars en daar word meestal aangeneem dat opbrengsverliese so hoog soos 43% kan wees wanneer onkruide nie binne die eerste 15 dae na plant beheer word nie – en toeneem tot 77% wanneer onkruide swak binne die eerste 30 dae na plant beheer word.

Al is empiriese waardes nie altyd beskikbaar vir elke onkruidspesie en vir elke gewas nie, is die effektiewe beheer van onkruide vroeg in die seisoen van kardinale belang. Die goue reël bly steeds voorkomende en tydige beheer.

In ‘n jaar soos vanjaar, met lae insetpryse en druk op die winsgewendheid van gewasverbouing, moet produsente besluit waarop gespaar kan word. Soms sal produsente dink om geld op die onkruiddoderprogram te spaar deur óf nie te bespuit nie óf om kort paaie te neem.

Bemesting is ook ‘n inset waarop produsente maklik wil bespaar, maar die vraag is: Watter een van hierdie het die grootste effek op produksie?

Impak van verskillende insette
Die LNR-Graangewasse het ‘n proef aangelê om die impak van die verskillende insette te toets. Dit het bestaan uit ‘n gedeelte waar die beste praktyke toegepas is, bemesting en onkruidbeheer totaal onttrek is en waar daar geen insette ingesit is nie. Die resultate van hierdie proef word in Tabel 1 aangedui. Hieruit is dit duidelik dat onkruidbeheer alleen vir 62% van die van marge ten opsigte van mielies verantwoordelik is – gegewe ‘n spesifieke reënval en plantkoste. Indien die onkruid nie beheer word nie, maar bemesting wel toegedien word, is die winste dramaties laer tot net 39% van die verwagte marge. Dit is bloot omdat die gewasse aan hoofsaaklik vog- en voedingstekorte blootgestel word.

Gegewe hierdie inligting kan die belangrikheid van onkruidbeheer nie genoeg beklemtoon word nie. Produsente moet alles in hul vermoë doen om onkruid so effektief en doeltreffend moontlik te beheer.

Die effek van tydige toediening van onkruiddoders kan ook nie oorbeklemtoon word nie. Uit Tabel 2 kan die effek van tydige onkruidbeheer afgelei word – na aanleiding van ‘n proef wat ook deur die LNR-Graangewasse uitgevoer is.

Gegewe hierdie inligting, maak dit sin om toe te sien dat genoeg spuitkapasiteit beskikbaar is om die onkruiddoder tydig en teen
die regte dosis toe te dien. Doen alles in jou vermoë om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die onkruiddoders te verhoog: Die resultaat sal verseker in jou sak gevoel word.

Winteronkruide
Dit is te verstane dat produsente rand en sent wil sny wanneer kommoditeitspryse laag is en insetkostes net al hoe hoër raak. Waak egter teen die afskaal of afskeep van voorkomende onkruidbeheer en moet nie die effek van winteronkruide onderskat nie.

Die saamstel van ‘n goeddeurdagte en beplande spuitprogram, waar effektiwiteit van beheer en kwaliteit van produkte in ag geneem moet word, word egter ‘n “fyn kuns” vir produsente en agrochemiese maatskappye.

“Kort paaie” en “wondertenkmengsels” moet ten alle koste ver­my word sodat die produsente nie later in die seisoen verras word wanneer laat onkruidinfestasies en onsigbare gewasskade opbrengste negatief kan beïnvloed nie.

‘n Effektiewe spuitprogram moet verkieslik bestaan uit voor-opkomsonkruiddoders, wat ‘n residuele werking in die grond het, opgevolg met na-opkomsonkruiddoders wat tydig toegedien word om laat infestasie of probleemonkruide effektief te beheer.

Waak daarteen om slegs een produk, met ‘n enkele aktiewe bestanddeel, herhaaldelik te gebruik. ‘n Ander slaggat om te vermy, is die verlaging van dosisse – veral waar moeilik-beheerbare onkruide soos byvoorbeeld kweekgras, wandelende Jood en purperwinde voorkom. Maak eerder gebruik van split-toedienings, maar sorg dat genoeg aktiewe bestanddele geplaas word – soos voorgeskryf op die etiket.

Wanneer onkruidbeheer afgeskeep word, of onkruiddoders mis­bruik word, hou dit groot gevaar vir produsente in – wat ‘n verreikende ekonomiese impak kan hê. Gewasskade word jaarliks gerapporteer – en in die meeste gevalle is foutiewe toedieningsmetodes of verkeerde dosisse die oorsaak daarvan.

Benewens gewasskade en opbrengsverliese, is die ontwikkeling van onkruiddoderweerstand ‘n wesenlike probleem. Onkruiddoders moet ten alle tye korrek toegedien word (sien aanbevelings en rig­lyne op elke produketiket). Dosisse moenie te flou of te sterk “aangepas” word nie. Waar moontlik, roteer onkruiddodergroepe en gebruik produkte met verskillende aktiewe bestanddele.

Vir meer inligting, kan Pietman Botha by 082 759 2991 of dr Elbé Hugo by 082 885 0716 gekontak word.

Publication: October 2017

Section: On farm level