Ministers reik uit by Agri SA-kongres

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 10 Desember 2021

1025

“Dit is noodsaaklik dat die nasionale landbou-en-landbouverwerkingsmeesterplan geteikende ondersteuning aan produsente van alle soorte in Suid-Afrika bied. Dit moet ook verseker dat swak ontwikkelde landbougebiede aantreklik word vir openbare en private beleggers ten einde produksie en werkskepping uit te brei.”

Dit was die woorde van Thoko Didiza, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, tydens die pas afgelope Agri SA-kongres met die tema “Oorleef en floreer in die toekoms op die landboumanier”. Sy het ook klem gelê op die noodsaaklikheid daarvan dat geteikende ondersteuning, onder meer deur die privaat sektor, aan produsente van alle tipes en groottes verskaf word.

“Verskillende maatskaplike vennote wat tot die meesterplan bydra, is besig om hul verpligtinge te finaliseer. Dit sal die rolle en bydraes van die regering en die privaat sektor uitdruklik spesifiseer in die implementering van die stappe wat daarop gemik is om die landbousektor op ’n inklusiewe wyse te laat groei,” het sy gesê.

Die minister het ook daarop gewys dat sy bewus is van die frustrasies van bedryfsleiers oor die voortdurende logistieke uitdagings in die binneland en by hawens. Afgesien van die meesterplan wat hierdie kwessies aanraak, is die regering ook besig om saam met belanghebbendes in die logistieke sektor hierdie probleem te takel.

“Ons is bewus daarvan dat om op die bevordering van produksie te fokus sonder doelbewuste fokus op die uitbreiding van uit­voermarkte op die lang termyn, ’n futiele oefening sal wees. Gevolglik het ons handel by die meesterplan ingesluit en my kantoor sal ook nou saamwerk met die Minister van Handel, Nywerheid en Mede­dinging om marktoegang vir ons landbou en voedselprodukte te prioritiseer in groeiende en bevolkte lande,” het sy bygevoeg.

Sy het die leierskap van Agri SA en die breër landbougemeenskap bedank vir die uitstekende samewerking met die regering om die landbousektor te onderhou.

Logistiek
In sy rede het die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, daarop gewys dat die huidige logistieke probleme as ’n struikelblok gesien word in die bydraende rol van landbou tot die bruto binnelandse produk en verdere industrialisasie van die land.

“Transnet oorweeg verskeie opsies om die probleme van binnelandse en hawelogistiek, wat veral probleme vir landbou skep, te verbeter. Vordering is al in dié verband gemaak deur die skep van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid as ’n onafhanklike filiaal van Transnet. Transnet is verder besig om meer openbare-private vennootskappe aan te gaan en oorweging word daaraan geskenk om verskillende sektore van die ekonomie waens te laat besit,” het die minister gesê.

Verandering in denkwyse
Tydens ’n paneelbespreking het die ekonoom Theo Vorster, hoof uitvoerende beampte van Galileo Capital, daarop gewys dat die regering ’n definitiewe verandering in denkwyse ondergaan het deur die erkenning wat daar nou gegee word aan die belangrike rol wat die privaat sektor speel.

Toestemming is by die kongres gegee dat Agri SA na ’n niewinsgewende organisasie omgeskakel mag word. Skandeer die QR-kode vir meer hieroor.

“Ek glo groot moontlikhede bestaan in die regering se uitrei­king na die privaat sektor se betrokkenheid en soeke na vennootskappe. Dit moet glad nie gering geskat word nie. Ons het ’n lang pad gekom die afgelope dekade en ons moet floreer in dié nuwe omgewing. Instansies soos Agri SA moet dus gebruik maak van hierdie geleentheid,” het hy gesê.

Theo het ook verwys na uiters nadelige regeringsbeleidspunte (waaronder die onteiening van grond sonder vergoeding, die be­legging van voorgeskrewe bates in gefaalde staatsentiteite en die nasionalisering van die Reserwebank) wat die afgelope paar jaar na ’n heelwat meer rasionele vlak beweeg het. Dít danksy die betrokkenheid en uitsprake van instansies soos Agri SA en die privaat sektor.

Landbou moet ook ’n verskil maak
Die nuut verkose president van Agri SA en voormalige voorsitter van Graan SA, Jaco Minnaar, het gesê dat alhoewel hy beoog om saam met die regering te werk, landbou ook ’n verantwoordelikheid het om ’n verskil te maak.

“Ons moet van ons eie kant af veiligheid op plase verseker en die verval van die platteland teëwerk. Die uitdaging op die platteland is dieselfde as vir die land, naamlik om die ekonomie so te laat groei dat geleenthede geskep word vir bestaande sowel as nuwe toetreders. Groter ekonomiese aktiwiteit sal ook werksgeleenthede en die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur meebring,” het Jaco bygevoeg.

Hy het voorts daarop gewys dat landbou die hoeksteen van enige samelewing is en dat dit veral in Suid-Afrika dien as ’n dryf­veer in die plattelandse ekonomie, met baie gemeenskappe wat daarvan afhanklik is.

“Ek dink landbou het ’n rooskleurige toekoms ondanks die uitdagings. Dit is ook duidelik dat die private sektor ’n al hoe groter rol gaan speel. Dit maak my baie positief,” aldus Jaco.