December 2015

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Die meeste van Suid-Afrika se produksie-insette word ingevoer. Meer as 70% van die land se kunsmisbehoeftes, alle aktiewe bestanddele vir landbou-chemikalieë, die meeste landbou-masjinerie (veral trekkers), selfs brandstofpryse (wat gereguleer word), word op invoerpariteit gebaseer. Alhoewel ons saadtegnologie (soos GMO’s) ingevoer word, word die meeste saad plaaslik vermeerder.

Weens hierdie groot persentasie invoere speel die waarde van die rand ‘n beduidende rol in die pryssamestelling van plaaslike insette. Die wisselkoers het oor ‘n jaar-tydperk met 22% teenoor die VSA-dollar verswak, wat invoere vir Suid-Afrika duurder maak.

Tabel 1 toon die prysbewegings in van die belangrikste ekonomiese en insetprysaanwysers in 2015 aan.

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense in 2015

Produksieprysindeks

Die produksieprysindeks dui die prysstygings van goedere en dienste op die groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. ‘n Onderskeid word tussen die prysstygings van totale en ingevoerde goedere getref. Die prestasie van die rand teenoor die geldeenhede van die vernaamste lande waarvandaan invoere plaasvind, het ‘n groot invloed op die pryse van ingevoerde goedere. Nieteenstaande die verswakking van die waarde van die rand (wat invoere vir Suid-Afrika duurder maak), het pryse van ingevoerde goedere met 6,4% gedaal.

Op ‘n jaar-grondslag, het die produksieprysindeks (PPI) tot September 2015 met 3,6% gestyg. Die produksieprysindeks vir grane en ander gewasse het jaar op jaar met 38,8% toegeneem.

Verbruikersprysindeks

Die amptelike inflasiekoers word op basis van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandels- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September 2015 op ‘n jaargrondslag met 4,6% gestyg.

Voedselinflasie het oor dieselfde periode met 4,4% gestyg. In hierdie mandjie van voedsel het brood en grane met 6,4% toegeneem terwyl vleis met 5% gestyg het. Vis en olies, asook vette, het met onderskeidelik 7,1% en 7% toegeneem. Groente het oor dieselfde tydperk met 1,6% gedaal.

Wisselkoerse

In Tabel 1 word ‘n verstewiging in die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ‘n positiewe verandering aangedui, terwyl ‘n verswakking as ‘n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op ‘n jaar-grondslag tot Oktober 2015 teenoor die dollar, die pond en die euro met onderskeidelik 22%, 17% en 8% verswak. Omdat Suid-Afrika so ‘n groot hoeveelheid insetmiddele moet invoer, het dié verswakking van die rand teenoor die geldeenhede van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote, plaaslike insetpryse laat toeneem. Dít, terwyl die meeste insette op internasionale markte gedaal het.

Rentekoerse

Op ‘n jaar-grondslag tot Oktober 2015, het die Reserwebank die bankkoers met 25 basispunte of 0,25 persentasiepunte na 6% verhoog. Handelsbanke het die prima uitleenkoers ook met 25 basispunte na 9,50% verhoog.

Internasionale ruoliepryse

Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2014 tot Oktober 2015 met 43,7% vanaf per vat na per vat gedaal.

Die ruolieprys in randterme het op ‘n jaar-grondslag tot en met Oktober 2015 met 31,2% tot R669 per vat gedaal.

Brandstofpryse

Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 12,2% vanaf R12,46 per liter in Oktober 2014 tot R10,94 per liter in Oktober 2015 gedaal. Die werklike brandstofkoste het in Oktober slegs 52% van die finale groothandelsprys van diesel uitgemaak. Dit wil sê 48% word opgemaak deur heffings en belasting.

Oor ‘n jaar-tydperk het die gelande koste van diesel met 29,8% gedaal, terwyl die groothandelsmarge met 5,7% gestyg het en belasting met 14,6% toegeneem het. Die dieselkorting is tans 250 sent per liter, terwyl dit verlede jaar 187,80 sent per liter was.

Die dieselkorting bestaan uit die 154 sent per liter van die Padongelukkefondsheffing en 96 sent per liter van die belastingskomponent. Die Padongelukkefondsheffing het sedert verlede jaar met 48% toe geneem.

Internasionale kunsmispryse

Behalwe vir DAP, het die internasionale pryse van kunsmisgrondstowwe vanaf Oktober 2014 tot Oktober 2015 skerp gedaal. Die pryse van ureum, ammoniak en kalium het met onderskeidelik 24,5%, 24,4% en 5,3% gedaal. Die prys van DAP het in hierdie tydperk met 6,8% gestyg.

Plaaslike kunsmispryse

Omdat Suid-Afrika se totale kaliumbehoefte en tussen 60% en 70% van die stikstofbehoeftes ingevoer word, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as in die internasionale mark.

Met die verswakking van die rand teenoor die dollar in die tydperk onder bespreking, is dus verwag dat plaaslike pryse minder as internasionale pryse sou daal – meeste grondstowwe het plaaslik gestyg. Die pryse van MAP, KAN en kaliumchloried het oor ‘n periode van ‘n jaar tot en met Oktober 2015 met onderskeidelik 15,1%, 4,6% en 4,4% gestyg. Plaaslike pryse van ureum het 0,3% gedaal.

Saadpryse

Saad maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Vir die 2015/2016-produksieseisoen het mieliesaad met gemiddeld 5,6%, graansorghumsaad met 10,2%, sonneblomsaad met 6,6% en sojaboonsaad met 5,6% gestyg.

Trekkerpryse

In Oktober 2015 was die pryse van trekkers 5,3% hoër as die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede. Die verswakking van die rand teenoor die geldeenhede van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote was die belangrikste rede vir hierdie prysstyging.

Trekkerverkope

Vir 2015 het trekkerverkope tot en met Oktober met 8,3% in vergelyking met dieselfde periode in 2014 gedaal. Verlede jaar is in hierdie tien maande-tydperk 5 434 eenhede verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2015 op 4 984 eenhede staan. Dié laer verkope kan hoofsaaklik aan die droogtetoestande, uitdagende finansiële omstandighede en hoër trekkerpryse toegeskryf word.

Publication: December 2015

Section: On farm level