November 2016
Beste Grootneef,
By ons is dit steeds bitter droog. Die Juliereën se vog het lankal uitgepluis. Buurman sê die gras is so kort, die rysmiere staan op hul knieë en wei. Ou Neef, ons het voor Krismis baie genade nodig. Nog ‘n droë, wit seisoen…
Intussen staan alles reg vir die groot plant: Saad, diesel, kunsmis en skuld. Net genade en reën kort.
Ou Neef, die ander aand met sononder loop ‘n satelliet glad deur die hemelruim uit die suidooste na die noorde. Vas en seker van sy koers, tot die son se laaste straal op die vreemde tuig verflou en dit in die donker nag verdwyn.
Dit laat my toe dink aan die ding met die vlieënde piering. Die hele dorp was op hol oor die helder lig, wat dan stadig en dan vinnig oor die aarde getrek het. ‘n Skoolbus, die volmaan of ‘n swerm vuurvliegies was dit niet. Daarby is hoog en laag gesweer. Die werkers het die volgende oggend met gedempte stemme gepraat en grond toe gekyk as jy hulle oor die ding uitgevra het.
By die koöperasie het almal oor die vreemde ligte gepraat. Die gort was egter behoorlik gaar toe ou George Keogh die brandmerke op die dorp se tennisbane kry. Die boonste laag van die baan was op ‘n paar kolle so gesmelt dat dit gelyk het of ‘n reuse pot konfyt daar gekook is – steeds smeulend in die vroeë oggendson.
Die Polisie se hulp is ingeroep, maar die sersant het net sy kop geskud – die hekkie na die tennisbane was tog op slot en grendel en nêrens was spore van iemand uit die veld wat bo-oor probeer klim het nie. Die honde-eenheid is ook ingeroep, maar die polisiehonde kon ook nie ‘n spoor vat nie. Dié wat daar was, vertel dat die honde baie aggressief tande gewys het en met hare orent staan en blaf het vir wat ook al op die tennisbaan agtergelaat is.
Die Kerkraad het gedreig met die tug. ‘n Helder lig wat vinnig en stadig oor die vlaktes loop, soms op en af – met brandmerke op die tennisbaan, was net nie calvinisties nie.
Die plaaslike kommando het alle weerbare lede opgeroep vir ‘n ekstra skietoefening. Vrouens en kinders moes by wees vir ‘n praatjie oor paraatheid.
En toe is die grondwal bestook met die gemeenskap se volle arsenaal. Van ‘n Martini- Henry tot ‘n voorlaaier is op die teikens afgevuur. Ons moes reg wees as “hulle” kom. Die offisier se bevele van “eie tyd, eie teiken, vuur”, het helder deur die winterlug weerklink. Alle kommandolede is na die skietoefening ook uitgereik met twee ekstra pakke R1-rondtes. Vir die wis en die onwis.
Padblokkades is gereël op soek na verdagte vaartuie. Maar na ‘n paar nagte van aksie was die enigste vonds ‘n skaapdief op ‘n baaisiekel; die skaap netjies agterop die fiets vasgemaak. Die opwin ding was so groot, toe die manne klaar na die skaap se oormerk gekyk het, was die skelm skoonveld! Maar dit was darem iets om aan die Kommandement Vrystaat in Bloemfontein te rapporteer.
Ou Neef, die manne was so paraat, dat selfs ystervarke dit vir ‘n maand nie uit hul gate gewaag het nie.
Maar met verloop van tyd het die toewyding getaan en het alles weer na normaal teruggekeer. Die patrollieryery in die middel van die nag was nie meer pret nie en polisiekoffie is ook net só lekker. Bowendien was planttyd op hande en het Dominee die gemeente aangepraat. Geen respektabele gemeente kan net Sondagdienste en begrafnisse aanbied nie. So nou en dan moet gedoop word ook. En so was dit.
Laterjare het mense ophou praat van die nag van die vreemde ligte. Behalwe vir die paar wat dit eerstehands beleef het. Hulle het egter van hul eie grens af gekom en net kop geskud as jy daaroor uitgevra het.
Nou wonder ek, wie onthou nog die nag toe die vreemde helder ligte oor die vlaktes gerol het? Dalk was dit tog die “rooi gevaar” wat ons met Sputnik wou inval.
Die aand toe die satelliet so helder oor die plaashuis getrek het, het ek maar net vir ingeval vriendelik gewaai. Dalk kyk iemand van ver af na die Vrystaters se doen en late. Maar as “hulle” nóú kom, sal ‘n kommando nie meer pla nie.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: November 2016
Section: Features