KUNSMISPRYSE DAAL, maar is steeds nie laag

Gepubliseer: 15 April 2024

186
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Tradisioneel word tussen 30% en 50% van ’n graan- en oliesaadprodusent se insetkoste aan kunsmis bestee. Kunsmis maak so ’n groot deel van insetkoste uit dat enige verande­ring – veral ’n prysverhoging – winsgewendheid drasties kan beïnvloed.

Die feit dat Suid-Afrika ’n netto invoerder van kunsmis is, vererger die situasie verder. Alle ingevoerde kunsmis se pryse word deur ’n hele reeks faktore beïnvloed, soos die wisselkoers, vervoerkoste en ander administratiewe koste soos arbeid en elektrisiteit.

Invoervolumes en prysveranderinge
Grafiek 1 illustreer Suid-Afrika se kunsmis­in­voere van monoammoniumfosfaat (MAP), ammoniak, ureum en kaliumchloried vanaf verskeie lande sedert 2009. Hoewel dit nie die enigste kunsmisstowwe is wat ingevoer word nie, is dit vier van die vyf belangrikste produkte wat ingevoer word.

Sedert 2009 het die invoer van hierdie vier produkte in totaal met 107% toegeneem. Gedurende 2023 het Suid-Afrika altesaam 1 611 078 ton van net hierdie vier kunsmisprodukte uit verskeie lande ingevoer wat ’n toename van 2% vanaf 2022 aandui. Ongeag die invoervolume, het die wisselkoers van die rand teenoor ander groot geldeenhede ook vanaf 2009 skerp verswak, wat die effek van prysstygings verder vererger het.

Grafiek 1: Vier van die vyf belangrikste kunsmisstowwe wat deur Suid-Afrika ingevoer word.

Tabel 1 toon die gemiddelde pryse in die plaaslike mark vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) gedurende Maart verlede jaar, vergeleke met Maart 2024. Dit is ’n welkome verlig­ting om ’n effense daling in pryse te sien in vergelyking met die vorige jaar.

Wanneer na die kunsmisbehoeftes van verskillende dele van die land gekyk word, merk ’n mens op dat die Wes-Vrystaat gemiddeld 72 eenhede N, 16 eenhede P en 14 eenhede K per hektaar gebruik. Die Oos-Vrystaat gebruik 100 eenhede N, 19 eenhede P en 27 eenhede K per hektaar. Besproeiingsgebiede gebruik 286 eenhede N, 52 eenhede P en 80 eenhede K per hektaar.

Tabel 2 verskaf ’n vergelyking van die gemiddelde bemestingskoste vir hierdie drie streke vir Maart 2023 en Maart 2024. Die koste van kunsmis het gemiddeld met 9% gedaal.

Bekostigbaarheid
Grafiek 2 gee ’n aanduiding van die bekostigbaarheid van kunsmis vergeleke met die Safex-prys van mielies. Kunsmis, wat soos gesê tussen 30% en 50% van insetkoste uitmaak, lyk of dit tans meer bekostigbaar word, maar daar moet in ag geneem word dat die Safex-mielieprys tans baie sterk verhandel weens onsekerheid veroorsaak deur droë toestande in groot gedeeltes van die land. Produsente word hierdie seisoen onder baie druk geplaas deur die weer, met oeste wat ondergemiddeld is.

Grafiek 2: Die bekostigbaarheid van kunsmis.

Hierdie inligting skets ’n duidelike prentjie van die uitdagings wat produ­sente elke dag moet trotseer om kop bo water te probeer hou. Kunsmis is nie die enigste insetkoste wat skerp prysstygings beleef het nie; die koste van energiebronne soos brandstof en elektrisiteit het ook beduidend gestyg en so ook die prys van saad en chemikalieë. Dit word al hoe moeiliker vir boerderybedrywighede om winsgewend en volhoubaar te bly.

Op die internasionale verhoog sien ons dat kunsmispryse in ’n redelik afwaartse tendens is (Grafiek 3). Daar is gewoonlik ’n vertra­gingstydperk van omtrent twee maande voordat internasionale prysveranderinge in die plaaslike mark gesien word. Die verswakkende rand/dollar-wisselkoers ry ongelukkig prysverlagings effens in die wiele en dus sal internasionale afwaartse tendense net marginaal in die plaaslike mark gesien kan word.

Aangesien daar min ruimte vir foute is, moet produsente seker maak dat hulle kompeterende pryse vir hul kunsmis betaal. Doen die huiswerk, maak seker die verteenwoordiger se pryse is mark­verwant, vergelyk aanbiedinge om die beste prys te vind – en kies dan die mees geskikte aanbod vir jou doeleindes.

Grafiek 3: Internasionale kunsmispryse in dollarterme sowel as die rand/dollar-wisselkoers.