August 2017
Beste Grootneef
‘n Wyle terug stop Buurman voor die Handelshuis in onse dorpie. Agter sy bakkie in gelid gehaak, is ‘n karavaan en ‘n boot. Sy mooi, nuwe vrou vooruitstrewend langs hom, ‘n klippie van Cullinan skitterend aan die linkerhand.
“En dié trein, Buurman?” vra ons ander belangstellend vanaf die Handelshuis se stoep. “Nee,” beduie Buurman, “Geld is nou so goedkoop, jy kan nie bekostig om nie skuld te maak nie!” En so is hy vort vir drie weke by die see, die boot hinkepink agter die karavaan oor die sinkplaatpad. Buurman was heel ontstig toe hulle hom by die eerste tolhek vir ‘n lorrie aanslaan – synde al die aste!
Ou Neef, een van my gunstelingplekke op die plaas is die hoek- paal tussen my en Buurman. Daar is al ‘n kaal kol weerskante van die hoekpaal uitgetrap soos wat ons daar staan en gesels. Gewoonlik sien ek hom op ‘n afstand op die miershoop sit en suig aan sy pyp, dan ry ek nader vir ‘n geselsie. Buurman is ‘n ensiklopedie van wat in die wêreld aan die gebeur is: ‘n Ewige optimis met ‘n broek vol planne.
Oor die jare het ‘n fontein van geldmaakplanne by die hoekpaal uitgeborrel. Swart rooibokke – dit help met die wildskamp se BEE-telling. Angora-hase – vroumense is mal oor sagte serpe. Blombolle direk uit Amsterdam wat aan skole gesmous kan word. Melk wat jy laat skif en in ‘n koevertjie laat droog word – vir ‘n nuwe mediese wonder op Garies. Kontantbeleggings met ‘n opbrengs van 101% per week, maar dit moet kontant wees. Stranderwe op Beaufort-Wes – onthou klimaatsverandering gaan die see oor 50 jaar diep die Karoo in stoot…
Die een blink plan na die ander uit Buurman se hoekpaal, wat elk met ‘n sagte plof-geluidjie die niet in is. Soos gebruiklik sien ek vir Buurman op ‘n Donderdagmiddag by die hoekpaal, diep denkend met ‘n pyp in die mond. Ek kan sommer aan sy naderstaan sien hy het vandag ‘n nuwe plan. Na die wedersydse vra oor die welsyn van familie en kennisse, kyk Buurman oor sy skouer of iemand loer en staan dan nóg nader.
Hy beduie met sy pyp na die weste en vra of ek weet wat ‘n Bitcoin is. En toe begin hy beduie. Van kontant se waarde wat ontsluit moet word. En van die nuwe geldeenheid wat nie gevange is aan lande se wispelturige leiers of gulsige amptenare nie. En dat Bitcoins met ‘n ritme deur ruimte en tyd loop sonder lastige valutareëls. Want ‘n Bitcoin is digitaal: ‘n Neseier buite die bereik van die ontvanger van al jou inkomste. Daar is ook net ‘n beperkte hoeveelheid Bitcoins uitgereik en met almal in die wêreld wat tou staan vir Bitcoins, sal die waarde van elke Bitcoin styg en styg tot bo in die kuberruim. Die goed lê in die internet se wolk waar mot en roes nie verniel en diewe nie kan inbreek en steel nie. Sela.
Buurman is só opgewerk dat sy pyp van al die pratery geblus het. Hy druk ‘n vars stopsel in die pyp, suig die vlammetjie behaaglik in tot die twak se toorkrag loop en beduie verder oor Bitcoins.
Eintlik is die ding nie om Bitcoins te koop nie, jy moet stóórplek vir die goed uithuur. Dit werk so: Jy koop ‘n ou skeepshouer en verf hom wit. Die ding moet koel wees. En dan koop jy ‘n komper by die Bitcoin-mense, wat jy in die skeepshouer sit. Maar daar moet ‘n fan wees, want dit moet koel wees in die skeepshouer – die komper kry gou warm. En dan stoor die Bitcoins-mense data vir die wêreld se beleggers daar óp jou plaas!
“En niemand weet eers dat die kuberruimte eintlik in ‘n skeepshouer agter die stoor staan nie,” seg Buurman en knipoog vertroulik.
Buurman sê die beste van alles is dat die Bitcoin-mense jou dan maandeliks vir stoorkoste met Bitcoins betaal. So al slapende word jy ryk! Op Buurman se vraag of ek aandele in sy skeepshouer vol kompers wil koop, het ek maar net beleefd laat weet dat ek nog van kontant in my agtersak hou. Met die digitale goed weet ‘n mens nooit of iemand die verkeerde knoppie druk wat waardes laat op- of afgaan nie. Ek kan buitendien nie by Sakkie se Wiele-plek met Bitcoins vir ‘n nuwe sleepwaband betaal nie.
So is ek toe vort, met Buurman by die hoekpaal aan’t planne beraam oor die aankoop van marmotte uit Peru met al die Bitcoin-winste. Die mense in Sandton het blykbaar nou so sin in marmotte. Ou Neef, geld is ‘n snaakse ding. ‘n R5 rol nie sommer tot in jou sak nie. Dit is meestal maar die sweet van jou aangesig wat bepaal of jy jou sout werd was. Sny maar die rieme volgens die bok se vel wat reeds aan die slagpale hang. Soos Salomo gesê het: As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Publication: August 2017
Section: Features