Dit gaan ’n harde seisoen wees

1107

March 2018

 

JANNIE DE VILLIERS, HUB

Optimaliseer jou winsgewendheid en nie noodwendig jou opbrengs nie. Is dit waar ons nou met graanproduksie staan? Die landboutoestande is oor die algemeen goed, alhoewel die seisoen laat is en in sommige gebiede glad nie aan die gang gekom het nie. Die Wes-Kaap beleef van sy ergste droogtes nóg.

Ons besoeke aan die produksiegebiede in ons land het die groot diversiteit van ons klimaat beklemtoon. Van mooi oeste in die ooste, na verbrande vroeë mielies in die weste tot ‘n verdorde Wes-Kaap – dit is waarmee ons gekonfronteer word.

Wat die herstel van pryse in die nabye toekoms betref, lyk die heersende toestande in die wêreld mistroostig. Landboutegnologie het na die wêreldvoedselpryskrisis in 2008 met só ‘n groot slag weggetrek dat aanbod die vraag totaal oorskadu het. Voorrade was nog nooit so hoog nie en pryse bly onder druk. Wanneer sal die vraag dan opvang?

Politieke optimisme laat die rand versterk en verleen nie juis ondersteuning met pryse nie: Ons kan immers nie net van relatiewe
goedkoper insette leef nie! Die wêreld bly honger, maar ons mieliepryse bly steeds bo uitvoerpariteit en gevolglik bly ons silo’s vol en ons bankrekenings leeg. In tye soos hierdie moet produsente meer as ooit tevore op hul winsgewendheid fokus: Koste en pryse.

Graan SA kan nie die pryse beïnvloed nie, maar fokus daarop om die mark so deursigtig as moontlik te maak en seker te maak dat niemand dit manipuleer nie. Aan die kostekant poog ons om pryse wyd te publiseer sodat produsente kan beding en ons monitor die kwaliteit sodat elkeen kry waarvoor hy/sy betaal het. Om winsgewendheid te optimaliseer, moet jy die bes moontlike mensekundigheid aan albei kante van jou besigheid in plek kry.

Ek het in 2016/2017 geskryf oor ‘n nuwe era wat aangebreek het. ‘n Tipe ná-die-vryemark-era. Die groen lote daarvan het ek rondom die braaivleisvure tydens die streeksvergaderings ervaar. Produsente is besig om hulle te herorganiseer in koop- en bemarkingsgroepe ten einde hulself beter te posisioneer.

Party rig hul eie kunsmisaanlegte op en begin reeds hulle eie graanprodukte verwerk. Dit is kompleet asof die vroeë skote van weer ‘n nuwe tipe “koöperasiebeweging” van stapel te stuur, geskiet word. Dit is juis hierdie tipe innovering wat van Suid-Afrikaanse produsente sulke unieke vasbyters maak. Wel gedaan manne, laat ons jul stories hoor en mekaar daarmee aanmoedig ten einde volhoubaar te bly. Ek was ook bemoedig toe van ons nuwe era kommersiële boere aan die einde van hul klagtes oor die staat se swak dienste, begin kla het oor die vervoerdifferensiaal. Ja, daardie woord! Dit was vir my ‘n duidelike bewys dat elkeen van hulle maar net soos enige ander kommersiële produsent is.

Ek wil graag hierdie maand se hoofartikel afsluit met ‘n bemoedigende gedagte: Dit was vir my in al ons gesprekke by die streeksvergaderings oor grondhervorming opvallend dat daar nie weer dieselfde tipe emosionele redenasies van vroeër was nie.

Saam met die bekommernisse oor die populistiese uitsprake het ‘n stuk realisme deurgekom: Dat ons self iewers planne gaan moet maak om die saak op ‘n verantwoordelike wyse vorentoe te vat. Die kommersiële produsente se opinies en voorstelle word beslis nie geweeg aan die hektare wat ons besit nie, maar (reg of verkeerd) aan die persentasie stemme wat die opposisiepartye in die parlement het. Dit bemoeilik ons kanse om besluite te beïnvloed.

Tóg het ek beleef dat daar ‘n groter openheid vir ons sieninge ontwikkel – as ons met opregte harte sáám na oplossings soek en nie net eensydig alles wil verdedig of afskiet nie.

Sterkte vir die seisoen wat voorlê, dit gaan hard wees.

 

Publication: March 2018

Section: Features