Hoe beïnvloed uiterste WEERVERSKYNSELS globale graanmarkte?

Gepubliseer: 5 Junie 2024

278
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

Hittegolwe, droogte, vloede, orkane, rukwinde, haelstorms, sneeu. Hierdie is maar net ’n paar woorde wat gebruik kan word om globale weerstoestande in die eerste helfte van 2024 te beskryf. Wêreldwyd word gemeenskappe deur ongekende uiterste weersomstandighede geaffekteer. Die vraag ontstaan hoe dit die wêreld se graanmarkte beïnvloed.

Figuur 1 bied ’n oorsig van die produksietoestande oor die wêreld, met Figuur 2 wat fokus op Suidelike Afrika, soos op 28 April 2024. Dit is opvallend dat verskillende ekstreme toestande wêreldwyd voorkom. In die suide van Afrika is daar misoeste, veral in Zambië en Zimbabwe, terwyl daar weer uitsonderlik goeie toestande vir Spanje se koringoes bestaan. Boonop heers daar droogte in Marokko, net 40 km vanaf Spanje.

Figuur 1: Globale graanproduksietoestande.
Bron: GeoGlam
Figuur 2: Oestoestande in Suidelike Afrika.
Bron: GeoGlam

Res van die wêreld
Prysbepaling in die graanmarkte word in ’n groot mate gedryf deur vraag en aanbod. Wanneer ’n verskuiwing in veral aanbod plaasvind, word prysrigting beïnvloed. Groot afnames in produksie kan lei tot toename in pryse. Markdeelnemers monitor produksietoestande daagliks om te bepaal hoe elke seisoen se aanbod kan lyk. Tans word wêreldmielieproduksie gereken op 1,23 miljard ton (+6% teenoor die vorige seisoen); sojaboonproduksie word voorspel om 258 miljoen ton te haal (+4 %); en wêreldkoringproduksie word geraam op 788 miljoen ton (- 0,25%).

  • Mielies: Die Verenigde State produseer ongeveer 32% van die wêreld se mie­lies. Aan die begin van Mei-maand was die VSA ongeveer 40% klaar geplant aan hierdie jaar se oes, merendeels met goeie produksietoestande. So ook het die Europese seisoen (5% van wêreldproduksie) met gunstige pro­duksietoestande verloop. In teenstelling hiermee ervaar groot gedeeltes van Brasilië (10% van produksie) droogtetoestande, wat ’n invloed op produksie en dus pryse kan hê.
  • Sojabone: In Mei-maand was die Suidelike Halfrond besig om te stroop te midde van swak en droë toestande, veral in gedeeltes van Brasilië. In ander dele van die land, naamlik Rio Grande do Sul (Brasilië se tweede grootste produksiestaat), was daar vloede, met hele stede onder water en sojaboonproduksie wat vernietig is. Daar word geskat dat dié onlangse ramp totale produksie met 10% tot 15% in daardie staat kan verminder.
  • Koring: Winterkoringproduksie in die Noordelike Halfrond was in Mei-maand midde in die seisoen, met toestande wat gewissel het van swak tot uitson­derlik. Soos reeds genoem ervaar veral Spanje goeie produksietoestande, terwyl gedeeltes van Marokko en Algerië droogtetoestande beleef.

Klik op die skakel (https://uofmd.maps.arcgis.com/apps/dashboards/61a5af3168264ba68755e49a73cbf851) om produksietoestande dop te hou:

Afrika
Soos gesien in Figuur 2 veroorsaak toestande in Suidelike Afrika dat die oes in gedrang is. Lande soos Zimbabwe en Zambië asook die suide van Malawi en groot gedeeltes van Mosambiek ervaar selfs mislukte oeste. Die droë toestande het gelei tot ’n geweldige afname in produksie, wat gepaardgaan met ’n toename in invoere. Dit is belangrik om in ag te neem dat witmielies ’n stapelvoedsel vir Afrika is en die groot afnames in produksie vir tradisionele uitvoerlande soos Zambië en Suid-Afrika kan voedsel­sekerheid bedreig. In die 2023/2024-seisoen (wat April-maand geëindig het) het Suid-Afrika reeds 39% meer witmielies uitgevoer na Mosambiek teenoor die vyfjaargemiddeld. So ook is 439 330 ton se witmielies na Zimbabwe uitgevoer, teenoor die vyfjaargemiddelde jaarlikse uitvoer van 189 514 ton.

Suid-Afrika
Die afgelope somergraanproduksie­seisoen in Suid-Afrika is gekenmerk deur buitengewoon droë en warm weer. Die droogtetoestande wat oor groot gedeeltes van Suid-Afrika geheers het, het nie net ’n daling in opbrengsverwagting tot gevolg gehad nie, maar ook gelei tot kwaliteitsprobleme in gewasse soos mielies en sojabone. Volgens die derde NOK-skatting kan ’n oes van 6,41 miljoen ton se witmielies verwag word (-25% teenoor vorige seisoen); 6,98 miljoen se geelmielies (-12%) en 1,81 miljoen ton se sojabone (-34%). Die effek van laer produksie – en dus aanbod – op graanpryse kan duidelik gesien word in Grafiek 1 en Grafiek 2. Plaaslike sojaboon- en mieliepryse het wegbeweeg van uitvoerpariteit af.

Grafiek 1: Pariteitsgrafieke vir sojabone.
Bron: Graan SA
Grafiek 2: Pariteitsgrafieke vir mielies.
Bron: Graan SA

Ten slotte
Na ’n rekordjaar van ongekende hoë wêreldtemperature is die einde van die huidige sterk El Niño-verskynsel in sig, met ’n groot kans dat die wêreld sal terug­keer na La Niña-toestande. Neutrale toestande is waarskynlik tussen April en Junie (85%-kans) en ’n verskuiwing na La Niña-toestande word verwag tussen Julie en September (73%-kans). Histories lei La Niña-verskynsels na effens laer as gemiddelde opbrengste vir sojabone (ongeveer 2%) met geen merkbare impak op wêreldmielie- en koringproduksie nie. Hoewel geen twee verskynsels dieselfde is nie, kan hoë wêreldtemperature steeds ’n negatiewe impak hê.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.