Opbrengste eindig op hoë noot in 2021

Gepubliseer: 9 Februarie 2022
Jan Botes, Agricol

1606

Die gunstige klimaatsomstandighede van 2021 het tot gevolg gehad dat daar baie goeie kanola-opbrengste in die Swartland, Overberg en Suid-Kaap voorgekom het. Die afgelope seisoen se nasionale kanolakultivaropbrengsdata van die onderskeie streke – die Swartland, Overberg en Suid-Kaap – is reeds beskikbaar en soos verwag het Agricol se kanolareeks puik presteer.

Diamond, Quartz en Alpha TT was weer eens van die toppresteerders in hul onderskeie groepe. Die konvensionele kultivar Diamond het soos altyd uiters goeie opbrengste gerealiseer en het die Swartland-proewe gewen met ’n gemiddelde opbrengs van 3 050 kg/ha. Quartz was in die tweede plek. Laasgenoemde konvensionele kultivar het met ’n gemiddelde opbrengs van 3 449 kg/ha eerste in die Suid-Kaap-proewe (Rûens) klaargemaak. In die triasientolerante groep het Alpha TT puik presteer met gemiddelde opbrengste van 2 607 kg/ha en 3 220 kg/ha in die Swartland en Rûens onderskeidelik. Hier volg slegs ’n paar suksesverhale van die afgelope seisoen.

Caledon
Jan Viljoen van die plaas Middelplaas in die Caledon-omge­wing het in die 2021-seisoen drie van Agricol se topkanolakultivars geplant. Aan die konvensionele kant het Jan uitstekende opbrengste van 2,8 t/ha en 2 t/ha op Diamond en Quartz onderskeidelik gestroop. Hy het ook op 22 ha ’n opbrengs van 2 t/ha op die triasientolerante Alpha TT gestroop. Met sulke opbrengste plant hy graag Agricol-kanola en hy hou veral van Diamond se opbrengspotensiaal.

Riviersonderend
Christo Groenewald van Dorwald Boerdery het sy kanola die afgelope seisoen op garsstoppel geplant. Planttyd was ’n groot uitdaging, aangesien daar 234 mm reën in 24 uur op sy plaas geval het. Dit het geweldige spoelskade tot gevolg gehad. As gevolg van al die reën kon die spuittoerusting nie naby die landerye kom nie, maar grasonkruide is wel met ’n vliegtuig gespuit. Slegs een topbemesting sonder blaarvoedings en ’n bespuiting teen Sclerotinia het plaasgevind. Volgens Christo is daar twee weke verskil in oesgereedheid tussen Diamond en Quartz, wat die druk op masjinerie na platsny verminder. Christo het ten spyte van die strawwe produksietoestande steeds 2,49 t/ha op 55 ha Quartz en 2,35 t/ha op 150 ha Diamond behaal.

Swellendam
Nelis Swart van die plaas Posstal in die Swellendam-area het die afgelope seisoen ongeveer 60 ha Quartz aangeplant. Hy het ’n gemiddelde opbrengs van 2,8 t/ha behaal met een land wat selfs 3,1 t/ha gerealiseer het. Nelis plant graag Quartz aangesien die kultivar ’n aggressiewe groeier is en dit ’n besonderse opbrengspotensiaal het.

Malmesbury
Dolf Walters het die afgelope seisoen 30 ha Alpha TT en 22 ha Quartz aangeplant teen ’n saaidigtheid van 2,8 kg/ha. Die vorige jaar was die lande met koring geplant. Alpha TT het beïndruk met ’n opbrengs van 2,6 t/ha en Quartz met 2,95 t/ha. Volgens Dolf gee Quartz goeie opbrengste en word lande waarop Alpha TT geplant is weer maklik skoongemaak met triasienbespuitings, veral waar daar gras- en breëblaaronkruidprobleme is.

Riviersonderend
Christoff Groenewald van die plaas Schildskloof het die afge­lope seisoen 40 ha Quartz aangeplant waarvan die opbrengs 2,8 t/ha was. Christoff sê: “Quartz en Diamond se vinnige groei­stadiums versprei die druk in oestyd, dus kan kanola afgehandel word voordat gars en koring geplant begin word. Quartz het ook lekker dun stoppels wat die oesproses maklik maak. Die kultivar se hoë opbrengs is ’n verdere groot voordeel.” Hy het met Alpha TT ’n opbrengs van 2,6 t/ha behaal op 95 ha.

Koringberg
Abla Carstens, ’n produsent van die Koringberg-area tussen Piketberg en Moorreesburg in die Swartland, het die afgelope seisoen Alpha TT aangeplant. Aangesien Abla baie met raaigras in sy lande gesukkel het, het hy besluit om in verskeie kampe wieke as ’n metgeselgewas tussen sy kanola-aanplantings te vestig. In die kanolakampe wat hy met wieke uitgesaai het, was die opbrengs 2,5 t/ha en die kampe sonder wieke het ’n gemiddelde opbrengs van 2,8 t/ha gelewer.

Die belangrikheid van ’n goeie kanolapakket kan nie genoeg beklemtoon word nie. Laasgenoemde is die beginpunt vir stabiele kanola-opbrengste.

Kontak jou naaste Agricol-agent vir ’n aanbeveling in jou area. Plant in die kol, plant Agricol.

‘n Diamond-aanplanting die afgelope seisoen in Caledon.