August 2018
MARLEEN SMITH, SA Graan/Grain medewerker
Dit is noodsaaklik dat vroue hul regmatige plek in landbou begin inneem, is die slotsom waartoe ‘n paneel van leiervroue in ‘n gesprek hieroor in die Nasie in Gesprek-reeks op vanjaar se NAMPO Oesdag gekom het.
“Die vrou was nog net altyd daar…die nek van die besigheid en op die agtergrond. Dit hoort nie so nie,” het me Preline Swart, visevoorsitter van Graan SA, gesê. Sy bedryf saam met haar man, Ralph, en sy twee seuns, Jacques en Leaan, die Swart-boerdery by Elim in die Wes-Kaap. Vandag is dit ‘n suksesvolle kommersiële boerdery nadat Ralph met net een skaap begin het en vir jare geen hulp ontvang het om tot op hierdie vlak te vorder nie.
“Jy het net soveel waarde soos wat jou man vir daardie besigheid het. Neem jou regmatige plek in,” het Swart gesê. Sy het bygevoeg dat dit voorts bitter belangrik is dat plaaswerkers ook voel dat hulle deel van die boerdery is. “As ons werkers na iets op die plaas verwys, verwys hulle na dit as ‘ons’ s’n. Ek is een vrou tussen ‘n klomp mans. Dit kon seker nie vir hulle maklik gewees het om my te aanvaar nie, maar hulle het dit gedoen.
“Mans sien ons te dikwels as blote emosionele wesens. As jy die dag blinkoog is, of dalk ‘n traan in die oog het, wonder hulle wat is nou weer verkeerd. Maar dit is omdat ons passievol is oor wat ons doen,” het sy gesê.
Dit is juis hierdie dimensie wat vroue na ‘n boerdery kan bring. “Daar waar ek vandaan kom, is ons deesdae betreklik presies ingestel op gelykheid. ‘n Man word nie meer voorgetrek net omdat hy ‘n man is nie. Op ‘n plaas word mos nie meer net op die lande geboer nie; boerdery is ‘n groot besigheid met heelwat kantoorwerk en administrasie.
“Gee vir ons (vroue) wat ons kan en wil doen en moenie ons terughou net omdat ons vroue is nie.” Beide Swart en me Marion Shikwinya (besturende hoof van Afgri se Harvest Time Investments) het benadruk dat vroue ook in leierskapstrukture van groot maatskappye en by die ontwikkeling van beleid en regering betrek moet word.
“Ons vroue doen deesdae nie meer net primêre produksie nie. Hoekom kan ‘n vrou nie ook die uitvoerende hoof van ‘n maatskappy word nie? Wat gedoen moet word, moet gedoen word. Dis hoog tyd dat ons vroue bevorder word na waar ons mans is.”
Shikwinya meen voorts dat primêre landbouproduksie nie al is wat by ‘n sterker vroulike hand en insig kan baat nie. Dit behoort ook op die vlak van beleidsontwikkeling en in die leierskapstrukture van groot landboumaatskappye waarde te bied.
Meer as een van die paneellede het daarop gewys dat vroue nie net 50% van die bevolking beslaan nie, maar dat kleinboerderye ook ten minste 50% van die voedsel wat ‘n bydrae lewer dat hul gesinne oorleef, lewer. Hierdie vroue moet tot kommersiële vlak opgehef word.
“In kleinskaalse boerdery is ten minste die helfte van die boere vroue,” het me Jane McPherson (bestuurder: Ontwikkelende Landbou, Graan SA) gesê. Sy sê waar boerdery al meer op winsbejag ingestel geraak het, het mans toenemend begin oorheers en het vroue op die agtergrond getree. Dit geld egter nie op alle gebiede nie. Die meeste vroue voel steeds minderwaardig teenoor mans.
“Daar is ‘n groot klomp vroue in die kleinskaalse sektor – en al hoe minder waar boerderye groter raak. Daar kleef ‘n soort van ‘n stigma aan jou as jy ‘n vrou(eboer) is, maar vergeet daarvan; gaan net aan met die werk.”
McPherson waarsku vroue in landbou om nie skielik hardvogtig te raak nie. Mans en vroue is wel gelyk, maar het verskillende eienskappe en spesifieke oplossings moet ontwikkel word om vroue op groter skaal te bemagtig en te betrek. “Partykeer moet jy maar ‘n traan stort; dit is nie altyd nét sleg nie.”
Beide McPherson en Swart het in ‘n pleidooi gevra dat passie en empatie weer in landbou teruggeploeg moet word. Die paneellede was dit ook eens dat die regte mense vir ontwikkelingshulp gekies moet word – en dat ‘n vrou versigtig selfondersoek moet doen voor sy besluit om by landbou betrokke te raak.
“Ek het geen agtergrond van boerdery gehad nie,” het Swart gesê. “Jy moet ‘n passie daarvoor hê en eers selfondersoek doen voor jy betrokke raak. As jy besluit om te boer, moet jy by jou naaste Departement van Landbou vir hulp gaan aanklop. Raak by georganiseerde landbou ook betrokke, dan gaan deure vir jou oop. Kyk byvoorbeeld na Graan SA se landbou-ontwikkelingsprogram. Daarvandaan volg die ander goed vanself – mits jy passievol daaroor is.”
Een struikelblok is, volgens Swart, dat die regering geneig is om ‘n boer tot op ‘n sekere vlak te neem, maar dan sy hand los. “Hulle gaan nooit terug na waar hul hom gelos het nie. Te veel mense, wat nie self wil boer nie, kry boonop ondersteuning. Hulle moenie net die koerante wil haal nie.”
Daarom moet vroueboere wat self vooruit wil gaan, “nie vergeet van dié wat agter hul is nie. Help die vyf ander agter jou ook”.
McPherson beaam: “As ek ‘n ou met skerppuntskoene wat hulp soek hier sien instap, dan weet ek sommer hy wil nie noodwendig self boer nie.”
Me Rita Andreas, navorser in landelike ontwikkeling by die Drakenstein-munisipaliteit in die Paarl, meen die regering se betrokkenheid by die opheffing van boere is van kardinale belang. “Die regering sal móét inkoop. Hulle kan nie eenkant staan nie. Jy kan nie vir iemand ‘n plaas gee en sê gaan boer daar nie. Hulle moet betrokke bly.”
Sy meen een “gereedskapstuk” wat gebruik kan word om druk op die regering te plaas en beleidsverandering te bewerkstellig, is om die talle suksesse van kommersiële vroueboere wyer te verkondig. Só kan veranderinge en transformasie in landbou vinniger bewerkstellig word.
Volgens McPherson bly dit steeds ‘n groot uitdaging om aan kleinboere toegang tot moderne tegnologie te gee. Hierby het heelwat boere toegang tot grond, maar hulle kan nie plant nie omdat hulle nie grond besit nie. “Om net vir hulle geld te gee, lewer geen bydrae nie.”
Nogtans moet Suid-Afrikaanse vroue in landbou nie aanhou dink dat dit nie gedoen kan word nie. “Kom ons werk uit hoe ons dit kán doen,” sê sy. Uiteindelik moet bekwame vroue nie huiwerig wees om op hul regmatige plek in die landbou aan te dring nie. “Ek glo nie enigeen gaan in jou pad staan en jou nie daar wil hê net omdat jy ‘n vrou is nie. Die meeste van ons hier weet nie wat dit is om snags jou kinders in die bed te moet sit sonder dat daar kos in die huis was nie. ‘n Vrou kan hiermee empatie hê.
“Ons is nie almal dieselfde nie, maar ons hoef nie en ons wil ook nie dieselfde wees nie. Ons behaal groot suksesse met vennootskappe tussen kleinboere en groot kommersiële maatskappye, soos met die verskaffing van insette. Kom ons begin deur armoede te verlig en hongersnood uit te wis,” het McPherson gesê.
Publication: August 2018
Section: Relevant