Plaaslike sojabone kan internasionaal meeding

Gepubliseer: 1 September 2021

188
Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graaneko­nomie en Bemarking, Graan SA

Die sojaboonbedryf is een van die groter suksesverhale binne die graan- en oliesadebedryf die afgelope tien jaar. Dit was veral omdat die waardeketting saam kon beplan om seker te maak dat die bedryf groei.

Produsente het gewys dat daar ’n aptyt is om sojabone te plant as dit finansieel sin maak en dit goed binne wisselboustrukture inpas. Aan die ander kant het verwerkers ekstra kapasiteit geskep en sodoende meer vraag vir die styging in produksie geskep. Gedurende die tydperk van groei was daar gereeld vrae rakende die kwaliteit van sojabone asook van soja-oliekoek.

Verskeie studies is gedoen om bewyse te lewer en mettertyd is meer plaaslike soja-oliekoek benut en al hoe minder ingevoer. Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het onlangs ’n studie vir die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) gedoen om die kwaliteitsaspekte in die hele waardeketting na te vors.

’n Deeglike literatuuroorsig is gekombineer met uitgebreide bedryfsonderhoude asook BFAP se ekonomiese modelle om die impak van sojaboon- en oliekoekkwaliteit op die Suid-Afrikaanse veevoer- en sojaboonverwerkingsbedryf te kwantifiseer.

Op plaasvlak
Terwyl ongeveer 60% van die waarde van sojabone uit die koekgedeelte bestaan, kom die oorblywende 40% vanaf die olie. Daarom is die gekombineerde inhoud van proteïen en olie in sojaboonsaad belangriker as net die proteïen- of net die olie-inhoud. Die vee­voerbedryf benodig ’n minimum van 46% proteïen in sojaboonmeel (met ’n 12%-voginhoud) om te verseker dat die voer wat geproduseer word aan regulasies voldoen.

Sojaboonsamestelling vestig die perke vir soja-oliekoeksame­stelling, dit wil sê die proteïen- en olie-inhoud van die sojaboon self is die beginpunt vir proteïeninhoudgrense van die finale sojaboon­oliekoek. BFAP se ondersoek het gevind dat sekere agronomiese faktore die proteïen- en olie-inhoud van sojabone beïnvloed. Rakende plantdigtheid was daar baie teenstrydige inligting en BFAP het slegs die meerderheidsoorsig neergepen.

As gevolg van Suid-Afrika se geografiese ligging wat breedtegraad, hoogte bo see­spieël en sy daglengte- en hitte-eenheid­blootstelling betref, is die potensiële olie- en proteïeninhoud laer as in ander lande soos die VSA, Brasilië en Argentinië. BFAP het ook gevind dat die literatuur aandui dat die VSA ’n tendens ervaar waar hoër olieinhoud in die noordelike produksiestreke verkry is as in die suidelike streke. Wat proteïen betref was daar nie noemenswaardige verskille nie.

Suid-Afrika het twee grade vir sojaboonsaad, gebaseer op basiese fisiese aspekte. Terwyl sommige silo-eienaars in naby-infrarooi (NIR)-toerusting belê het wat moontlik­ gehalte-aspekte van saad soos olie- en proteïeninhoud kan uitlig, is daar nog geen vereiste vir hierdie metings op silovlak nie. BFAP kon nie enige programme vind wat kwaliteits­vereistes op plaaslike en internasio­nale vlak aanspoor nie. Dit sal tipies iets wees soos pryspremies vir hoër olie- en/of proteïeninhoud. ’n Premiemark vir hoër olie en proteïen moet dus ondersoek word.

As gevolg van die grootte van die bedryf en logistieke uitdagings by silo’s is dit ’n uitdaging om sojabone apart te stoor en te versprei gebaseer op spesifieke kwaliteits­eienskappe buiten die normale gradering.

Oliekoekkwaliteit
Verskeie studies is in Suid-Afrika gedoen ra­kende die kwaliteit van oliekoek en BFAP het dit in hul studie opgesom (Tabel 1). Hoe­wel die Suid-Afrikaanse sojaboonoliekoek van aanvaarbare gehalte was, was die variasie in kwaliteitsparameters vir verwerkingsdoel­eindes hoër as die van ingevoerde oliekoek.

Oor die afgelope paar jaar is beduidende werk deur rolspe­lers gedoen om die verwerkingsproses en afgelewerde produk te verbeter, veral om oliekoek met ’n 46,5%-proteïeninhoud te lewer. Die groter perse blyk oor die algemeen gemaklik te wees dat die proses voldoen aan uitsetspesifikasies, maar dit is onseker wanneer dit kom by kleiner perse wat sukkel om sojabone met ’n hoë voginhoud te verwerk.

BFAP het ook gerapporteer dat kopers oor die algemeen tevrede is met die hui­dige kwaliteit van oliekoek. Die meeste voer­meulens rapporteer dat die proteïeninhoud van plaaslike sojaboonmeel oor die afgelope dekade toegeneem het en op gelyke voet met internasionale soja-oliekoek is. Die ingevoerde oliekoek het egter meer konstante karaktereienskappe en dit word op spesifieke spesifikasies ingevoer.

Elke Suid-Afrikaanse pers het ’n ander proses en voorkeur, wat ’n wyer produkreeks tot gevolg het. Verder is die produkte van nuwer perse na bewering meer konsekwent en kan hulle ’n produk van beter gehalte met meer akkurate toetse verseker. Sommige rolspelers glo dat Suid-Afrikaanse oliekoek Argentynse oliekoek verbygesteek het wat gehalte betref en dat Suid-Afrika van die beste soja-oliekoek in die wêreld produseer. Daar is egter steeds ’n paar negatiewe verslae, soos variasie binne vragte asook plaaslike soja-oliekoek wat growwer is as ingevoerde oliekoek – met die gevolg dat dit weer verwerk moet word om die verteerbaarheid te verbeter.

Gevolgtrekking
Die Suid-Afrikaanse mark is goed mededingend met die res van die wêreld wat betref die kwaliteit van sojabone asook soja-olie­koek. Die grootste uitdaging is om konstantheid te vestig binne die hele waardeketting. Vergeleke met die res van die wêreld pro­duseer Suid-Afrika ’n kleiner hoeveelheid sojabone, wat dit moeiliker maak om konstantheid in die aanbodketting te vestig. Die totale vervanging van ingevoerde oliekoek gaan ook baie afhang van prysmededingendheid, veral in die kusgebiede. Hier gaan logistiek ’n al hoe belangriker rol speel.