Die misverstand

Gepubliseer: 29 September 2022

631

Beste Grootneef

Kyk, misverstande het al die verloop van die mensdom se hede en toekoms verander. Sommige misverstande is selfs vir ewig in klip geëts. Soos die grafsteen wat lees: “Hier rus tant Meraai, links gewys en regs gedraai.”

’n Misverstand wat tans die hele volk aan die gis het, is die een op die wildsplaas in die noorde. Die baas van die plaas het blykbaar na ’n wildsveiling gesê dat die kontant in die bank gesit moet word. Nou, met die kontant van die wildsveiling wat tot in die Kaap uitgewaai het, word verduidelik dat dit ’n blote misverstand was. Die opdrag was om die geld in die “Bank” te sit, nie in die sitkamer se bank nie!

Nog ’n misverstand waaroor lank op die koöperasiestoep vertel is, was toe Klaas saam met die manne op ’n wêreldrugbytoer Frankryk toe is. Maar eers het die manne deur Italië na Frankryk gereis voor die toets tussen die Bokke en die Hane. Klaas laat weet toe sy vroulief in die Vrystaat dat hy Florence baie geniet. Waarop vroulief blitsig terug whatsapp: “En ek vir Koos…”

’n Misverstand kan ook ’n plek wees. Soos die kuierplek met die spitsvondige naam “Die Kantoor”. As jy daar rondstaan, hoor jy menige broodwinner van die huishouding ’n telefoonoproep beantwoord dat hy by die kantoor is. Wat heeltemal waar is – maar duidelik tot ’n misverstand kan lei. Soortgelyke spontane misverstande waarop ek al afgekom het, was kuierplekke met die name “Nagskof” of “Aandklas”. Jolige plekke wat dit laat klink of daar gewerk word.

Een misverstand van epiese proporsies was egter toe ek en vroulief die vreemde stad met die naam Ras Al-Khaimah besoek het. Na ’n dag lange toer deur die woestynlandskap, sien ons ’n stalletjie langs die pad wat heuning verkoop. Ons was egter op spoed en met verkeer op en om ons (almal aan die verkeerde kant van die pad) was daar eenvoudig nie ’n manier vir briek of omdraai nie. Synde dat byeboerdery nog altyd ’n belangstelling was, wou ek graag meer uitvind hoe dit in ’n woestynstreek gedoen word en waarop die bye dan werk om heuning te maak.

So gesê, so gedaan. Tuis gekom laat weet ons vir Assem, ons taxibestuurder, om ons weer die volgende middag op te laai. Nou ja, die volgende middag was Assem klokslag twee-uur voor die deur, reg om ons te karwei na ’n nuwe avontuur. Kyk, Assem ken daardie wêreld soos die palm van sy hand. Hy weet wat waar is en hoe om daar te kom. Maar die bestemming wat ons van hom versoek het, het hom daardie middag laat kopkrap. Vir ons was dit ’n eenvoudige opdrag – om na ’n honey shop toe te gaan. Assem was duidelik onseker. Hy het ’n paar keer probeer om die GPS te oortuig van die bestemming, maar einde ten laaste in Urdu met ’n kollega gekonsulteer oor waar die beste honey shop sou wees.

Hy het uiteindelik instemmend geknik, ’n adres in sy slim GPS staangemaak en laat waai. Die rit het vir my effe uit koers gevoel van waar ons die vorige middag die heuningstalletjie langs die pad gewaar het. Maar wat, Assem was vol selfvertroue en ons het die rit in ’n vreemde stad geniet.

Uiteindelik het Assem voor ’n bloedrooi geverfde deur gestop en selfvoldaan omgedraai om aan te kondig: “Honey shop in there!”

Die plek het glad nie soos die vorige middag se heuningstalletjie langs die pad gelyk nie. Ek en vroulief is by die rooi deur in, uit die helder sonskyn tot in ’n skemer wêreld van wierook, mirre, dowwe ligte en vreemde Oosterse musiek. Oral was persiese tapyte en gekleurde gordyne. Die volgende oomblik het ’n slanke wilgerlat van ’n vrou van agter ’n gordyn verskyn en sy was duidelik aangenaam verras met die twee besoekers. Ek het op my beste Vrystaatse Ingels verduidelik dat ons graag heuning wou koop. Nêrens in die vreemde winkel was egter ’n botteltjie heuning of ’n heuningkoek in sig nie, maar wat, ons het lekker getoer en dalk moes ons net ’n rukkie wag. Die meisie het goed en gaaf gelyk, en het dadelik instemmend geknik toe ons vir “honey” vra.

En toe kom die heuningpotte op ’n ry van agter die gordyne uit, die hele lot stroopsoet. Dit was tóé dat ek vir vroulief gesê het: “Mamma, ons moet hol!” Ek en vroulief is soos Paul Nash van die merkie af – ek kon net-net voor haar deur die rooi deur galop.

Gelukkig was Assem en sy taxi nog daar en kon ons maak dat ons wegkom. Hy wou nog vra “How so quick?”, maar vroulief se kyk het hom laat besluit dit is beter om vorentoe te kyk en op die pad te konsentreer.

Later die middag het ons by vriende verneem dat ’n honey shop in dié vreemde stad dieselfde nektar verkoop as die stoute tannie Ragab waarvan in die Ou Testament geskryf word. Ou Neef, dit was amper ’n misverstand. Dit het ook nie gehelp toe ek die volgende dag vir Assem in Ingels gevra het waar ons dadels kan koop nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.