
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
GRAAN SA SPEEL ’N SLEUTELROL IN DIE DEURLOPENDE MONITERING VAN INSETPRYSE NAMENS SY LEDE, MET SPESIFIEKE FOKUS OP SAADPRYSE OOR TYD OM DEURSIGTIGHEID TE BEVORDER EN MEDEDINGING IN DIE SAADBEDRYF AAN TE MOEDIG. HIERDIE POGING STEL PRODUSENTE IN STAAT OM MEER INGELIGTE EN KOSTE-EFFEKTIEWE BESLUITE TE NEEM.
Hoewel daar in Suid-Afrika groot aandag gegee word aan kunsmis- en veral brandstofpryse – wat onderskeidelik 35 tot 50% en 13% van ’n produsent se veranderlike koste uitmaak – kry saadkoste, wat tussen 10 en 17% van mielieprodusente se lopende produksiekoste beslaan, relatief min aandag, ondanks sy potensieel groter impak in sekere streke.
Saad moet egter as ’n belegging gesien word: Gespesialiseerde saad met verbeterde genetiese eienskappe mag wel duurder wees, maar bied beduidende voordele soos hoër opbrengs, beter siekteweerstand en groter aanpasbaarheid by uiterste weersomstandighede – faktore wat die winsgewendheid van produsente uiteindelik kan verbeter.
Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ’n verskeidenheid eienskappe en elkeen het dus ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:
- Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende kultivar vervang nie.
- Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
- Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
- Hersien kultivars jaarliks.
Saadpryse vir die 2026/2027-seisoen
Mieliesaadpryse vir die 2026/2027-produksieseisoen het gemiddeld met 5,3% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 4,5% gestyg; graansorghumsaadpryse met 8,8% en sojaboonsaadpryse met 3,6%.
Sien meegaande tabelle vir prysvergelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.
Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:
- Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 18, 20 en 25 kg-sakkies of in verpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sak. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sak en by sojabone is sakke met 60 000 pitte en 140 000 pitte asook 25 kg-sakke beskikbaar.
- Die nuwe kultivars is merendeels duur-der kultivars. Verseker dat kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie.
- Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
- Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes (ook aan dit wat op die sakkie staan) voldoen, veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en -vorm.
- Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die prys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
- Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
- Beding vir kortings waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
- Laastens, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.
Behandeling van saad
Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die maatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie.
Die chemiese middel wat gebruik word moet ook volgens Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit. Dit is ook raadsaam vir produsente om by saadmaatskappye uit te vind oor die Rhizobium wat die beste op hul kultivars werk.
Dit word dus aanbeveel dat produsente wat onbehandelde saad aankoop en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy doen.
Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: óf ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas mag word.
Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie. Ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting moet gedek word, dit mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugsplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.
Mielies wat in die toevlugsarea geplant word moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.
Riglyne vir die aanplanting van Intacta-sojaboonsaad
’n Toevlugsarea is van kardinale belang met die aanplanting van Intacta-sojaboonsaad om die tegnologie vir die toekoms te beskerm. ’n Gedeelte van die land word nie met die Bt-kultivars geplant nie, maar wel met RR-kultivars sodat ’n sekere deel van die Afrikabolwurm-populasie nooit aan die Bt-tegnologie blootgestel word nie. Dit word gedoen sodat daar altyd ’n populasie Bt-vatbare motte is om met Bt-weerstandige motte te paar sodat die volgende geslag weer eens Bt-vatbaar is.
- Die minimum aanbeveling vir hierdie toevlugsarea (nie-BT-kultivar) is 20%.
- Toevlugsareas moet geplant word binne sewe dae vanaf die Intacta-aanplanting.
- Dit moet binne 400 m vanaf die Intacta-aanplanting in dieselfde land wees.
- Die toevlugsarea moet met insekdoder behandel word.
- Variëteite met dieselfde groeiklas moet gebruik word.
- ’n Minimum van ses rye word vereis.
- Die toevlugsarea moet op dieselfde plaas met dieselfde groeitoestande wees.
(Bron: Bayer)








Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker.














