Mieliemark: Weerspieël huidige prysvormingsmeganisme effektiwiteit?

1085

January 2019

Die dinamiek van die plaaslike mieliemark, veral in terme van die verwerking, het oor tyd redelik verander. In terme van produksie, word die meeste geelmielies onder normale omstandighede in die oostelike gedeeltes van die land verbou – dit sluit hoofsaaklik Mpumalanga en die Oos-Vrystaat in.

Witmielies word meestal in die westelike gedeeltes van die land geproduseer wat hoofsaaklik in die westelike gedeeltes van die Vrystaat en die Noordwes Provinsie is. Die verwerking van mielies het oor tyd grootliks aangepas by die produksiegebiede en dit is belangrik om van hierdie inligting gebruik te maak ten einde vas te stel of die mark effektief funksioneer al dan nie.

Witmielies
Grafiek 1 toon die produksie en verwerking per provinsie van witmielies as ’n persentasie van die totaal wat in die land geproduseer word. Uit Grafiek 1 kan gesien word dat die Vrystaat en Noordwes Provinsie die twee grootste witmielieproduserende provinsies in die land is met onderskeidelik 46% en 26% van witmielies wat hier verbou word.

Alhoewel die syfers van die Vrystaat dié provinsie se totaal weerspieël, word die groter meerderheid van dié provinsie se witmielies deur die meer westelike gedeeltes gelewer. Mpumalanga is die derde grootste witmielieproduserende provinsie in die land en lewer ongeveer 14% van die totale witmielies. In terme van produksie speel die ander provinsies ’n baie kleiner rol in die totale prentjie.

Grafiek 1 toon dat die meeste witmielies in die Vrystaat en Noordwes Provinsie verwerk word – 25% en 21% onderskeidelik. Gauteng is die derde grootste provinsie in terme van witmielieverwerkings en 19% van die witmielies word gemiddeld per jaar hier verwerk. Die Kaapprovinsie (Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap) verwerk ongeveer 12% van die totale witmielies per jaar, terwyl Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal almal minder as 10% van die totale witmielies per jaar verwerk.

In Grafiek 2 word die produksie en verwerking van witmielies met mekaar vergelyk in terme van die tonnemaat geproduseer. Die grafiek toon dat beide die produksie en verwerking in die Vrystaat die hoogste is gevolg deur die Noordwes Provinsie. In hierdie twee provinsies vind die meeste transaksies tussen produksie en verwerking van witmielies plaas.

Mpumalanga verbou ook meer witmielies as wat in die provinsie verbruik word, terwyl die res van die provinsies almal minder mielies produseer as wat verbruik word. Dit beteken dat hierdie provinsies in tekort-situasies is.

Geelmielies
Grafiek 3 dui die gemiddelde produksie en verwerking van geelmielies oor die afgelope sewe seisoene aan. Die Vrystaat is die grootste geelmielieproduserende provinsie oor hierdie tydperk gevolg deur Mpumalanga. Hierdie twee provinsies produseer onderskeidelik 34% en 32% van die totale geelmielie-oes. Die Kaapprovinsie is die derde grootste met ongeveer 13% van die totale oes. (Van die drie provinsies wat saamgevoeg is, produseer die Noord-Kaap die meeste geelmielies.)

In terme van die verwerking van geelmielies blyk dit uit Grafiek 3 dat die meeste geelmielies steeds in Gauteng verwerk word, gevolg deur die Kaapprovinsie. Hierdie twee provinsies verwerk onderskeidelik 28% en 21% van die land se totale geelmielies, Mpumalanga en die Vrystaat albei 15%, die Noordwes Provinsie en Kwa­Zulu-Natal elk 10% en Limpopo verwerk die minste geelmielies van al die provinsies.

Grafiek 4 vergelyk die geelmielieverbouing en verwerking per provinsie in terme van die fisiese tonnemaat geproduseer en verwerk. Dit is duidelik dat die produksie in die Vrystaat, Mpumalanga en die Noordwes Provinsies die verwerking in dié provinsies oorskry. In die meeste van die ander provinsies is die verbouing laer as die verbruik wat hierdie provinsies in tekort-situasies plaas.

Ten slotte
Die inligting in die artikel dui aan dat die meeste van die produksie en verwerking van witmielies mekaar in die Vrystaat en Noordwes Provinsie oorskry. Dit beteken dat die hoogste konsentrasiepunt van transaksies tussen die produksie en ver­werking van witmielies meestal in die westelike gedeeltes van die land plaasvind.

In terme van geelmielies toon die syfers dat alhoewel die meeste verwerking steeds in Gauteng gebeur, ’n groot gedeelte in Mpumalanga en die Vrystaat plaasvind. Dit is ook die geval in terme van produksie. Daaruit kan afgelei word dat die hoogste konsentrasiepunt van transaksies tussen die produksie en verwerking in die meer oostelike gedeeltes van die land behoort te wees, wat Mpumalanga, die Oos-Vrystaat en Gauteng insluit.

Gegewe hierdie inligting en die duidelike verdeling tussen wit- en geelmielies laat dit die vraag ontstaan of die huidige mark­meganisme vir prysbepaling met Randfontein as verwysingspunt, steeds die beste en mees effektiewe alternatief weerspieël.

Publication: January 2019

Section: On farm level