Beeld van ’n beter toekoms

1773

December 2018

JANNIE DE VILLIERS, HUB

Die jaar 2018 sal in georganiseerde landbou bekend staan as die jaar wat grondhervorming op die spits gedryf is. Die beeld wat leiers moet voorhou, is een van ’n beter toekoms. Dit is presies waarmee georganiseerde landbou hom dié jaar besig gehou het.

Onteiening sonder vergoeding verteenwoordig beslis nie vir enigeen ’n beter beeld van die toekoms nie. Dalk vir sommige van die elite, maar beslis nie vir die miljoene stedelinge wat elke dag supermark toe moet gaan om kos te koop nie. Die voorbeelde tydens die Bela-Bela-konferensie het ’n prentjie van ’n beter toekoms geskep. Ons hoop steeds dat dié prentjie sal realiseer.

Terwyl die stropers in die suide dreun (nadat die wind byna die helfte van die oes weggewaai het), het die optimisme van graanprodusente weer eens die asems van elke pessimis in die land weggeslaan met die eerste intensies om te plant: Die oppervlakte wat met somergraan beplant gaan word, is ’n hele 182 190 ha meer as verlede jaar. Wáár die hektare is, maak seker nie saak nie, maar dít is nou vir jou optimisme!

Die winsgewendheid van die graansektor bly ’n rede tot groot kommer. Dit kan maar net nie volhoubaar wees om te hoop dat daar “iets” op internasionale vlak sal gebeur wat winsgewendheid sal verbeter nie: Iets soos ’n hoër olieprys wat die etanolbedryf in die VSA weer laat kop optel, of ’n negatiewe uitkoms ten opsigte van die handelsgevegte tussen die VSA en China.

Dit mag dalk op die kort termyn vir Suid-Afrika se produsente voordele inhou, maar ons sal na iets meer volhoubaars moet soek. Ons Graan SA-spanne is nog volstoom besig om nuwe markte te vind, maar dit neem aansienlik tyd om deur al die administratiewe rompslomp te werk. Dit is veral vir die sojaboonbedryf wat daar na nuwe markte gesoek word.

Om die jaar mee af te sluit, deel ek graag ’n paar sentimente wat op georganiseerde landbou-vlak tog ’n verskil maak en optimisme aanwakker: Die onlangse gesprekke met ons top politieke leiers is op ’n toon gevoer wat verskil van die gewone bakleiery oor die verlede en die hede. Daar is hande van hulp en samewerking uitgesteek – wat nie op al die vlakke afwaarts in die hiërargie ervaar word nie. Ek het beleef dat daar na oplossings gesoek word, wat ons nie net moet ontwikkel en oorhandig nie, maar waarvan ons ook in die toekoms deel moet wees. Dit gee hoop.

Laastens wil Graan SA ook graag vir oom Vic Mouton, wat ons vooruitgegaan het, groet. Hy het bitter diep spore in Graan SA gestap. Ons wil sy bydrae ook graag op hierdie wyse eer.

Publication: December 2018

Section: Features