Russiese koringluis bly ’n bedreiging vir produksie

Gepubliseer: 3 Maart 2025

123
Dr Astrid Jankielsohn, LNR-Kleingraan

Gereelde monitering van die verspreiding van plaag­insekte is deurslaggewend om die plaagdruk in produksiegebiede te verstaan en risikobestuur op gewasse toe te pas. Plaaginsekte soos graan­luise is uiters aanpasbaar: Hulle pas nie slegs aan by ’n veranderende klimaat en omgewingsdruk nie, maar oorkom ook beheerprogramme wat geïmplementeer word om skade op gewasse te beperk.

Monitering van populasies van Russiese koringluis in die ko­ringverbouingsgebiede van Suid-Afrika gedurende die 2024-koringproduksieseisoen het bevestig dat dié plaag steeds hier voorkom. Die plaagdruk van Russiese koringluis was laag in die Swartland- en Rûens-verbouingsgebiede in die Wes-Kaap met slegs ’n 8%-infestasie op die lande gemonitor (Figuur 1). Populasies het voorgekom in die gebied tussen Malmesbury en Moorreesburg in die Swartland, terwyl geen Russiese koringluis voorgekom het in die Rûens nie.

Die lae infestasie hier kan waarskynlik toegeskryf word aan hoë reënval in die lente wat gelei het tot lae temperature en hoë humi­diteit gedurende die tyd wat Russiese koringluis aktief begin raak en versprei. Hierdie omgewingstoestande het ’n negatiewe impak op die voortplanting en verspreiding van die luis gehad. Die populasies wat hier voorgekom het was RWASA1, die oorspronklike Russiese koringluis-biotipe wat ’n lae virulensie het in vergelyking met die ander biotipes.

Figuur 1: Russiese koringluis-biotipeverspreiding in die winterreënvalgebied (Wes-Kaap).

In die somerreënvalgebiede was 83,34% van die lande wat gemonitor is met Russiese koringluis geïnfesteer (Figuur 2). In die besproeiingsgebied by Vaalharts in die Noord-Kaap is geen Russiese koringluis gemonitor nie, terwyl die besproeiingsgebiede in die Wes-Vrystaat ’n 87,5%-infestasie van dié luis op grond van lande gemonitor gehad het. Die biotipe in hierdie gebiede was steeds RWASA1, soos die vorige jare.

Figuur 2: Russiese koringluis-biotipeverspreiding in die somerreënvalgebied.

In die besproeiingsgebiede in KwaZulu-Natal was daar infestasies in die Bergville- en Winterton-omgewings. Die biotipe in die Bergville-omgewing was die meer virulente RWASA5, terwyl die populasies in die Winterton-omgewing die RWASA1-biotipe was. In die droëlandkoringverbouingsgebied van die Oos-Vrystaat was die infestasie van die gemoniteerde lande 83,33%. RWASA5 was die dominante biotipe in hierdie gebied, terwyl net een land in die Villiers-omgewing geïnfesteer was met RWASA1.

Russiese koringluis is dus duidelik steeds teenwoordig in die koringverbouingsgebiede van Suid-Afrika. Die plaag kom sedert 1978 in hierdie gebiede voor en het met tyd aangepas by veranderende omgewingstoestande en die druk van beheerpraktyke. Die biotipes wat in Suid-Afrika voorkom is RWASA1, die oorspronklike biotipe wat in 1978 die eerste keer plaaslik aangeteken is, en RWASA5, die meer virulente biotipe wat in 2018 die eerste keer aangeteken is.

Russiese koringluis

Laasgenoemde biotipe het oor ’n tydperk ontwikkel as gevolg van seleksiedruk van koringkultivars wat weerstandbiedend teen Russiese koringluis is en wat as beheermeganisme geïmplementeer is in die droëlandkoringverbouingsgebied in die Oos-Vrystaat. Daar is tans geen droëlandkoringkultivars op die mark in Suid-Afrika met voldoende weerstand teen RWASA5 nie.

RWASA5 kom dominant in die droëlandkoringverbouings­gebied van die Oos-Vrystaat voor, terwyl RWASA1 dominant voorkom in die winterreënvalgebied in die Wes-Kaap en die besproeiingsgebiede in die Wes-Vrystaat en KwaZulu-Natal. Hierdie verspreiding is die gevolg van aanpas­sing van die Russiese koringluis teen beide druk van veranderde omgewingstoestande en beheerpraktyke toegepas.

Slotopmerking
Solank Russiese koringluis teenwoordig is in die plaaslike koring­verbouingsgebiede, bly dit ’n bedreiging vir koringproduksie in Suid-Afrika aangesien gunstige omgewingstoestande vinnige populasiegroei en verspreiding van die plaag kan veroorsaak. Dit kan lei tot verhoogde voedingskade op koring wat opbrengsverliese tot gevolg kan hê.