Planmakers bevind hul in twee kampe

Gepubliseer: 31 Julie 2020

171

Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Terwyl party graanprodusente stroop en ander die weer dophou vir reën, is daar heelwat grondplate wat besig is om te beweeg en te verskuif. As gevolg van COVID-19 is al die verskuiwings nie altyd so sigbaar nie, tog hou dit groot implikasies vir landbou in.

Noudat dit lyk asof Suid-Afrika genoeg kos het en die rakke steeds vol bly vir die wat nog werk het en die wat kan koop, is die regering besig om planne te maak. Daar is egter twee groepe planmakers. Die eerste groep wil die ekonomie weer aan die gang kry om te begin groei. Dan is daar ’n tweede groep wat die geleentheid wil gebruik om ’n beter posisie te bekom, waarskynlik om voort te gaan met die vernietigende stropery waarvan ons voor COVID-19 by die Zondo-kommissie ’n totale oordosis gekry het.

Die Agriculture and Agro-processing Master Plan-proses (AAMP-proses) bly maar hakerig. Hierdie is weer ’n nuwe plan wat inklusiewe groei in die vooruitsig stel. Die proses wil maar net nie lekker vlot nie en die drywers aan die staat se kant is ook al ’n slag verander. Groot groepe mense is betrokke om insette te gee, waarvan baie nie met die landbou bekend is nie. Tog het hulle nogal sterk opinies oor landbou en veral die politiek ook.

Bekende georganiseerdelandboustrukture word gemarginaliseer. Daar was ook sekere hofuitsprake oor waterregte wat so in die agtergrond deel vorm van die AAMP. Groot implikasies. Ek lees ook in dié dae mense se opinies oor die reuse-uitdaging waarvoor die staat te staan gaan kom ten opsigte van die land se skuld en hoe om dit in die toekoms te befonds. ’n Reddingsaksie deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) mag vir die land groot voordele inhou om weer die ekonomie aan die gang te kry. Die voorwaardes wat hulle stel, sal beslis ’n saak soos onteiening sonder vergoeding taboe verklaar. ’n Kleiner staatsdiens om die regering se rol in die ekonomie te beperk en dit meer bekostigbaar te maak, hou reusebedreigings in vir diegene wat die huidige regeerders sterk ondersteun.

Die magiese middelgrond lê daarin dat ons moet kan groei, maar op ’n inklusiewe wyse. Hierdie twee doelwitte staan in sommige gevalle teenoor mekaar. Dit is ook hier waar die onderhandelinge in die volgende twee maande ’n hoogtepunt gaan bereik. Dit laat my terugdink aan die onderhandelinge van die 1990’s voor die verkiesing. Die resultaat was dat politieke mag op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak (munisipaliteite) oorgegee is. Ekonomiese mag het egter meer met markkragte as met politiek te make. Dis ’n totaal ander onderhandeling. Vir my is dit asof ons nou die fase in die land se geskiedenis bereik het waar ’n groot deel van die onderhandelinge oor ekonomiese mag gaan.

Mislukte staatsbeheerde ondernemings soos Eskom, die Land Bank, SAL en andere sowel as mislukte munisipaliteite is harde feite wat nie van die tafel gevee kan word nie. Hulle prestasie op ekonomiese gebied, selfs as monopolieë, tel nou baie teen hulle. As dit enigsins ’n aanduiding gaan wees oor hoe die ekonomie aan die einde van hierdie deel van ons geskiedenis gaan lyk, sal Suid-Afrika waarskynlik meer as die IMF nodig hê om ons uit te duik. Dis iets wat ons liefs wil vermy. Die geluide van armoede en swaarkry in lande noord van Suid-Afrika is op ’n totaal ander vlak as dit waarmee ons tans stoei.

Onderhandelaars gaan ’n baie moeilike uitdaging hê om die twee doelwitte vir die toekoms te balanseer. Hulle sal hopelik nugter bly om die feite en emosies so te stuur dat ons steeds kan roem op die beste produsente in die wêreld en ook op ’n land wat groei en voedselsekerheid het.