Stiller waters wink eersdaags vir Jannie

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain, foto’s: Helenus Kruger
Gepubliseer: 2 Junie 2021

612

Dit is ’n voorloper wat die witwater van ’n rivier uitsoek, om juis daar – waar intervensie die nodigste is – toe te tree.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder (HUB) van Graan SA sedert 2011, is só ’n voorloper. Na tien jaar aan die stuur van die grootste produsente-organisasie in die land en binne-in die spreekwoordelike witwater van die graanbedryf, het hy vroeg vanjaar sy uittrede op 60 teen Augustus aangekondig. SA Graan/Grain het met hom gesels oor sy loopbaan, die organisasie en sy verwagtinge vir die bedryf.

Swemlesse
Op ’n familieplaas tussen Koffiefontein en Jacobsdal in die Suid-Vrystaat, het Jannie as jong seun reeds die stukrag en energie van landbou ervaar. Met sy weermagopleiding agter die rug, is hy later met ’n Aartappelraad-beurs Kovsies toe om BCom te swot. Dit is hier waar ekonomie en veral landbou-ekonomie ’n voorliefde geword het, wat later sou weerklank vind in die honneurs in ekonomie wat hy verwerf het. Na drie jaar het hy as ekonoom by die Departement van Landbou se bemarkingsraad ingeval en deel geword van die adviesspan wat destyds deur middel van koste-ondersoeke aanbevelings oor die nasionale broodprys moes maak.

Met dié ondervinding het Jannie in 1987 ’n aanstelling by die Nasionale Meulenaarskamer aanvaar en in 1992 het hy die hoof daarvan geword. Na die deregulering van landboubemarking in 1996 en die sluiting van die rade, het hy die mieliebedryf leer ken toe die koring- en mieliemeulenaarskamer saamgesmelt het.

Jannie vertel dat sy 24 jaar by die Nasionale Meulenaarskamer ’n uitstekende leerskool was. “Ek het reeds op ’n vroeë ouderdom met die top- uitvoerende individue in landbou en die regering gewerk en daardeur baie goeie kontakte opgebou. Van hierdie leiers is vandag nog my mentors en ek is dankbaar vir die blootstelling wat ek so vroeg in my loopbaan gehad het.”

Ná die sluiting van die rade het die verwerkingskant die toon aangegee en Jannie glo dat sy vorige ervaring hom toegerus het om ’n rol te kon speel. “Dit is asof die produsentekant met die sluiting van die rade effens teruggestaan het – sterk leierskap was nodig om die pad vorentoe uit te meet. Dit was vir my in daardie tyd ’n voorreg om deel te wees van die stigting van die Suid-Afrikaanse Graan­inligtingsdiens (SAGIS) en die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) asook om die grondwette en konsepte vir dié organisasies te help skryf en voorlê.”

Die witwater roep
Dit was tydens ’n hoëvlakkonferensie oor wêreldvoedselsekerheid in Rome in 2008 – waar lande aangeraai is om hul voedselproduksie teen 2050 te verdubbel – dat Jannie besef het produksie, eerder as verwerking, gaan die voortou neem in die strewe na voedsel­sekerheid.

Die feit dat Graan SA se hoofkantoor voor 2011 in Bothaville gesetel was, het verhoed dat Jannie vroeër reeds die pos as HUB van Graan SA oorweeg het. “Ek het net gevoel dat Bothaville te ver is van die setel waar belangrike regeringsbesluite rakende landbou gemaak word.” Nog ’n rede wat Jannie teruggehou het, was die feit dat hy nooit voorheen in diens van produsente was nie. “Aan die verwerkingskant en as ’n meulenaar is jy as die vyand gesien. Ek het daar geleer hoe uitdagend dit kan wees om produsente gelukkig te hou. Ek het in hierdie tyd egter ’n baie duidelike opdrag van die Here ontvang om te dien en te bemoedig en het daarom die pos aanvaar.”

Jannie meen dat daar in die afgelope tien jaar genoeg geleent­heid was om hierdie roeping uit te leef. “Ek het juis ’n paar jaar gelede ’n analise gedoen van die artikels wat ek oor die tydperk in SA Graan/Grain geskryf het en 70% daarvan was bemoediging aan produsente in moeilike tye. Ek dink in my tyd as HUB het dit vir my nie net gegaan oor winsgrense en die volhoubaarheid van landbou nie, maar ook oor die mense. Daarom was dit vir my belangrik dat die personeel by Graan SA sagte vaardighede soos konflikhantering en onderhandeling onder die knie kry. So kon ons verseker dat ons produsente die nodige ondersteuning en bemoediging gee.”

Op die vraag hoe die werksomgewing aan die verwerkingskant verskil van primêre produksie, sê Jannie die produsente se vermoë om risiko met vasberade geloof aan te durf, het hom verstom.

“Die maalbedryf is kapitaalintensief – jou somme moet 100% klop en ten minste drie persone teken ’n besluit af. Daar is dus baie sekerheid rondom besluite en aktiwiteite. Maar wanneer jy as produsent R10 miljoen leen om saad in die grond te sit en dan te wag vir reën, is jou aptyt vir risiko noemenswaardig.”

Jannie noem ook tong in die kies dat hy gewoond moes raak aan “hoogspringvergaderings”, soos hy daarna verwys. “Sodra jy dit regkry om op ’n sekere hoogte oor die lat te spring, skuif die produsente die lat hoër, terwyl krediet vir wat goed gedoen is, dikwels agterweë bly. Dit is iets wat ek binne die kultuur van die organisasie wou sien verander – deur erkenning deel van ons bedrywighede te maak, glo ek ’n nuwe manier van doen het posgevat.”

“Iets wat ek beslis as ’n laagtepunt ervaar het, is produsente wat nie kan saamstaan nie en wat dan daartoe lei dat eenheid ontbreek … eenheid in landbou, maar ook eenheid onder lede. Elkeen wil sy eie rigting inslaan; of dit nou oor differensiale of die betaling van heffings is, daar sal altyd uiteenlopende sieninge wees en dit is moeilik om die produsente om dieselfde tafel te kry.”

Een van die groot lesse wat Jannie in sy tyd as HUB van Graan SA geleer het, is dat ’n leier nie altyd na die paviljoen kan luister nie. “As ’n leier moet jy genoeg vertroue in jou leierskap en in die vermoë van jou span hê om by die wedstrydplan te bly. Ek moes ook leer om met groot hoeveelhede mense en spanne van mense te kan werk. Om te delegeer en uit te vind waar elkeen se sterkpunte lê, is een van die vaardighede wat ek in dié tyd moes aanleer.”

Organisasiekultuur
Die doelwit om te dien en te bemoedig het ’n groot impak op die kultuur van Graan SA gehad. Jannie verduidelik dat hoë konflik en hoë emosie aanvanklik aan die orde van die dag was, maar dat die benadering om personeel en hoofbestuurslede se sagte vaardighede te ontwikkel voorwaar ’n ver­andering in die kultuur van die organisasie aangehelp het. “Ons is nou baie meer ingestel om te onderhandel en konsensus te soek. Dit was vir my ’n groot doelwit – waarin ek glo ons wel kon slaag – en vandag is ek trots op die kultuur wat ons binne die organisasie kon vestig.”

Ander mylpale wat Jannie wou bereik was om die Graan SA-span toe te rus om ’n professionele diens te lewer. Dit was byvoorbeeld vir hom belangrik dat Graan SA-ekonome in staat moes wees om op ’n professionele manier ’n opinie en ’n analise te kan verskaf.

“Ek is dankbaar dat die organisasie vir my ruimte gegee het om my visie te vestig en om nuwe projekte aan te pak en nuwe geleenthede te skep. Die Leierskaps­akademie is ’n voorbeeld daarvan. Hierdie inisiatief is vir my ’n wonderlike nalatenskap om agter te laat. Leierskap in landbou is baie belangrik en een van my passies. Daar is baie mense binne landbou wat kommentaar kan lewer, maar die kapasiteit om beleid te debatteer en te formuleer moet uitgebrei word.”

“Nog ’n doelwit wat ek vir myself gestel het, was om die landbou-ontwikkelingsinisiatiewe so in te rig dat dit volhoubaar is. Hoewel ons nie altyd die erkenning van die regering af kry nie, weet ek dat ons programme en personeel reeds baanbrekerswerk gedoen het.” Jannie vertel dat een van sy hoogtepunte in die afgelope tien jaar die besoeke aan die 1 ha-boere was. “Om te besef dat jy inspraak het om lewens te verander en om met mense op grondvlak te praat, het ons harte aangeraak. Dit het ’n groot dryf­veer vir my en die span geword en al was die omstandighede moeilik en finansies nie altyd beskikbaar nie, glo ek Graan SA het in die afgelope paar jaar baie lewens verander.”

Op nasionale en ook kontinentale vlak is Graan SA se bydrae om voedselsekerheid te bevorder nog een van die maniere waarop ’n positiewe impak gemaak word. “Ek glo dat Graan SA in die laaste tien jaar gehelp sorg het dat daar genoeg bekostigbare voedsel in die land is.”

“Om lewens te verander, het ’n groot dryfveer vir my en die span geword,” gesels Jannie de Villiers, uittredende HUB van Graan SA, oor sy jare aan die stuur van die organisasie.

Toekoms van die graanbedryf
Jannie se droom vir die graanbedryf is dat die waardeketting van waardetoegevoegde produkte uitgebrei word. “Graan se groei gaan nie bewerkstellig word deur mielies na Japan uit te voer nie, maar deur byvoorbeeld hoendervleisuitvoere.

“Vir my is dit ook baie belangrik dat die teling-en-tegnologieheffings vir koring, gars en sojabone voortgaan en soos verwag word, uitbrei na lupiene, grondboontjies en ander gewasse. Ten spyte van swak ondersteuning van die regering en moeilike klimaats­omstandighede gaan nuwe tegnologie ons produsente daardie nodige hupstoot gee in die toekoms.

“Ek sal graag wil sien dat groeperinge in landbou nader aan mekaar beweeg. Die voortdurende stig van nuwe organisasies eerder as om ons verskille uit te sorteer, gaan landbou kniehalter. As ons saamstaan en uitreik na ons buurlande om hulle te ondersteun met die kennis wat ons hier in Suid-Afrika opgebou het, gaan ons verseker dat die landboupotensiaal wat daar in Afrika is, ontgin word.

Graan SA se pad vorentoe
“Ek droom dat meer produsente sal deel word van die Graan SA-familie … dat hulle sal besef watter bydrae Graan SA maak en dat die organisasie billike erkenning sal kry en nie volgens politiek geëvalueer sal word nie.

“Vir die landbou-ontwikkelingsprogramme is my hoop dat ons mooi suksesstories van swart kommersiële boere sal sien waar daar volhoubaar geboer word, ledegeld betaal word en daardie boere volkome deel van die strukture word. Integrasie gaan ons vorentoe neem.”

Vir Jannie was dit ’n geestelike besluit om uit te tree eerder as om af te tree. “Ek wil gaan herkalibreer om uit te vind waar ek volgende bruikbaar kan wees vir landbou. Hiermee stap ek nie weg van die roeping om te dien en te bemoedig nie. Ek behoort aan landbou en sal graag nog as mentor ’n rol wil speel. En dan sien ek uit daarna om weer boeke te lees en tyd met familie te spandeer. My familie was my steunpilaar in die tien jaar by Graan SA. Al was die waters daar buite woelig, kon ek altyd terugkeer na ’n huis van vrede – en daarvoor is ek my vrou, Retha, en kinders baie dankbaar.”

“Ek glo onwrikbaar dat landbou dié sektor is wat die land gaan help genees,” sluit Jannie af.

Hier’s sy tien hoogtepunte…

  • Om platforms te kon skep waar ander rolspelers kan deelneem. Hier dink ek aan NAMPO, die Leierskaps­akademie, SA Graan/Grain-tydskrif, die landbou-ontwikkelingsprogram en die navorsingskonsortiums.
  • Die koringomdraaistrategie is ’n langtermynprojek wat deur Andries Theron begin is. Ek is opgewonde oor wat tot dusver bereik is en wat nog gaan kom.
  • Ek is bly dat ons ons strategie kon verander om meer uitvoergerig te raak. Om soveel as moontlik te produseer om ook te kan uitvoer, is wat landbou volhoubaar gaan maak. Ek glo dat ons hierdie seisoen ’n nuwe rekord van uitvoere gaan sien.
  • Die teling-en-tegnologieheffings as statutêre maatreëls gaan vir seker daartoe bydra dat Suid-Afrika se produsente, wat reeds die beste in die wêreld is, nog beter vaar.
  • SAGIS en SAGL, wat van groot waarde vir die bedryf is, se daarstelling was beslis vir my ’n hoogtepunt. Hierdie instansies is vandag internasionaal geakkrediteer en gereken as van die beste in die wêreld.
  • Die groei in die sojaboonbedryf is iets waaroor ek baie opgewonde is en sal dophou in die toekoms.
  • Een van my grootste hoogtepunte was die reis van meer as 1 200 km wat ek saam met my seun deur die binnelandse produksiegebiede kon neem om die effek van die droogte in 2016 eerstehands te ervaar. Dit het my diep geraak en dit was goed dat ek die reis meegemaak het. Toe die reën middel Januarie val, het produsente 700 000 ha in tien dae se tyd geplant. Dit het vir my gewys wat ons kapasiteit vir voedselsekerheid in Suid-Afrika is. Dit het die land gered, want ons sou nie daardie hektare se mielies kon invoer nie en die land sou nie genoeg voedsel gehad nie.
  • Die feit dat ons as Graan SA vir tien jaar skoon oudits ontvang het, maak my trots op die span en die harde werk wat hulle insit.
  • Graan SA se insette by grondhervormingsdebatte en die feit dat ons graanprodusente se standpunt in die Parlement kon stel, was vir my ’n hoogtepunt. Ons deelname as georganiseerde landbou is van kritieke belang en ek is dankbaar dat ons deel gehad het aan die gesprekke om hopelik te kon keer dat die Grondwet verander word.
  • Die stigting en daarstel van die graannavorsingskonsortiums en die strategiese besluite wat geneem is, lê my na aan die hart. Daar is ongelooflike potensiaal en ons verhouding met die regering in dié verband is goed. My droom is om te sien dat hierdie platform selfs sterker word sodat ons Afrika se voedselsekerheid saam kan verseker.