PLAASLIKE VEERKRAG BINNE GLOBALE LANDBOU

Gepubliseer: 8 Mei 2025

152
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

WANNEER NAMPO PARK SE HEKKE ELKE HERFS VIR DIE NAMPO OESDAG OPEN, WORD BOTHAVILLE ’N INTERNASIONALE ONTMOETINGSPLEK. BRASILIAANSE LANDBOUKUNDIGES VERGELYK NOTAS MET PRODUSENTE VAN BULTFONTEIN, NUWE NEDERLANDSE MAATSKAPPYE DEMONSTREER LA­SERONKRUIDBEHEER LANGS TUISGEBOUDE GEENBEWERKINGPLANTERS EN FINANSIERS EN DIPLOMATE VAN CHICAGO TOT SJANGHAI MAAK HAASTIG PLANNE OM DIE VOLGENDE VOORSIENINGSKETTING TE VERWESENLIK.

Dit bevestig dat Suid-Afrikaanse graanproduksie nie net ’n plaaslike speletjie is wat hier op Afrika-bodem plaasvind nie, dit is ’n nodus in ’n rustelose wêreldstelsel met hoë insette – en op die oomblik is daardie stelsel ontwrig.

Trump se tariefpraatjies was ’n sneller vir wat ekonome “reshoring” noem (basies die terugverskuiwing van produksie en vervaardiging van goedere na ’n maatskappy se land van oorsprong). Die res van ons het hierdie wisselvalligheid ervaar as prysstygings en gekanselleerde transaksies. China se beperking op die invoer van mielies en sojabone uit die VSA het handelsvloei geskok. Brasilië en Argentinië het ingetree, die Swart See het probeer, kopers soos Egipte en Viëtnam het hulle na die suide gewend en Suid-Afrika moet homself posisioneer om ’n deel van die handelspastei te verseker. Wisselvalligheid het egter ’n invloed na beide kante toe. Gesubsidieerde surplus- Amerikaanse graan kan sleutelmarkte soos Kenia, Japan en selfs Mosambiek oorstroom. Wat ons by NAMPO kan leer is om rats te bly, vroeg kontrakte te sluit en markte te laat groei buite die gemaksone van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Die Rooi See-skeepvaartkrisis het die wêreldkaart oornag laat verander. ’n Massavragskip wat herlei word om die Kaap, voeg sowat R850 000 se brandstof en skeepshuurkoste by – uitgawes wat ’n rimpeleffek het op versekering, vragaanbiedinge en uiteindelik produsentepryse. Intussen is sommige Europese ammoniak­aanlegte steeds sedert 2022 se gaskrisis uit produksie, wat stikstofpryse ongeveer 15% bo hul tienjaargemiddeld hou. Deesdae beweeg vervoer- en kunsmispryse wild op en af, wat bydra tot die reënval en ander risiko’s wat ons bestuur.

Daar is egter goeie nuus. Produsente in Afrika en die Midde-Ooste stort dollars in groenammoniak-projekte wat geskeduleer is om die mark vanaf 2026 te bereik. Indien dit suksesvol is, sal die langtermynstikstofvooruitsigte verbeter en ’n “groen” premie kan ontstaan vir gewasse met ’n verifieerbaar lae koolstofkunsmisvoetspoor. Dit is die soort tegnologiegeleentheid wat graanprodusente vanjaar by NAMPO kan verken.

By NAMPO sal jy oplossings vind wat jy nie eers geweet het jy het nodig nie, soos hommeltuie wat stamkwaliteit binne minute karteer, plantersagteware wat die populasie aanpas vir elke vyf meter grondpotensiaal of saadbehandelings wat ureumverbruik verminder. Hierdie is nie net tegnologie vir vertoon nie. In ’n wêreld van stygende diesel-, skuld- en datakoste kan R5/ton minder die verskil tussen wins en verlies beteken.

Die groot sprong is om hierdie gereedskap te integreer. Kan produsente byvoorbeeld hul satellietbeelde met ander s’n saamvoeg om afslag by ’n maatskappy te verkry of om oesversekeringspremies te verminder? Kan laseronkruidbeheer onder spilpunte gebruik word met besparing op onkruiddoder wat die finansieringskoste van hierdie gereedskap dek? Dit verander globale tegnologie in ’n werklik mededingende voordeel en bewys dat “globale landbou plaaslik” meer as net ’n slagspreuk is.

Vanaf 30 Desember 2025 moet sojabone wat Europa binnekom ’n geografieseliggingbewys hê dat dit nie op natuurlike plantegroei inbreuk gemaak het nie. Soortgelyke ontbos­singsreëls bestaan – en graan kan volgende wees. Koolstofgrensaanpassingsmeganismes lê en wag met ’n toekoms waar voldoeningsdokumentasie byna in ’n fisiese kommoditeit sal verander. Proaktiewe Suid-Afrikaanse graanprodusente wat elke vrag van veld tot vaartuig kan naspoor, sal premies verdien of die risiko moet loop om uitgesluit te word.

Die Oesdag bied aan ons ’n proefbed en vertoon verskillende idees by die Graan SA-navorsingstalletjie, die biotegnologie-paviljoen en die sagteware-stalletjies. Dis ons verantwoordelikheid om hierdie idees in geleent­hede te omskep voor Brussel of Sjanghai dit in regulasies verander.

Agter elke blink stroper by NAMPO skuil daar ’n ongemaklike werklikheid. Suid-Afrikaanse produsente ding wêreldwyd mee met minimale staatsondersteuning. Terwyl Brasiliane gunstige kredietvoorwaardes het en Europeërs staatmaak op ’n gemeenskaplike landboubeleid (GLB), moet ons ’n wisselvallige rand, brandstofheffings en ’n skraal dieselkorting trotseer. Ons mede­dingendheid moet spruit uit vennootskappe tussen private navorsers en Graan SA-proewe wat deur produsente befonds word en koöperasies wat met nuwe maatskappye saamwerk en wat toenemend risiko in data prys, nie in staaltjies nie.

NAMPO Oesdag is ons venster op die wêreld en die wêreld s’n op ons. Die gesprekke daar moet ons huis toe volg tot by die trekkerskuur, die bankbe­stuurder se kantoor en studie­groepe. Wêreldwye landboureëls bly veran­der. Ons taak is om daardie ge­raas deur plaaslike kennis te filter en op te tree voordat die volgende oesbegroting gefinaliseer word. Dit is hoe ’n graanproduserende nasie aan die punt van Afrika wêreldwyd relevant bly. Neem ten minste een nuwe idee terug plaas toe. Die wêreld gaan nie wag nie – ons kan ook nie.