Dekgewasse se invloed op die vloei van voer, vee en kontant

1908
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Dekgewasse en die beweiding daarvan begin al hoe meer aftrek kry. Aanvanklik is net die dekgewasse aangeplant, maar deesdae word dit ook as ’n bron van voer vir die vee gesien. Alhoewel hierdie stelsel altyd mooi vertoon, het dit ook maar slaggate en probleme.

Die doel van die stelsel is hoofsaaklik om grondgesondheid te verbeter, bedekking op die grond te laat en om biodiversiteit te verhoog. Dit is belangrik om te besef dat hierdie ’n produksiestelsel is waarin produsente moet ingroei. Winste moet teruggeploeg word om sodoende die stelsel uit te brei, maar daar moet ook ’n skuif in bates wees.

Produsente moet verstaan hoe die stelsel werk, wat die belangrikste aspekte is en hoe dié aspekte mekaar kan komplementeer of penaliseer. Die dekgewasse produseer ’n sekere hoeveelheid materiaal wat deur die vee benut kan word en dit is die produsent se taak om te verseker dat daar genoeg voer of vee vir elke stadium van die jaar is. Die eerste twee “vloeie” waaraan ’n produsent dus baie aandag moet skenk, is voervloei en veevloei.

Die belangrikheid van voervloei
Elke voergewas wat geplant word, beskik oor ’n eie produksiekurwe. Sommige gewasse spring vinnig weg, groei dat dit bars en neem ook soms vinnig af. Ander gewasse is stadig uit die blokke, maar bly baie langer aan die groei, met ’n piek in produksie wat eers heelwat later realiseer. Gegewe die gewasse wat saam geplant word, gaan daar ’n sekere hoeveelheid voer geproduseer word.

Dit is belangrik dat die produsent weet hoeveel voer wanneer beskikbaar sal wees. Bepaal ook indien moontlik hoe die gewas gaan presteer as die voer bewei word. Besluit of daar genoeg hergroei gaan wees om die nodige bedekking daar te laat en of die vee so bestuur moet word dat daar nog genoeg materiaal gelaat word om ’n goeie bedekking te verseker. Dis belangrik dat daar na afloop van beweiding genoeg bedekking en genoeg lewende wortels in die grond moet agterbly.

Die voer se voedingswaarde sal bepaal hoe die vee groei. Dis belangrik om te weet wat die energiewaardes van die verskillende ruvoerbronne is. Dié waardes van die verskillende gewasse word in metaboliseerbare energie (ME) gemeet en as MJ/kg uitgedruk. Die totale verteerbare voedingstowwe (TVV) van ’n voer is ook belangrike inligting – dis ’n verdere aanduiding van die energiewaarde van die voer.

Energie-inname (in terme van TVV- of ME-inname) is die pasaangeër vir produksie. Hoe hoër die energie-inname van die dier, hoe hoër is die produksie – mits die ander noodsaaklike voedingstowwe in die korrekte verhouding en hoeveelheid ingeneem word. Indien die dier ’n hoë energie-inname het, maar die proteïen­inname is te laag, sal die dier se stelsel begin om die spiere af te breek om die proteïentekort aan te vul. Vir optimale benutting van die ingenome voedingstowwe moet die energie- en proteïeninname dus altyd in ’n spesifieke verhouding wees. Vir elke produksiefunksie of -stadium word ’n sekere hoeveelheid energie deur die dier benodig om optimale prestasie te verseker. Die produsent moet sorg dat die verhoudings tussen die elemente altyd reg is.

Vir herkouers is droëmateriaal die basis waarop hulle voerverbruik uitgedruk word, of dit nou van veld of aangeplante weiding kom. Alle voere moet na droëmateriaal omgeskakel word om dit met mekaar vergelykbaar te maak. As duimreël word gewoonlik aanvaar dat elke dier ongeveer 3% van sy liggaamsmassa as droëmateriaal sal verbruik. Dus sal ’n speenkalf wat 200 kg weeg en 500 g per dag groei, ongeveer 6 kg droëmateriaal benodig, tesame met 518 g proteïen en 3,4 kg energie. Daar is verskeie tabelle wat diere se voedingsbehoeftes aandui. Die Nasionale Navorsingsraad (NRC) se Nutrient requirements of domestic animals is ’n baie goeie bron wat wyd in die industrie gebruik word.

Die voer se produksie moet ook na droëmateriaal omgeskakel word. Soms mag die voer dalk gekuil word. As mielies as voorbeeld gebruik word, kan daar maklik 31 ton materiaal per hektaar geproduseer word. ’n Groot deel hiervan (ongeveer 65%) is egter vog. Dit beteken dat daar net 11 ton droëmateriaal per hektaar geproduseer word. Voersorghum, ’n gewas wat dikwels aangeplant word, se opbrengs kan wissel tussen 4 ton en 20 ton droëmateriaal per hektaar, afhangend van die reënval.

Dis belangrik om die produksie van elke gewas wat aangeplant word, te bepaal. Dit moet dan na droëmateriaal omgeskakel word om sodoende vas te stel hoeveel diere aangehou kan word. As die gewas wat geplant is, bekend is, moet die gesamentlike samestelling van die voer bepaal word. Bepaal die vogpersentasie, proteïensamestelling en die gewas se energie-inhoud. Hierdie voersamestelling sal bepaal watter addisionele lekke bykomend gevoer moet word.

Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die hoeveelheid voer binne die seisoen verskil. Daar is met die ekstra dekgewasse meer voer in die somer beskikbaar, terwyl die hoeveelheid voer in die winter weer minder is. In totaal is daar met die ekstra dekgewasse ongeveer 325 ton droëmateriaal ekstra. Dit beteken dat die produsent sy aanwending van die voer sal moet heroorweeg. Die oulandsgras kan moontlik gesny en gebaal word en in die winter vir die vee gevoer word of miskien moet die oulandsgras in die lente as bale en as deurwasde oulandsgras gebruik word.

Daar kan ook op klein skaal van die dekgewasse kuilvoer gemaak word, maar maak net seker dat daar op ’n manier weer ’n bedekking op die grond verkry word. Sommige produsente maak reeds kuilvoer in silosakke waar die kwaliteit van die voer baie goed is. Dié kuilvoer kan later vir die vee gevoer word, wanneer hulle nog nie markgereed is nie. ’n Hoë-energiedieet kan verder oorweeg word om sodoende te verseker dat vee markklaar sal wees tydens slag.

Met die inbring van dekgewasse moet die hele veebestuurstelsel aangepas word, maar die redes waarom die dekgewasse aanvanklik aangeplant is, moet steeds nie vergeet word nie. Dis noodsaaklik dat daar na afloop van beweiding genoeg bedekking en genoeg lewende wortels in die grond moet oor wees.

Die belangrikheid van veevloei
Sodra die voerbronne op ’n plaas aangepas word, moet die vee hierby aanpas. Met die ekstra dekgewasse kan die drakrag maklik oorskat of onderskat word. Sny dus ’n steekproef en weeg dit om die regte syfer te verkry.

Nie net sal die veegetalle aangepas moet word nie, maar ook die veeproduksiestelsel. Dit is van uiterste belang dat die vleis wat op die aangeplante weiding of dekgewasse geproduseer word, bemark moet word. Dit help nie die koeie is blinkvet en gaan dan terug veld toe om die vet daar te verloor nie. Die vet moet verkoop word. Met die ekstra somerdekgewasse kan daar gekyk word na ’n osboerdery of oorweeg word om die kalwers langer te hou. Dit sal verseker in die eerste jaar ’n reuse-impak op die kontantvloei asook die voervloei hê.

Die plaas in die voorbeeld kan 300 koeie in ’n speenkalfstelsel akkommodeer. Indien die dekgewasse aangeplant word, sal daar meer vee aangehou moet word om die addisionele 325 ton droëmateriaal te benut. As aanvaar word dat ’n speenkalf 10 kg droëmateriaal per dag vreet en dat die diere daar moet bly vir 120 dae, sal dit beteken dat die 325 ton droëmateriaal ’n addisionele 270 diere van kos kan voorsien. Produsente moet weet dat die vee daar moet wees wanneer daar surplus kos is, in dié geval van Desember tot en met Maart. Die vee kan ingekoop word of, indien die voervloei dit toelaat, kan eie kalwers terughou word om later te bemark. In hierdie geval sal die vee ingekoop moet word.

Dit is uiters belangrik om te onthou dat die vee na die weiding geneem moet word en nie andersom nie. Vee is toegerus met hulle eie maal- en vervoermasjiene om die weiding in vleis om te skakel.

Kontantvloei-implikasies
Die uitbreiding na ’n veevertakking om die dekgewasse te bewei, sal die bedryfskapitaalbehoefte van die boerdery dramaties verhoog. Daar moet nou voorsiening gemaak word vir die vestiging van die aangeplante weiding, vir die vee om die weiding te benut asook vir die addisionele bedryfskapitaal om die vee markklaar te kry.

In hierdie stelsel is die groot uitgawe – ongeveer 85% – die aankoop van die vee. As aanvaar word dat die speenkalfprys R30 per kilogram is en ’n kalf 220 kg weeg, sal begroot moet word vir R1 782 000 om die addisionele 270 diere aan te koop.

Hierdie kapitale uitleg moet besonder goed bestuur word. Vleispryse is baie elasties en dit sal in ’n groot mate die winste bepaal. Dit is so dat dekgewasse ’n versteekte inkomste inhou. Die opvolgende gewasse wat op dekgewaslande geplant word, kan beter presteer en dit kan die stelsel se winste verhoog. Sonder die inrekening van die addisionele inkomste as gevolg van wisselbou, kan die stelsel ’n wins van ongeveer 12% toon.

Met die vestiging van die dekgewasse moet aanvanklik nie ’n te groot tree gegee word nie. Groei in die stelsel in – gebruik die wins wat gemaak word om die aanplant van die dekgewasse uit te brei. As so ’n stelsel ’n langtermyndeel van die boerdery gaan word, oorweeg die verkoop van onbenutte bates om hierdie kapitaal om te skakel om vee mee te koop. Dit sal definitief die winste verhoog.

In komende artikels sal daar verwys word na die beweiding van dekgewasse asook na watter addisionele voer toegedien moet word om vee op die weiding af te rond.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.