Ontwikkeling van hoë-opbrengs­koringkultivars – ’n ander perspektief

1180
Dr Francois Koekemoer,
direkteur: Navorsing en Ontwikkeling, Sensako

Die gesprekke rondom plaaslike koringproduksie en die volhoubaarheid van die koringbedryf in Suid-Afrika is reeds ’n geruime tyd aan die gang. Verskeie rolspelers – wat Graan SA, LNR-Kleingraan, produsente en saadmaatskappye insluit – is besig met ’n proses om die bedryf se inkrimping strategies te probeer omdraai.

Van die beplande doelwitte is reeds in die implementeringsfase – soos ’n verslapping in die graderingsregulasies wat hektolitermassa betref en om kwaliteitsvereistes met vrystellings te verbreed. Verder werk elke rolspeler aan doelwitte om die koringbedryf weer vir die produsent ’n winsgewende opsie te maak. Van belang vir die waardeketting is nuwe en verbeterde koringkultivars wat sal voldoen aan die produsent, aankoper en verwerker se uiteenlopende vereistes.

Artikels wat onlangs in die pers verskyn het, fokus op LNR-Kleingraan se benadering om koringopbrengs te verhoog terwyl gewenste graankwaliteitseienskappe steeds deel vorm van die prentjie (SA Graan/Grain, Mei 2019, bladsy 70 – 72; SA Graan/Grain, Junie 2019, blad­sy 9 – 11; Koringfokus, Julie/Augustus 2019).

Eerstejaarproef
In dié artikels rapporteer die outeurs oor ’n niegerepliseerde eerstejaarproef wat by Bethlehem met die hand in 2 m lange enkelrye aangeplant is. Die proef het koringlyne uit internasionale kwekerye (lentekorings) met plaaslike kultivars vergelyk onder ’n gesimuleerde “normale” reënvalseisoen deur gebrekkige reënval tot ’n mate met besproeiing aan te vul. (Bethlehem is ’n produksie-area wat nie geskik is vir lentekoringtipes nie.)

Die duisendkorrelmassa van 32 g wat gerapporteer is in die studie rakende die standaarde dui aan dat die standaardkultivars erge stres ondervind het, aangesien gesonde korrels gewoonlik ten minste ’n duisendkorrelmassa van 37 g en hoër lewer. Dus is die standaarde gepenaliseer teenoor die prestasie van kiemplasma afkomstig vanaf die kwekerye. Sensako toets jaarliks ook dieselfde kwekerye, maar hoofsaaklik in persele (5 m x 6 rye, met 17 cm-tussenryspasiëring = 5,1 m2) en nie 2 m-enkelrye nie.

Opbrengsresultate uit dié evaluasie dui positiewe aspekte aan met kiemplasma wat uitermatig goeie opbrengste gelewer het. Die kwaliteitsaspekte van die standaarde wat getoets is, het soos verwag aan die vereistes voldoen, terwyl die hoë opbrengslyne laer, maar steeds aanvaarbare graderings gelewer het. Dat daar koringlyne bestaan wat die potensiaal het om beter opbrengste te lewer, is die korrekte gevolgtrekking, alhoewel dit nie nuwe inligting is nie.

Kultivarontwikkelingsproses
Sensako bedryf drie koringteelprogramme en deur die uitruiling en toetsing van plaaslike en internasionale kiemplasma vorm dit die basis van ons kultivarontwikkelingspogings. Kiemplasma en lyne met hoë opbrengspotensiaal soortgelyk aan dié wat LNR-Kleingraan gerapporteer het, word deurgaans geïdentifiseer en geselekteer vir verdere evaluasie.

Seleksie vir opbrengs word reeds in die vroeë fases van kultivarontwikkeling vasgelê. Om goeie lyne te selekteer om verdere ontwikkeling mee te doen, is dus maar ’n gegewe seleksiekriterium.

Die volgende stappe in die kultivarontwikkelingsproses is egter belangrik. Dit behels goeie graankwaliteit, siekteweerstand, agronomiese eienskappe asook aanpasbaarheid om te kombineer in ’n lyn wat presteer oor die wye produksie-omgewings wat in koringproduksie ervaar word.

Groter prentjie
Soos verwag kan word, wil die koringprodusent graag die “nuwe” hoë-opbrengskultivars aanplant. Die werklikheid is egter dat die hoë verwagtinge in opbrengs soos uit enkele resultate waargeneem in die beginfases van kultivarontwikkeling, onrealisties is in die groter prentjie van koringverbouing. Dit word ook gestaaf deur internasionale opbrengsvordering, hoofsaaklik waargeneem tussen 1% en 2% per jaar in produksiegebiede wat heelwat meer geskik is vir koringproduksie as Suid-Afrika.

Die invloed van omgewing op die groei, ontwikkeling en opbrengs van koringkultivars is welbekend en die uitdaging is om ’n kultivar vry te stel wat in elke produksiegebied die beste stabiliteit en opbrengsreaksie oor jare sal toon.

Verder moet die lyne met goeie opbrengs deur verskeie verdere fases gaan om opbrengsresultate oor tyd en gebiede te genereer. Uit dure ondervinding is geleer dat die “resiesperde” wat soms geïdentifiseer word, nie op alle bane dieselfde sal presteer nie, veral as omgewingstoestande nie optimaal is vir prestasiebepaling nie.

Onthou ook dat aanvanklike kiemplasma-evaluasies nie altyd verteenwoordigende agronomiese praktyke vir verbouing volg soos in kommersiële produksie nie. Dit sluit saaidigtheid, bemesting, rywydtes en vele ander aspekte in wat die groei, stoelvorming, aantal are met rypwording, duisendkorrelmassa van die graan asook opbrengs help bepaal.

Op byeenkomste en boeredae oor die afgelope jaar is die proses van kultivarontwikkeling volledig bespreek en die kompleksiteit van opbrengsverhoging met al die ander eienskappe wat van ’n kultivar verlang word, is uitgelig.

Die fases van ontwikkeling van ’n verbeterde koringkultivar neem tyd en alhoewel opbrengs ’n belangrike seleksiekriterium is, is die doelwit om die beste kombinasie van al die vereiste eienskappe in ’n geskikte kultivar te kombineer – tot voordeel van die produsent.