Om faf te gaan

1910

Beste Grootneef

Die jaar snel met ’n spoed ten einde na die dubbeldoor van 2020. Waarheen is al die tydkorrels wat deur 2019 se uurglas geval het?

Ou Neef, Faf het vanjaar vir ons hope vreugde losgeskop. Soms het die Republiek vír Faf geskree. In die wedstryd teen Wallis, het die mense egter óp Faf geskree. Oor hy so baie skop in hom het! En toe wen die Bokke die Ingelse in die eindstryd.

Die grootste bonus van die eindtelling was Eddie Jones se suur gesig. Die week voor die wedstryd het hy die Wit Truie dag en nag laat balle vang. Water, kussings, brekfis, busse, alles moes gevang word – en toe pass Faf die bal en die Ingelse is heel deurmekaar.

Buurman sê hy het nou ’n faf in sy stap. Die Bokke se sukses en energie het deurgesyfer na die hele distrik. Almal het soos wêreldkampioene gevoel en vir ’n wyle die droogte en die sorge van die lewe vergeet.

Ou Neef, watter soet klontjies kan ons saamvat uit die Bokke se oorwinning?

Die eerste een: As jou stootskrapers moeg is, stuur sewe nuwes op die veld om die bal oop te ploeg. Vars bene maak ’n verskil. Vat nou en dan ’n breek om daai kuite vars te hou.

’n Tweede een om aan te suig, is die wonder van veelheid. Hoe vervelig sou die lewe nie gewees het as ons almal dieselfde gelyk en gedoen het nie. ’n Veelheid kan verder rolmaal as ’n enkeling. As jy vinnig wil beweeg, doen dit op jou eie. Maar dan kan jy geïsoleer raak en die bal kan afgevat word. As jy wil vorder, rolmaal as ’n span en beskerm die baldraer.

Nog een om aan te kou: Die begintelling van ’n toernooi is nie die eindtelling nie. Soos Naas gesê het, die Curriebeker word nie in Meimaand gewen nie.

’n Ander soetetjie – dis oukei om foute op die veld te maak. Soms is die bal só natgedou, dit glip uit enige greep uit. Dis hoe jy die fout regmaak, wat tel. Gaan vir die bal. Speel voluit. Die toeskouers vergeet gou van netnou se aanslaan as die bal deur die agterlyn seil.

So ’n laaste klontjie vir die kies: Pas aan wanneer dit nodig is. As die hoë balle nie werk nie – laat loop die bal. Breek binnetoe. Gee ’n rolskop. Gee vir Colbe. Gee alles. Moet net nie moed opgee nie. Daar is altyd ’n plan te maak. En as jy regtig nie weet wat om te maak nie, vra vir Rassie. Hy kyk met ’n ander visie na die wedstryd. Soms is jy so vasgevang deur die ander span se onkantspel dat jy die gaping miskyk. En dan kan iemand wat net effe verder van die oond af is, raadgee.

Ou Neef, die OR Tambo-vlieghawe was met die Bokke se terugkeer voller as Loftus. Want die Bokke het nie net ’n trofee teruggebring nie – hulle het ook ’n klomp hoop kom uitdeel. Hoop dat gewone mense as ’n span die uitsonderlike kan vermag.

Maar as ons gedink het die mense word saamgesnoer deur die Bokke se oorwinning – hoe sal die mense van die land nie juig as oom Cyril in 2020 vir die gróót beker gaan nie. Met suiwer laagvatte op die korruptes wat steelkant om wil breek. Of met rolmale om drieë vir reg en orde te druk. Wat van vinnige agterlynbewegings om veld te wen vir plaasveiligheid? Of ’n kortskoppie nou en dan om die kragvatters en ander Gupta’s aan die pen te laat ry?

Oom Cyril, die mense van die land wil die telbord vir geregtigheid sien rol. Die paviljoene gaan egter leeg en stil raak as die span korrupte staatskapers die oorhand kry.

Gaan faf, oom Cyril, gaan faf! Wen die beker vir ons land! Want dit is nie ’n wedstryd wat oorgespeel kan word nie.

Groete op die Oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.