
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
DIE PRESTASIE VAN DIE EKONOMIE WORD GROOTLIKS BEÏNVLOED DEUR ’N HANDVOL SLEUTELAANWYSERS WAT DIE MARK SE RIGTING AANDUI EN PRODUSENTE SE BESLUITE OOR PRODUKSIE, BELEGGINGS EN RISIKOBESTUUR VORM.
Die afgelope jaar is gekenmerk deur ’n reeks plaaslike en internasionale ontwikkelings wat beduidende onsekerheid in landboumarkte geskep het. Geopolitieke spanning het toegeneem met die voortgesette konflik tussen Rusland en die Oekraïne asook die uitbreek van die konflik tussen die VSA en Iran, wat wêreldwye energie- en kommoditeits-
markte onder druk geplaas het.
Terselfdertyd het wisselvalligheid in internasionale oliepryse en opeenvolgende brandstofprysverhogings die koste van vervoer, insette en produksie verhoog. Internasionale handelsbeleid, veranderende rentekoersverwagtinge en wisselende ekonomiese groeivooruitsigte in groot ekonomieë het verder bygedra tot onsekerheid in kommoditeitsmarkte.
Vir Suid-Afrikaanse graanprodusente bly ekonomiese aanwysers soos die wisselkoers, inflasie, rentekoerse, internasionale graanpryse en insetkoste dus van kritieke belang om markontwikkelings te interpreteer, risiko’s te bestuur en ingeligte produksie- en bemarkingsbesluite te neem. Tabel 1 toon die jaar-tot-jaar-veranderinge in geselek-
teerde ekonomiese en insetprysaanwysers wat ’n direkte invloed op die winsgewend-
heid en mededingendheid van die graanbedryf het.
Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) meet die gemiddelde verandering in pryse wat produ-
sente vir hul produkte ontvang en dien as ’n belangrike aanduiding van kostedruk in die ekonomie. Hoër PPI-vlakke dui gewoonlik op stygende inset- en vervaardigingskoste wat met verloop van tyd na verbruikers deurwerk. Vir landbouprodusente is die PPI ’n nuttige maatstaf om veranderinge in vervaardigings-, brandstof-, kunsmis- en ander insetkoste te monitor, aangesien dit uiteindelik die winsgewendheid van produksie beïnvloed. Op ’n jaargrondslag het die produksieprysindeks met 5% gedaal.
Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word bereken op grond van veranderinge in die verbruikers-prysindeks en dui kosteveranderinge op kleinhandel- of verbruikersvlak aan. Die infla-
siekoers het jaar op jaar met 4,4% gestyg in Augustus 2026. ’n Stygende VPI dui op toenemende inflasiedruk en ’n afname in verbruikers se koopkrag. Vir graanprodusente is die VPI ’n belangrike aanwyser aangesien dit rentekoersbesluite, verbruikersvraag en uiteindelik die breër ekonomiese omgewing beïnvloed waarbinne landbou-ondernemings funksioneer.
Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n versterking van die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ’n positiewe verandering aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persenta-sieverandering getoon word. Die rand het met 8,2% teenoor die dollar versterk en 9,3% beter teenoor die euro presteer. Die rand het ook jaar op jaar met 7,9% sterker geword teenoor die pond. Suid-Afrika is besonder afhanklik van die invoer van insette, daarom behoort ’n sterker rand’n positiewe invloed op insetpryse te hê.
Rentekoerse
Die repokoers, vasgestel deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, en die prima uitleen-
koers is belangrike ekonomiese aanwysers wat finansieringskoste in die ekonomie beïnvloed. Hoër rentekoerse verhoog die koste van produksiefinansiering en kapitaal-
beleggings, terwyl laer rentekoerse leningskoste verlaag en ekonomiese aktiwiteit kan stimuleer. Gedurende 2026 het beide die repokoers (tot 7,25%) en die prima uitleenkoers (tot 10,75%) gestyg.
Internasionale ruoliepryse en plaaslike brandstofpryse
Internasionale ruoliepryse en plaaslike brandstofpryse speel ’n belangrike rol in die kostestruktuur van die landbousektor. Suid-Afrika is ’n netto invoerder van ruolie en gevolglik word plaaslike brandstofpryse grootliks beïnvloed deur bewegings in interna-
sionale oliepryse en die rand/dollar-wisselkoers. Stygende ruoliepryse verhoog die koste van diesel, petrol en vervoer, wat weer produksie-, oes- en logistieke uitgawes vir graanprodusente opstoot.
Geopolitieke spanning, veral die voortgesette konflik tussen Rusland en die Oekraïne asook die konflik in die Midde-Ooste, het gedurende die afgelope jaar bygedra tot wisselvalligheid in energiemarkte. Vir Suid-Afrikaanse produsente is dieselpryse van besondere belang aangesien dit ’n beduidende komponent van meganisasie-, vervoer- en besproeiingskoste uitmaak. Veranderinge in internasionale ruoliepryse en plaaslike brandstofpryse dien daarom as belangrike aanwysers van kostedruk en winsgewendheid in die graanbedryf.
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het met ongeveer 41% gestyg van $67,46 per vat tot $94,89 tussen Oktober 2025 en Oktober 2026. Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het jaar op jaar met ongeveer 46% toegeneem. Die dieselkorting is tans 382 sent/liter.
Internasionale kunsmispryse
Die internasionale pryse van DAP, ammoniak en kaliumchloried het onderskeidelik met 12,7%, 55,9% en 10,3% gestyg. Ureum het jaar op jaar met 14,6% gedaal.
Plaaslike kunsmispryse
Suid-Afrika voer meer as 80% van sy kunsmisbehoeftes in – gemiddeld 1,7 miljoen ton. Plaaslike kunsmispryse word blootgestel aan dieselfde faktore as dié in die internasio-
nale mark. Die gemiddelde pryse van MAP en KAN het plaaslik onderskeidelik met 4,1% en 15,2% gestyg, terwyl die pryse van ureum en kaliumchloried jaar op jaar met 9,6% en 5,9% gedaal het.
Saadpryse
Saad maak tussen 10 en 15% van ’n graan- en oliesaadprodusent se huidige produk-
siekoste uit. Vir die 2026/2027-produksieseisoen het die prys van mieliesaad gemiddeld met 5,3% gestyg, sojabone is verhoog met 3,6% en sonneblomsaad met 4,5%. Graan-sorghumsaadpryse het jaar op jaar gemiddeld met 8,8% gestyg.













