Die oes wat VOEDSELINFLASIE in toom gehou het

Gepubliseer: 11 November 2026

78
Gerhard Burger,
landbou-ekonoom, Graan SA

2026/10/22

REKORDOESTE HET VOEDSELINFLASIE OP ’N 16-JAAR-LAAGTEPUNT GEHOU, MAAR KON NIE DIE STYGENDE BRANDSTOFPRYSE EN RENTEKOERSE KLOP NIE. HIERDIE ARTIKEL ONDERSOEK WAT DIT VIR PRODUSENTE SE 2026/2027-SEISOEN BETEKEN.

Hoewel 2026 ‘n jaar van vele rekords was, was die meeste hiervan nie in die produsent se guns nie. Rekordmielie- en -sojaboonoeste het graanpryse onder druk geplaas, terwyl rekordbrandstof­pryse die koste­knyptang aangedraai het. Nou, tydens planttyd en met die vooruitsig van ’n nuwe seisoen se uitdagings, is die vraag nie meer of die oes groot genoeg was nie maar of die rekening wat daarvoor betaal moet word nog hanteerbaar is.

Die verbruiker het die voordeel van die oes gekry: Voedselinflasie het in Julie tot 0,9% gedaal, die laagste sedert Junie 2010, en graanprodukte was selfs goedkoper as ’n jaar vantevore. Die produsent het die prys betaal: in lae pryse, en nou in hoër rente en hoër insetkoste.

Voedsel in deflasie, brandstof in ’n ander wêreld
Die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) is ’n maatstaf van wat huishoudings vir ’n vaste mandjie van goedere en dienste betaal. Stats SA hou elke maand die pryse van daardie mandjie dop, van kos en vervoer tot behuising en gesondheidsorg, en skakel dit om in ’n indeks. Hierdeur skets hulle ’n prentjie van hoe sterk die koopkrag van verbruikers se vergoeding bly.

Hierdie jaar het die VPI van 3,1% in Maart na 4,0% in April en 5,0% in Junie gestyg, hoofsaaklik weens brandstof- en vervoerkoste. Dit het in Julie tot 4,3% gesak, en daarna weer gestyg tot 4,4% in Augustus en 4,5% in September. Die syfer bly egter steeds bo die Reserwebank se teiken van 3% (met ’n tole­ransieband van een persentasiepunt).

Die syfer het egter twee teenstrydige komponente:

  • Voedselpryse: Voedsel- en nie-alkoholiese drankinflasie was 0,9% in Julie en 1,1% in Augustus. Graanprodukte het in Julie met 2,0% jaar op jaar gedaal, en mieliemeel alleen het 3,1% goedkoper geword van maand tot maand. Dit is die direkte gevolg van groter voorrade en laer graanpryse die afgelope seisoen.
  • Brandstofpryse: Jaarlikse brandstofinflasie het in Augustus 20% beloop en, volgens verslae rakende Stats SA se September-syfers, na sowat 28% Vervoerkoste is nou die grootste enkele bydraer tot die VPI. Die dieselprys het feitlik verdubbel, van sowat R18,41/liter in Januarie tot meer as R31,95/liter in Oktober, as gevolg van die konflik in die Midde-Ooste en onderbrekings by die Straat van Hormoes.

Die Reserwebank het dus nie op voedselinflasie gereageer nie, maar op brandstofpryse.

Rol en besluite van die Reserwebank
Die Monetêre Beleidskomitee het die repo­koers in 2026 twee keer verhoog: in Mei-
maand en meer onlangs op 23 September, albei keer met 25 basispunte. In Julie is dit onveranderd gelaat.

Goewerneur Lesetja Kganyago het gewaarsku dat inflasie teen laat 2026 of vroeg 2027 bo 5% kan uitkom voordat dit terugsak en dat die Reserwebank wil keer dat die brand-
stofskok in breër pryse vassteek. Beleidsrentes sal eers verlaag word wanneer inflasie ’n volgehoue beweging terug na 3% toon. Verskeie ontleders ag nog ’n verho­ging in November moontlik, afhangende van die brandstofprys wat op 4 November aange-
kondig is en die moontlike effek wat die tydelike verligting van die algemene brand-
stofheffing kan inhou.

Wat dit vir produsente beteken

  1. Produksiefinansiering word duurder

Die direkte impak van verhoogde inflasie beteken dat die repokoers styg en die primakoers volg. Alle lenings wat aan prima gekoppel is word teen die nuwe koers herbereken. Produksielenings word dus eerste getref, omdat dit gewoonlik jaarliks hernu word en meestal ’n wisselende koers het.

Alhoewel die bedrae nie noodwendig dramaties is nie, kan dit ophoop. In ’n mark-
omgewing wat die afgelope seisoen grootliks nie winsgewend was nie, tel elke sent. Die groter probleem is dat die verho­ging bo-op ’n reeds dun marge kom en dat verligting nie voor volgende jaar verwag word nie.

  1. Die kosteknyptang

Graan SA se produksiebegrotings vir 2026/2027 wys dat kunsmis steeds die grootste veranderlike koste is teen meer as R8 686/ha vir mielies in die Oos-Vrystaat en meer as R10 000/ha op die oostelike Hoëveld. Graan SA verwag dat wins­gewendheid swakker as in 2025/2026 sal wees met dieselkoste – wat reeds ’n beduidende deel van insetkoste uitmaak – wat weer in Oktober en November verhoog afhangend van die moontlike verligting.

Stikstof- en fosfaatkunsmisvervaardiging is energie-intensief, dus het die oliepryse en die rand/dollar-wisselkoers ’n direkte effek op kunsmispryse, bo en behalwe die rente-
koers wat die finansiering daarvan duurder maak.

  1. Die prys aan die ander kant is vasgepen

Mielies het van sowat R3 173/ton gemiddeld in Junie tot rondom R4 991/ton gemiddeld in September gestyg, maar met ’n rekordoes en oordragvoorrade as anker is daar min ruimte vir stygings bo die huidige vlakke. Gemaklike voorrade beteken dat ’n pryssty-
ging meer sal afhang van die wisselkoers- en olieprysbewegings as van plaaslike vraag en aanbod.

Hoe om inflasie te navigeer
Daar is geen resep wat deur die bank vir elke plaas werk nie, maar goed deurdagte algemene besigheidspraktyke kan produsente help om kop bo water te hou.

  • Begin by jou breekpunt. Bereken die finansieringskoste van nuwe insetpryse teen ’n primakoers van 10,75% en 11,25%. Ken jou gelykbreekopbrengs en jou gelykbreek-
    prys voordat jy ’n gewas of ’n kontrak kies.
  • Prys slimmer. Hou graanmarkte aktief dop – dek ’n gedeelte van jou verwagte oes teen die Safex-termynpryse wat bo jou breekpunt lê en laat ’n gedeelte Verkoops-opsies (puts) kan ’n prysvloer bied sonder om opwaartse potensiaal weg te gee. Dit is veral nuttig wanneer pryse naby uitvoerpariteit lê.
  • Koop insette in stappe en vergelyk kwotasies. Moenie alles op een dag koop nie, en moenie op ’n daling wag nie. Pryse van diesel en kunsmis volg oliepryse en die rand. Vervoer kan tot die helfte van kunsmiskoste uitmaak, so vergelyk kwotasies op afgelewerde prys.
  • Praat vroeg met jou finansier. Maak seker of elke fasiliteit ’n wisselende of vaste koers het, en vra of ’n gedeelte vir die seisoen vasgemaak kan word. Probeer terugbetalings eerder aan lewerings koppel en kommunikeer vroegtydig in gevalle van nood.
  • Hersien jou gewaskeuses teen die begrotings. Dit is algemeen bekend dat sojabone en sonneblom minder stikstof benodig as mielies; dus sal die rentekoers-
    effek op die vroeë seisoen kleiner wees. Dit hang egter van streek, opbrengs en prys af. Gebruik Graan SA se begrotings as vertrekpunt en vervang die aannames met jou eie. Kontak ook jou agronoom om seker te maak van die aanpasbaarheid van jou gewaskeuses op jou grond.
  • Moenie op opbrengs probeer bespaar nie. Wanneer insette duur is, is daar altyd die versoeking om op kunsmis te besnoei. Maar met hoë vaste en finansieringskoste verdien jy die geld terug deur ’n goeie opbrengs, nie deur laer toediening nie. Grond-ontledings help om te bepaal waar veilig gesny kan word en waar nie.

Samevatting
Die afgelope oes het gedoen wat dit kon om voedselinflasie so laag as moontlik te hou, maar dit was nie genoeg om die skok in energiepryse en rentekoerse teen te werk nie. Vir die komende seisoen gaan die produsent wat sy koste ken, sy prysrisiko versprei en sy finansiering vroeg reël, beter daaraan toe wees as die een wat op ’n prysherstel wag.

Hierdie artikel is ’n algemene riglyn en nie finansiële advies nie. Pas dit aan by jou eie begroting, kredietfasiliteite en markposisie.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.