Grondtipes behoort gewaskeuse te beïnvloed

25
Cobus Burger,
besigheidsbestuurder, SGS NviroCrop

Grondtipes en die invloed op gewaspotensiale of -keuses raak al hoe belangriker soos wat klimaatuiterstes gedurende die groeiseisoen druk op gewasproduksie uitoefen.

Wanneer gronde se uitruilbare suurheid nie meer wortelontwikkeling belemmer nie (by pH(KCl)>4,6), begin grondfisiese eienskappe tot soveel as 70% van gewaspotensiaal bepaal. Hoe laer die reënval is, hoe groter is die invloed van grondeienskappe.

Dit is tot die produsent se voordeel om ’n betroubare en akkurate grondkaart te hê vir beter interpretasie van opbrengsvariasie asook beplanning vir die nuwe seisoen. Gronde se totale diepte moet verkieslik geklas wees (nie net tot maksimum van 1,5 m nie), aangesien dit belangrik is om te bepaal of die keerlaag voghoudend is (tot voordeel van die gewas gedurende droë periodes) en of dit ’n nievoghoudende keerlaag is.

Vereistes verskil
Gewasse se grondvereistes verskil van mekaar omdat die groeitydperk, dus die waterbehoefte asook die groeistadium wanneer produksie bepaal word, van mekaar verskil. Elke tipe gewas se wortelstelsel en vermoë om nutriënte en vog op te neem, is verskillend.

Figuur 1 is ’n voorbeeld van hoe gewasse se opbrengste op ’n spesifieke gedeelte en grondsoort kan varieer as dit teenoor die res van die land gemeet word.

Figuur 1: Op die hoëpotensiaalgronde het sojabone 1,5 t/ha gerealiseer, wat swakker was as die gemiddeld van
die land van 2,4 t/ha. Mielies, daarenteen, het relatief goed gedoen op dieselfde gedeelte, naamlik 7,5 t/ha met ’n landgemiddeld van 7,2 t/ha.

Sojabone het swakker presteer op die dieper gronde waar die keerlaag wat vog stoor eers op 1,5 m voorkom, teenoor mielies wat op dieselfde grondtipes wel presteer het. Dit is duidelik dat verskillende gewasse verskillende grondeienskappe verkies om te presteer.

Grondtipes en gewaskeuses moet dus in ag geneem word wanneer ’n risiko-analise gedoen word na aanleiding van grondfisiese eienskappe en dié se invloed op opbrengspotensiaal op lang termyn.

In dié geval was dit die onvermoë van sojabone om dieperliggende vog te benut gedurende die blomstadium toe die reën weggebly het en was die diep gronde nie tot voordeel nie. Ander gewasse soos sonneblom sou waarskynlik beter presteer het weens die verskil in fisiologie van die wortelstelsel wat wel die dieper vog sou kon benut.

Wortelstelsels
Elke gewas se wortelstelsel verskil. Gewasse soos mielies en graansorghum het ’n bywortelstelsel. As die twee gewasse se wortelstelsels verder evalueer word, het mielies die vermoë om stutwortels te vorm sodra die aanvanklike wortelstelsel beskadig word, maar graansorghum nie.

Wat graansorghum weer bevoordeel is dat sy wortels sterker is en nutriënte en water meer effektief uit swaar kleigronde kan opneem. As voorbeeld sal klei wat swel en krimp mieliewortels breek en opbrengste verlaag elke keer as die gronde uitdroog. Daarenteen breek graansorghum se wortels nie, al beweeg die klei rond gedurende uitdroging- en benattingsiklusse.

Die netto effek in so ’n geval is dat graansorghum (mits klimaatstoestande gunstig is daarvoor) op lang termyn meer volhoubaar sal wees.

Sojabone en sonneblom is voorbeelde van gewasse met ’n penwortelstelsel. Die bywortels wat vorm is meer aggressief ten opsigte van die benutting van grondvolume in bogrond by sonneblom as by sojabone. Laasgenoemde het ’n swakker bywortelstelsel.

Wat wel tot voordeel van gewasse met penwortels is, is dat dit ’n sterker suur afskei as bywortels en dus sekere nutriënte, soos byvoorbeeld kalium, meer effektief uit die ondergrond kan opneem. Die grootste risiko is wanneer verdigting in die ondergrond voorkom. Die funksie van die penwortel word dan beperk en opbrengste daal.

Droëland versus besproeiing
Daar kan verder gesien word hoe gewasse gekoppel is aan grondeienskappe wanneer daar begin word om gronde wat in droëlandscenario’s goed presteer, te besproei.

Dit gebeur byvoorbeeld dat ’n vlakwortelgewas soos aartappels of droëbone presteer op vlakker gronde waar die vogkeerlaag binne 60 cm tot 70 cm voorkom. Sodra die gronde egter besproei word, verander die hoë gewaspotensiaal na ’n laer gewaspotensiaal, aangesien reënval en besproeiing die nadelige eienskap van die gronde ten opsigte van dreinering begin aksentueer.

Moet dus nie die aanname maak dat waar droëlandgewasse die beste presteer, dit onder besproeiing ook die geval sal wees nie.

Voghouvermoë
Die afgelope vyf jaar is daar heelwat klimaatskommelinge beleef. Dit het die ondersteuning al dan nie van grondeienskappe ten opsigte van totale voghouvermoë, vermoë om nutriënte te stoor en beskikbaar te stel, grondtemperature en die stoorvermoë van vog in dieperliggende grondhorisonne belangrik gemaak. Al die eienskappe moet in aanmerking geneem word om te besluit watter bewerkingstelsel gebruik en gewasse verbou moet word.

Wind
Die afgelope seisoen is toestande beleef waar winde meer intens vir langer periodes aanmekaar gewaai het. Wind veroorsaak winderosie en verhoogde evapotranspirasie van die gewasse. Abnormaal hoë temperature asook abnormaal hoë en meer intense sonstraling verhoog die grondtemperatuur. Gewasse verbruik dus meer nutriënte soos P om teen stremming te “baklei” in plaas daarvan om dit te stoor vir latere pitvulling.

Midsomerdroogtes forseer plante se wortels om meer in die ondergrond te voed, wat die belangrikheid van die ondergrondse nutriëntstatus verhoog. Meer intense reënbuie oor kort periodes beklemtoon die belangrikheid van die dreineringsvermoë van verskillende grondtipes. Klimaatsveranderings mag al hoe meer die norm as die uitsondering raak en praktyke moet sover prakties moontlik hierby aangepas word.

Pas aan by klimaatsveranderings
Mielies is een gewas waar genetiese verbetering die afgelope tien jaar produsente baie gehelp het om by klimaatsveranderings aan te pas en sodoende produksie per hektaar te verhoog. Formules om mieliepotensiaal te bereken moet oor tyd ook aangepas word.

Tans word die Crawford-en-Nott-formule gebruik en aangepas om potensiaal vir mielies op sekere grondfisiese eienskappe te bepaal. Sonder die aanpassings kan produsente eerder benadeel as bevoordeel word wanneer finansiering- of evaluasiebesluite geneem word.

Voorbeeld
As voorbeeld sal ’n 2 m diep Hutton-grond in die Ventersdorp-distrik ’n laer potensiaal vir jaar-op-jaar-aanplantings hê as ’n 1 m diep Hutton-grond in dieselfde omgewing.

Indien dieselfde grond net so skuif na die Harrismith-distrik, sal die 2 m-Hutton-grond ’n hoër potensiaal vir jaar-op-jaar-aanplantings hê as die 1 m-Hutton-grond.

Die rede vir die Ventersdorp-distrik se potensiaal is dat die 2 m diep gronde meer water benodig om die totale profiel nat te maak. Vanaf ’n droë ondergrondkeerlaag neem dit dus baie meer reën en langer as die eenmeterdiepte om te vul.

Hier is die vermoë van die gewas se wortelstelsel om betyds by daardie gestoorde vog uit te kom gedurende sterk vegetatiewe groei dus die rede vir opbrengspotensiaalverskille. Diepte is in dié geval dus nie die drywer vir gewaspotensiaal nie. Sodra Ventersdorp se 2 m-Hutton na ’n ruslandstelsel oorskakel, dan raak potensiaal vir die komende seisoen hoër as die 1 m-Hutton.

Nog ’n voorbeeld
’n 50 cm diep Kroonstad-grondtipe in die Wes-Vrystaat se potensiaal is laer as ’n 50 cm diep Kroonstad-grondtipe in Mpumalanga. Ironies genoeg is anaërobiese ondergrondtoestande in Mpumalanga ’n groot risiko, want dit reën daar heelwat meer as in die Wes-Vrystaat.

Die verskil word deur verskillende plantestande bewerkstellig. In Mpumalanga sal vroeg geplant word met ’n plantestand van 50 000. In die Wes-Vrystaat word daar later geplant en die plantestand is gewoonlik 25 000 – daarom “versuip” die mielies makliker indien baie reën in ’n kort periode val.

Crawford en Nott se formule vir berekening van mieliepotensiaal volgens grondtipe gebruik effektiewe gronddiepte (cm), gemiddelde reënval (mm/jaar) en ’n realisasiefaktor van 0,8 tot 0,9 per grondtipe om potensiaal te bepaal.

Die verbeterde formule wat oor die afgelope 27 jaar by SGS NviroCrop ontwikkel en aangepas is, sluit onder meer Crawford en Nott se gedeelte in, maar kry heelwat meer faktore in die vorm van ’n waarde by as deel van die berekening:

  • Effektiewe gronddiepte (cm) tot op maksimum diepte van 1,2 m
  • langtermyn- gemiddelde reënval (mm)
  • realisasiefaktor van 0,5 tot 0,95 per grondtipe per geografie
  • teenwoordigheid van sagte plantiet as grondhorison al dan nie, veral in die weste van die land
  • grondvoginhoud voor plant (opsioneel vir korttermynopbrengsbepaling)
  • plantbeskikbare waterkapasiteit (mm vir totale profiel)
  • kg graan/mm (grondvrugbaarheid word in berekening gebring)
  • pH van gronde (> 4,6 benodig)
  • plantestand in die ry (spasiëring van plante in die ry)

Met al die inligting wat hierbo bespreek is, het die implementering van variërende bemesting en variërende plantestand en/of gewaskeuse in presisieboerdery nou ’n uitweg geraak om die groterwordende risiko in gewasproduksie aan te spreek.

Vir meer inligting oor watter gewasse goed op watter gronde sal produseer, kan Cobus Burger by 082 495 4503 gekontak word.