Somerkoring as moontlike alternatief

15
Dr Willem Otto,
bemarkingskoördi­neerder, Sensako

Produsente soek altyd na alternatiewe en meer winsgewende gewasse vir die voortbestaan van hul boerdery-ondernemings. Die netto inkomste uit kontantgewasse soos mielies, sojabone en sonneblom is al vir ’n geruime tyd onder druk. Die afgelope jare se wisselvallige reënval en produksietoestande het die oorweging van nuwe opsies genoodsaak. ’n Boer maak mos ’n plan – solank die planne net nie opraak nie. As deel van die soeke na alternatiewe behoort die aanplanting van somerkoring ondersoek te word, maar die risiko’s van dié praktyk moet wel deeglik in berekening gebring word.

Somerkoring en planttyd
Tradisioneel word winterkoring in die kouer wintermaande aangeplant in die onderskeie produksiegebiede. Dit groei dan met lente- en somerreëns tot oestyd in November/Desember.

Met somerkoring word verwys na aanplantings wat gedurende die somerseisoen vanaf Oktober tot Maart gedoen word. Daar is egter verskille tussen die onderskeie produksiegebiede wat die keuse en sukses van aanplantings kan bepaal. Op die Springbokvlakte is somerkoring ’n algemene en oorwegend laerisikopraktyk, indien dit goed in die vroeë somer gereën het. Planttye is dan gedurende Januarie/Februarie met oestyd gedurende Junie/Julie.

Winteraanplantings in die tradisionele droëlandproduksiegebiede van die oostelike Hoëveld is gedurende Junie/Julie. Daar is tans korter groeiseisoenkultivars beskikbaar in die winterkoringgroep met planttye wat tot einde Augustus (SST 356) en middel Oktober (SST 374) aanbeveel word (Sensako-kultivargids, 2019). Wanneer planttoestande dus gedurende die winterperiode riskant raak, kan later aanplantings met die regte kultivarkeuse steeds gedoen word indien voldoende vroeë lentereëns voorkom. Die aanplant van somerkoring en die gebruik van lentetipekultivars ontsluit die opsie om met ’n geskikte kultivar aan te plant vanaf middel Oktober tot einde Januarie. Die lentetipekultivars met ’n korter groeiseisoen word vir die later aanplantings voorgestel, omdat vroeë ryp en blaarsiektes wesenlike risiko’s is.

Onder besproeiing is daar die aanvullende besproeiingsopsies met winterkoring, maar ook normale tradisionele aanplantings gedurende Junie/Julie met lentetipekultivars wat beskikbaar is. Oestyd is dan gedurende November/Desember. Hierdie is die standaardpraktyk wat tans met besproeiingskoringaanplantings gevolg word.

Alternatiewelik bestaan die opsie dan om somerkoring in die plek van ’n somergewas aan te plant ná die winteroes gestroop is. Dié besluit word hoofsaaklik deur produksiebegrotings asook waterbeskikbaarheid bepaal – wat die verskillende gewasse teen mekaar opweeg soos in die Noordwes Provinsie ondersoek is gedurende 2018 (Koekemoer J & Schepers A, 2018).

Die gebrek aan voldoende reënval vir die aanplant van ’n somergewas onder droëlandproduksie kan somerkoring as ’n opsie saam met sojabone, sonneblom en droëbone moontlik maak.

Kultivarkeuse
Graanopbrengs van koringkultivars word bepaal deur hulle reaksie op die omgewingstoestande in ’n gegewe gebied. Namate temperature toeneem, versnel groei en ontwikkeling en die dae tot blom asook korrelvulperiodes word verkort. Dit beperk die opbrengs per plant wat kan ontwikkel in die verkorte tydperk en meer plante per hektaar moet gevestig word om gedeeltelik te kompenseer om aanvaarbare opbrengsvlakke te bereik.

Kultivarkeuse vir droëlandsomerproduksie neig na lentetipes met ’n langer groeiseisoen vir beter ontwikkeling van opbrengspotensiaal deur meer halms te vorm by laer saaidigthede van 50 kg tot 75 kg saad/ha. Onder besproeiing en met later aanplantings moet ’n kultivar met ’n korter groeiseisoen teen hoër saaidigthede (80 kg tot 120 kg saad/ha) geplant word om opbrengspotensiaalontwikkeling te bevoordeel en ook die ryprisiko vry te spring deur vinniger tot fisiologiese rypwording te vorder. Vroeë ryp is ’n inherente risiko van somerkoring en kan korrelvulling, opbrengs en graan­gradering benadeel.

Produksieprobleme
Grondvoorbereiding, wat die ophef van verdigtingslae insluit, is belangrik in enige produksiestelsel – nog meer hier omdat maksimale grondwateropgaring en reënvalstoring van kritieke belang is. Die doel is om met so na as moontlik aan ’n vol grondprofiel te begin.

Breëblaar- en grasonkruide kompeteer vir plantvoedingstowwe en grondwater. Die beheer van onkruide en grasse tydens die braakperiode voor plant is belangrik vir die beperking van waterverliese. Onkruide is oor die algemeen ’n groter uitdaging in somerkoring, omdat die koring vinniger groei en nie ’n blaredak vorm wat die onkruid oorskadu nie. Dit is dus belangrik dat onkruid goed beheer word (Koos Rootman, persoonlike mededeling).

Bemestingsbestuur moet die kultivar se opbrengsontwikkeling stimuleer en moontlike aanvullings moet deurgaans geëvalueer word na gelang van reënval en grondwaterbeskikbaarheid. Omdat groei en ontwikkeling versnel word, is voldoende aanvangsbemesting nodig, aangesien voedingstowwe in die profiel minder toeganklik is deur die verkleinde wortelstelsel.

Die bemestingsaanbeveling vir ’n 2 ton/ha-koringoes het ’n vertrekpunt wat 40 kg N/ha, 12 kg P/ha en 5 kg K/ha insluit (LNR, 2019). By besproeiingsaanplantings sal daar vir ’n opbrengsmikpunt van 4 ton/ha bemes word, wat 80 kg tot 120 kg N/ha, 20 kg P/ha en 20 kg K/ha insluit – wat verdeel kan word gedurende die vegetatiewe ontwikkelingstadiums.

Reënvalvariasie maak opbrengspotensiaal en die bestuur daarvan onder droëlandtoestande meestal konserwatief. Opbrengs varieer tussen 1 t/ha en 3 t/ha onder droëlandtoestande. Tot 5 t/ha onder besproeiingstoestande is egter al behaal (Koekemoer J & Schepers A, 2018).

Gedurende die 2019-seisoen het produsente in die NWK-gebied wisselende sukses in terme van opbrengs behaal met die praktyk van somerkoring, wat hoofsaaklik aan wisselende reënvalverspreiding toegeskryf kan word (Koos Rootman, persoonlike mededeling).

Wisselbou
Indien produsente winterkoring ná die somerkoring op dieselfde lande aanplant, verhoog die gevaar van wortel-, stoppel- en grondgedraagde plantsiektes, wat hierdie stelsel nie volhoubaar op lang termyn maak nie. Wisselbou met ander gewasse as koring bly dus belangrik.

Voordat ’n finale besluit geneem word, oorweeg die risiko’s van dié alternatiewe praktyk. Plant ’n klein stukkie somerkoring om self te bepaal of dit voor- of nadele inhou. Antwoord dan self die vraag of somerkoring werklik ’n alternatief vir jou boerdery is.

Vir meer inligting kontak Pieter Craven van Sensako by 082 388 0299.

Verwysings

  1. Barnard A. 2005. Somerkoring: Is dit enigsins ’n alternatief? LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem.
  2. Koekemoer J & Schepers A. 2018. Oorweeg koring vir someraanplanting. NWK Arena, Desember 2018, 26-27.
  3. Landbounavorsingsraad. 2019. Handleiding: Produksie van kleingrane in die somerreëngebied.
  4. Rootman K. 2019. Sensako-agent, persoonlike mededeling.
    Sensako-kultivargids, 2019.