Bestuur onkruidsade só tydens die oesproses

20
Richard Krige,
Wes-Kaapse produsent en dagbestuurslid van Graan SA

Deel 2

Die bestuur van onkruide binne ’n bewaringslandbousisteem bly ’n uitdaging. In Deel 1 is gekyk na oesonkruidsaadbeheer (harvest weed seed control). Kaf tussen die spore, ’n kafdeksisteem, die brand van nou windrye en ’n kafkar agter die stroper is bespreek.

In Deel 2 word gekyk na kafmeulens, die Seed Terminator en direkte baal.

Kafmeulens
Die oorspronklike Integrated Harrington Seed Destructor (iHSD) of kafmeule is deur mnr Ray Harrington van Darkan, Wes-Australië ontwerp. Die eerste prototipe is as sleepwa gebou met eie aandrywing deur ’n aparte enjin. Al die kaf en onkruidsade is na die sleepwa vervoer om gemaal en vernietig te word.

Daar is deesdae verskeie modelle en variante van die oorspronklike sleepwameule beskikbaar en vervaardigers poog steeds om die produksiekoste en energiebehoeftes van die “meulens” te verminder.

Die tipe gewas wat gestroop word, het ’n reuse-uitwerking op die werking en die kapasiteit van die meule. Koring lewer die hoogste vloeitempo van kaf en bly die moeilikste gewas om te hanteer. Gars se indeks van graan teenoor residu is heelwat hoër as dié van koring – wat beteken dat die werkskapasiteit van stroper en meule hoër is by die stroop van gars.

Waar daar nog groen materiaal oor is as gevolg van spuitspore, opslag en hergroei van byvoorbeeld kanola, kan dit die werking van die meule belemmer. Voggehalte in die stamme van kanola, lupiene en ander gewasse kan ook probleme veroorsaak. Waar windrye gesny word, soos in die Suid-Kaap, kan die klippe en sand wat weer met die optelproses deur die opteller in die stroper beland ook problematies wees en slytasie verhoog.

Hierdie meulens veroorsaak baie stof, aangesien alle kaf as stof uitgeblaas word. Dit kan die operateur se sig belemmer en druk plaas op lugfiltrering van die enjin.

Die kapitale koste van die toerusting is dikwels baie hoog en slytasiekoste word moeilik bereken gegewe die veranderlikes wat die slytasie beïnvloed. Kafmeulens bly egter gewild en die meeste van die produsente in Australië wat dié toerusting gebruik, is gelukkig daarmee.

Seed Terminator
Die Seed Terminator het ’n soortgelyke ontwerp as die kafmeule en die kapitale koste daarvan is ook hoog. Hierdie ontwerp is hoofsaaklik smal om uitsluitlik as ’n byvoeging tot die stroper beskikbaar te wees. Dit pas aan die agterkant van die stroper waar die kaf van die stropersiwwe af kom.

Onafhanklike studies deur die Suid-Australiese Graanindustrietrust het in 2017 getoon dat 93% van raaigras reeds teen 2 250 r.p.m. beskadig word. Vernietiging van saad verhoog egter na 98% teen ’n normale werkspoed van 2 500 r.p.m. tot 3 000 r.p.m. Volgens resultate word 99% onkruidsaadbeheer verkry by verskeie ander onkruidspesies, soos predikantsluis, wildehawer, ramenas en misbredie.

Daar is ook nuwegenerasietoerusting beskikbaar waar die kaf gemaal en die strooi fyngekap en versprei word. Hierdie toerusting raak goedkoper soos die tegnologie verbeter. Een so ’n voorbeeld is Redekop se MAV Seed Control Unit (SCU). Hierdie eenheid het die vermoë om beide die kaf te maal en die strooi te kerf en te versprei.

Baal direk
Met die gebruik van dié metode word die stroper se hidrouliese sisteem gemodifiseer. Die besparing aan krag vir die kerf en verspreiding van die kaf en strooi kan omtrent 30 kW wees waar die behoefte van die baler omtrent 70 kW beloop.

Die opteller van die baler word verwyder en vervang met ’n belt wat die materiaal in die baalkamer invoer. Alle strooi en kaf word agter die stroper opgevang en direk gebaal.

Hier moet die verlies aan nutriënte as gevolg van die verwydering van die materiaal en die verlies aan bedekking van die grond opgeweeg word teenoor die resultaat wat verkry word, naamlik die persentasie van onkruidgetalle (infestasievlakke van onkruide) in die volgende seisoen.

Dit verskaf egter ’n addisionele inkomstebron, aangesien die bale verkoop kan word. Hierdie sisteem is meer doeltreffend in die verwydering van onkruidsade as kaf tussen die spore, ’n kafdeksisteem en die brand van nou windrye.

Ten slotte
Daar is ’n ou Engelse gesegde wat lui: “One year’s seeding results in seven years’ weeding.” Dit is duidelik dat daar meer op onkruidsade as deel van onkruidbestuurstrategieë gefokus moet word.

Bronne

  1. Australian Herbicide Resistance Initiative (AHRI) https://ahri.uwa.edu.au/spoiled-rotten-the-sequel/.
  2. McIntosh & Son https://www.mcintoshandson.com.au/ihsd.
  3. Redekop Crop Residue Management https://www.harvestweedseedcontrol.com/.
  4. Weedsmart https://weedsmart.org.au/resources/research-report/.