Graan SA-spanlede ontvang erkenning

Johan Smit, besturende redakteur; Foto's: Alzena Gomes, skakelbeampte: Graan SA

1783

Die Afgri-groep sien die Oos-Kaap as een van die land se primêre produksiegebiede vir die toekoms en wil produksie in dié provinsie stimuleer om internasionaal te kompeteer in terme van mielie-uitvoere. ’n Nuwe opbergingsfasiliteit gaan ook by Butterworth opgerig word.

Afgri Operations se hoof finansiële beampte, mnr Jacob de Villiers, was die gasspreker tydens Graan SA se jaarlikse erkenningsgeleentheid op 23 Julie vanjaar. Hy het verwys na die land se potensiële uitvoermoontlikhede van GM-mielies, aangesien Transnet se hawesilo’s in Durban en Oos-Londen ver onder kapasiteit funksioneer. Afgri is aangewys as voorkeur-bieër om Transnet se uitvoerterminaal in Oos-Londen op te knap en te bedryf.

Tydens die geleentheid, is erkenning gegee aan twee uitgetrede hoofbestuurslede, naamlik mnre Bart Harmse en Anton Botha. Mnre Andries Theron en Theo Ferreira kon nie die funksie bywoon nie.

“Baie dankie vir die jare wat ek in Graan SA se hoofbestuur kon dien. Dit is ’n besondere groep mense. Sterkte – doen so voort,” was Bart se groeteboodskap. Op sy beurt het Anton gesê dit was ’n voorreg om deel te wees van Graan SA ter wille van die graanbedryf. “Ek het hier ’n absolute persoonlike ontwikkeling ondergaan,” het hy gesê. Anton het ook gedien as ’n lid van die Dagbestuur en die Ouditkomitee.

Mnr Kobus Steenekamp, kommersiële bedryfshoof van Bayer Crop Science SA en borg van die aand, het aangekondig dat Dekalb geen saadprysverhogings vanjaar ingestel het nie. “Ons is trots daarop dat 12% van ons netto inkomste op navorsing en ontwikkeling spandeer word,” het hy gesê.

’n Toekenning vir tien jaar-diens is aan mnre Jurie Mentz, Sydwell Nkosi asook aan Cwayita Mpotyi gemaak. Me Alzena Gomes, Leticia Reid en Elray de Klerk is vir vyf jaar diens vereer.

1. Bart en Annie Harmse tydens die geleentheid op NAMPO Park.
2. Anton en Lucia Botha (middel), saam met Jaco Minnaar (voorsitter) en Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder).
3. Kallie Schoeman (regs) is vanjaar deur die Graan SA-personeel aangewys as ’n uitnemende hoofbestuurslid. Hy dien sedert 2012 op die Hoofbestuur.
4. Jacob de Villiers van Afgri spreek die gaste toe.
5. Die aand se vermaak is verskaf deur die bekende sanger Jannie du Toit, met Susan Mouton op tjello.
6. “Dit is ’n voorreg dat Graan SA my die geleentheid gee om my passie uit te leef,” het Jane McPherson (15 jaar diens) gesê. “Open your hearts to the farmers of colour; your neighbours. Reach out; join us; be with us,” het sy bygevoeg.
7. Jerry Mthombothi (15 jaar diens): “I thank Grain SA for giving me the opportunity to serve the farmers I am working with. In 2004 they harvested 15 to 20 bags of maize per ha. Today their yield is at more than 8 ton/ha because of the skills we have given them.” Jannie de Villiers en Jerry se vrou, Siphiwe, het die oomblik met hom gedeel.