Gesubsidieerde oesversekering vorder

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

38

Die afgelope paar jaar is die graanbedryf onder groot druk: Hoofsaaklik weens die droogtes, maar ook as gevolg van lae internasionale graanpryse.

In teorie is die prys veronderstel om produsente te ondersteun tydens ’n droogte, grootliks weens die feit dat pryse dan nader aan invoerpariteitsvlakke beweeg. Die uitdaging is egter dat pryse tans op dieselfde vlakke as tien jaar gelede is. Dit het verskeie graanprodusente met ’n negatiewe kontantvloei gelaat te midde van ’n voortslepende droogte wat addisionele druk op hul finansiële posisie plaas.

In hul nuutste basislynvoorlegging het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) duidelik aangedui dat kontantvloei onder druk bly. Dit is grootliks vanweë kontantvloeiposisies wat reeds onder druk is, maar ook omdat daar verwag word dat internasionale pryse redelik sywaarts gaan beweeg. Volgens BFAP se simulasies is die kans om in 2020 ’n positiewe kontantvloei deur middel van graanproduksie in Noordwes te genereer, soos volg: In droogte- of laepotensiaalgebiede slegs 26%, in gebiede met gemiddelde potensiaal 43% en in gebiede met hoër potensiaal 66%.

Dit laat die vraag van waar en hoe graanprodusente ondersteun kan word? Hoe kan die effek van ’n opbrengs steeds behou word, al is daar ’n droogte in die stelsel? Een van die oplossings is om te kyk na subsidies in terme van oesversekering. Dit is ’n wêreld- en Afrika-tendens dat lande hul produsente ondersteun met oesversekeringsprogramme. Lande soos onder meer die Verenigde State van Amerika (VSA), Brasilië, China, Kenia, Pole, Kanada, Rusland en Zambië het almal oesversekeringskemas. Party van dié lande betaal soveel as 75% van die premie, maar daar is lande wat slegs 10% betaal.

Tesame met rolspelers soos Graan SA het die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging (SAIA) ondersoek ingestel rakende die moontlikhede en impak van so ’n stelsel in die Suid-Afrikaanse omgewing. ’n Volledige aansoek wat saam met internasionale instansies opgestel is, is in Junie by die Tesourie ingedien vir oorweging deur die regering. Daar is reeds voorheen ’n aansoek ingedien wat ongelukkig nie goedgekeur is nie.

Die aansoek omvat tans beide kommersiële en kleinskaalse produsente. Die kommersiële produsente se aansoek is hoofsaaklik gebaseer op multirisikoversekering en die kleinskaalse produsente s’n op indeksversekering. Sedertdien is verskeie werkswinkels gehou tussen SAIA en die Tesourie. Die aansoek is verder gestuur aan die Wêreldbank en die FinMark Trust vir resensie en aanbevelings. Intussen het die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (Sacau) vroeg in Augustus ’n tweede werkswinkel gehou om die moontlikheid van ’n gesamentlike risikopoel te ondersoek.

Graan SA het verder die belangrikheid van gesubsidieerde oesversekering met die nuwe Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, me Thoko Didiza, bespreek tydens hul eerste ontmoeting. Minister Didiza het in Augustus in die parlement bevestig dat daar wel ’n ondersoek gedoen word rakende die subsidie van oesversekering.

Dit is vir Graan SA positiewe nuus en die span werk hard om te verseker dat die agenda op die tafel bly met gepaste inligting en navorsing. Ten spyte van al hierdie inligting is daar geen waarborg dat so ’n oesversekeringsprogram ingestel gaan word nie, aangesien dit alles tans nog net besprekings is. Die groot vraag bly steeds of daar genoeg befondsing beskikbaar is binne die regering gegewe die huidige ekonomiese situasie. Graan SA se standpunt is dat dit ’n klein bedrag is wat baie kan beteken vir ekonomiese groei en voedselsekuriteit – beide in terme van bekostigbaarheid asook beskikbaarheid.

Op die oomblik is baie droogtebefondsingsprogramme gerig op veevoerskenkings, terwyl graanprodusente finansiële steun benodig. Die program is dus van kardinale belang om alle produ­sente te ondersteun.