Erdwurms: Dokters van die grondekosisteem

2963
Charné Myburgh,
LNR-Graangewasse,
Potchefstroom

Erdwurms is van die mees bestudeerde grondfauna as gevolg van die belangrike rol wat hulle speel as primêre en sekondêre komposteerders. Erdwurms staan ook bekend as grondingenieurs weens hulle invloed op die biotiese en abiotiese eienskappe van grond­ekosisteme.

Die invloed van erdwurmaktiwiteit
Grondkoolstof- en stikstoftransformasies word ook bevorder as gevolg van die erdwurms se impak op grondmikroörganismes. Erdwurmaktiwiteit in die grond beïnvloed die mikrobiese en mikrofaunapopulasies direk en indirek. Grondmikrofauna self se beweging in die grond is beperk, maar hulle vertikale verspreiding in die verskillende grondlae word beïnvloed deur die beweging van voedende erdwurms.

Die gronddiepte waar die erdwurms teenwoordig is, stem sterk ooreen met ’n toename in bakteriële en plantvoedende trofiese groepe. Hierdie toename kan moontlik aan erdwurms wat ontbindende reste dieper in die grond in aftrek, toegeskryf word. Erdwurmtonnels bevat ’n hoë protosoönbiomassa wat daarop dui dat die teenwoordigheid van erdwurms protosoönaktiwiteit bevorder (Foto 1).

Studies toon dat Lumbricus festivus protosoön­getalle drie tot 19 keer kan laat verhoog, terwyl die teenwoordigheid van L. festivus en L. terrestris protosoönaktiwiteit en -biomassa in grootmaatgrond en in die erdwurms se graafmuur (burrow wall) verhoog het.

’n Afname in aalwurmgetalle is verder in die teenwoordigheid van erdwurmaktiwiteit in turfweidingsgrond en in bosgrond gevind. Studies het ook getoon dat erdwurmaktiwiteit aalwurmgetalle in vars, organiese afval met meer as 50% kan verlaag.

Verskeie navorsers het beide lewende en dooie aalwurms in die verteringskanaal van sekere erdwurms gevind wat daarop dui dat die erdwurms aalwurms saam met grond en organiese materiaal inneem. Daar is verder bevind dat waar aalwurm­getalle nie noodwendig afgeneem het nie, erdwurms steeds ’n positiewe rol gespeel het deur die negatiewe impak van die aalwurms op die plante te verminder. Onder meer mielie- en piesangplante het vir aalwurmskade gekompenseer deur beter te groei.

Dit is moontlik dat die plante in staat gestel is om te kompenseer vir die aalwurmskade deurdat die erdwurms veranderinge in biomassa en wortelkwaliteit geïnisieer het.

Grondfungi word ook beskou as ’n hoofvoedselbron vir erdwurms. As erdwurms dus vir spesifieke fungusspesies ’n voorkeur toon, kan dit ’n belangrike effek op die fungusgemeenskappe in die grond hê. Studies toon dat erdwurms inderdaad voorkeur gee aan patogene of fungi wat op plantweefsel parasiteer en oor die algemeen jong plante (Rhizoctonia) of plante wat begin verouder (Cladosporium, Fusarium) aanval.

Alhoewel verdere studies nodig is om te bepaal presies tot watter mate erdwurms inwerk op moontlike grondpeste voordat dit as biologiese beheer aanvaar kan word, is dit interessant om te vind hoe hierdie wurms te midde van peste help om grond en plante gesond te dokter.