Besproeiing: Nie ’n vinnige manier om geld te maak nie

2068
Karina Muller,
SA Graan/Grain
medewerker

Die uitdrukking “’n boer maak ’n plan” tref die kol met die Bruwers van Genade-boerdery. Hierdie pa-en-seuns-span het telkemale al bewys dat hulle self ’n plan maak om hul besproeiingsboerdery gladder te laat verloop. Dié vindingrykheid is deels die rede dat Genade-boerdery in 2015 as Graan SA/Syngenta se Graanprodusent van die Jaar aangewys is.

Om water vir besproeiingsdoeleindes in sommige gevalle tot so ver as 9 km te pomp, kom met unieke uitdagings. “Ons wil net die water so ekonomies moontlik op die grond kry,” vertel Vickie Bruwer junior, wat saam met pa Vickie en broers, Gerhard en Hannes, boer.

So het die Bruwer-span byvoorbeeld ’n paar jaar gelede hulle watertoevoerpype vergroot om wrywing grootliks te verminder. Van die pype is vergroot tot 900 mm. Vickie junior sê hulle stelsel is “oorontwerp om in die kortste tyd die meeste millimeters op die land te plaas”.

Van hulle pompe is met VSD-tegnologie (wisselspoed) toegerus om maksimum doeltreffendheid te verseker. Hulle gebruik ook Eskom se Ruraflex-produk sodat water nie gedurende die sogenaamde rooi tye (piektye) gepomp word nie.

Water word vanuit die Oranje-, Vaal- en Rietrivier vir besproeiing op hulle plase in die Douglas- en Hopetown-omgewing gepomp. Dit gebeur in vloedtye dat die watervlak binne ’n kort tyd met tot 6 m kan styg, wat natuurlik katastrofies vir pompe in die rivier is.

Weer het die Bruwers met ’n plan vorendag gekom. Vickie junior vertel dat hulle ’n “treinspoor” gebou het waarmee hulle ’n wa (met die pompe bo-op gemonteer) met die minimum toerusting na veiligheid kan trek wanneer die riviervlak styg. “Ons het die idee op ’n ander plek gesien, maar dit self gebou,” sê hy.

Genade-boerdery pas wisselbou toe en plant in die somer grondbone, mielies, aartappels, lusern en pekanneute. In die winter fokus hulle op koring en gars.

Voor- en nadele van besproeiing
Hulle deel graag hul ervaring met ander. Aangesien besproeiingskoste direk van kragverbruik afhanklik is, word dit volgens R/mm bereken.

Hoewel uitgebreide wisselbou en min bewerking toegepas word, sê Vickie junior fyn bestuur is noodsaaklik sodat daar nie oor- of onderbesproei word nie.

Die voordele van besproeiing sluit volgens hom die volgende aspekte in:

  • Beter beplanning is moontlik.
  • ’n Groter verskeidenheid gewasse kan aangeplant word.
  • Wisselbou kan toegepas word.
  • Beide somer- en wintergewasse kan aangeplant word.
  • Wind en temperatuur kan beter bestuur word.
  • ’n Gesonde klimaat word bewerkstellig – bedompige toestande word uitgeskakel.
  • Kunsmis kan deur die spilpunte toegedien word, wat beter resultate lewer.

Besproeiing hou egter ook nadele in:

  • Die sukses hang af van die beskikbaarheid van water.
  • Insetkoste is hoog weens hoë elektrisiteitskoste.
  • Waterbelasting is hoog.
  • Daar is geen vrye tyd nie – besproeiing verg 24 uur per dag aandag.

Vickie junior waarsku uit ervaring dat besproeiing nie ’n vinnige manier is om geld te maak nie, deels omdat insetkoste en die kapitale uitleg per hektaar besonder hoog is. Voorts is daar waar wisselbou toegepas word, feitlik geen kans vir rus nie. “In Desember het ons 21 dae om die koring te stroop en die mielies in die landerye te kry.”

Hulle raad aan produsente wat besproeiing oorweeg? Beplan deeglik, want vloede en droogtes bly uitdagings en die gaping tussen inset- en uitsetkoste raak al hoe kleiner.