Die bitter en soet van SA se sorghummark

Gepubliseer: 2 Oktober 2023

797
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom,
Graan SA,
marguerite@grainsa.co.za

06/09/2023

Sorghum, ’n nisgewas in Suid-Afrika, bied talle voordele: dit is ’n glutenvrye, nie-GMO- (geneties gemodifiseerde organisme), voedsame graankos wat propvol dieetvesel is, vertering aanhelp en ’n gesonde dieet bevorder. Dit is ook voordelig vir die voorkoming van allergieë, die bestuur van vetsug en die verskaffing van volgehoue energie.

Buiten die voedingsgebaseerde voordele, kan sorghum ook verwerk word om ’n produk wat deur vele Suid-Afrikaners geniet word, naamlik sorghumbier, te stook. Dié gewas se weerstand teen klimaatsverandering en sy vermoë om droogte, hitte en versuiping as gevolg van wisselvallige reënval te weerstaan, maak dit ’n uitstekende alternatief vir mielies. Dit is die wêreld se vyfde belangrikste graan na koring, mielies, rys en gars.

Sorghum word wêreldwyd volgens verskillende gebruike geklassifiseer as voersorghum, graansorghum, soetsorghum, biomassasorghum en dualistiese sorghum. In Suid-Afrika word twee tipes sorghum geproduseer, naamlik soetsorghum (tannien-klas) en bittersorghum (nietannien-klas). Soetsorghum word hoofsaaklik vir meel, rys en gruis gebruik, terwyl bittersorghum hoofsaaklik vir binnenshuise en vloermout gebruik word.

Hoe lyk die plaaslike mark?
Op plaaslike vlak in die sorghummark word ’n “bitter” prentjie waargeneem wanneer gekyk word na die produksie sowel as die vraag-en-aanbod-statistiek. Die totale oppervlakte onder produksie het die afgelope twee dekades drasties afgeneem en met meer as 50% gedaal met slegs 34 000 ha wat in die 2023/2024-seisoen aangeplant is. Die produksie van sorghum toon ook ’n afwaartse neiging, maar nie so steil soos die oppervlakte aangeplant nie. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan beter opbrengs­te wat oor dieselfde tydperk behaal is.

Volgens die sewende produksieskatting­ van die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het sorghumproduksie in die 2023/2024-bemarkingsjaar afgeneem tot 97 740 ton in vergelyking met die finale oes van 103 140 ton in 2022/2023. Die oppervlakte aangeplant het met 9,4% afgeneem van 37 200 ha tot 34 000 ha met ’n verwagte opbrengs van 3,1 t/ha. Tabel 1 vergelyk die vraag en aanbod tussen die 2022/2023- en 2023/2024-seisoene.

As daar na vraag- en aanbodtendense gekyk word, is dit opvallend dat die totale binnelandse vraag na sorghum wat vir die 2023/2024-seisoen geskat is, jaar tot jaar met 17% van 172 302 ton afgeneem het tot by 147 830 ton. Moontlike verklarings vir die afname in die vraag na sorghum is dat sorghum ’n substituutproduk vir mielies is. In die sorghummark word daar voorspel dat die vraag na sorghum spesifiek vir veevoer­verbruik met tot 72% kan daal. Alhoewel voerverwerkers steeds duur vir mielies be­taal, het die verbruik van beide geel- en witmielies hierdie seisoen aansienlik gestyg – wat die vraag na sorghum onder druk plaas.

Aan die aanbodkant tussen die 2022/2023- en 2023/2024-seisoen, word daar voorspel dat die totale aanbod ook met byna 22% kan afneem van 219 258 ton tot by 179 296 ton. Om hierdie afname in die totale aanbod te verstaan, word ’n paar punte uitgelig: Eerstens is die produksie van sorghum minder winsgewend in vergelyking met die produksie van sy mededinger, mie­lies. Tweedens is daar onsekerheid oor die plant van sorghum wat meegebring is deur die aansienlike dalings in sorghumvraag oor die afgelope paar seisoene.

Grafiek 1 toon die afgeleide sorghum­pariteitspryse vir Amerikaanse sorghum gelewer in Randfontein. Sorghumpryse in Suid-Afrika, wat afgelei word van mie­lie-pryse, het vanaf September 2021 skerp stygings getoon. Dit is meegebring deur baie swak produksie in Amerika. In teenstelling met die 2021-seisoen het pryse in die 2022-seisoen weer skerp gedaal toe Amerikaanse produksie herstel het. Plaaslike, afgeleide pryse verhandel tans onder die Amerikaanse uit­voerpariteit van R3 933/ton. Met die aansienlike afname in produksie hierdie seisoen is daar spasie vir pryse om nader aan die invoerpariteitsprys van R5 770/ton te beweeg.

Grafiek 1: Pryse van VSA-sorghum gelewer in Randfontein.
Bron: Graan SA

Oorsig van die internasionale markte
Alhoewel sorghumpryse dalk nie op so ’n beduidende skaal soos mielies op internasionale markte hoef mee te ding nie, volg plaaslike pryse steeds wêreldtendense. Op globale skaal produseer Afrika 46% van wêreldsorghum, met die grootste produksie wat opgemaak word deur Nigerië (11%) en Soedan (8%). Buite die Afrika-kontinent kraai Amerika hierdie seisoen koning wanneer dit kom by sorghumproduksie.

As gevolg van Amerika se aansienlike toename in produksie vanjaar, word verwag dat dié land se uitvoerhoeveelhede hierdie seisoen aansienlik gaan toeneem. Daar word egter ook voorspel dat China, wat die wêreld se grootste markaandeel vir sorghuminvoere het, se invoerhoeveelhede hierdie seisoen kan styg en dus die oortollige produksie uit Amerika absorbeer.

Grafiek 2 illustreer die vooruitsigte vir wêreldsorghumvraag- en -aanbod. Met die voorspellings vir die 2023/2024-seisoen, sien ons dat ’n 9,2%-toename in internasionale aanbod kan realiseer. Hoewel die wêreldvraag na sorghum skerper kan styg hierdie seisoen, met ’n 9,3%-toename, bly die vraag steeds laer as die aanbod. Daar is egter nie rede tot kommer nie, omdat hierdie tendens eie is aan die internasio­nale sorghummark. Wat hierdie seisoen egter uniek maak, is dat die toename in produksie voldoende is om wêreldvraag te bevredig.

Grafiek 2: Internasionale vraag-en-aanbod-scenario vir sorghum.
Bron: Internasionale Graanraad (IGC)

Die pad vorentoe
Die Verenigde Nasies het 2023 verklaar as die Internasionale Jaar van Giersgraan (IYM2023) om bewustheid oor die gesondheids- en voedingsvoordele van dié tipe graan (waaronder sorghum val) te bevor­der. Vandag is sorghum slegs die sesde grootste graangewas in Suid-Afrika, naas mielies, koring, sojabone, sonneblom, koring en gars. Dit is in teenstelling met ’n dekade gelede toe sorghum die derde grootste graanoes ná mielies en koring opgelewer het. Dit los die sorghummark met die vol­gende vraag: “Hoe lyk die pad vorentoe vir hierdie veelsydige nisgewas?”

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.