Die doppie

2320

Beste Grootneef

Die doppie staan al ’n week op my lessenaar. Nou en dan word dit liggies tussen die vingers geroer en teen die lig betrag. Vir die fynproewer ontsluit dit geure van kordiet, tentseil en oop veld uit die 2019-oesjaar.

Ou Neef, dié doppie kom van ver. Nou staangemaak op ’n ereplekkie net om die lewe se skaal in balans te hou. Ons aardse bestaan gaan mos oor baie meer as bloot die rondskuif van woorde en syfers of om die Ontvanger tevrede te hou.

Die samesyn met die doppie het die oggend douvoordag begin. Die ryp was soos as oor die Vrystaatse vlaktes gestrooi, met ’n koue suideluggie al die pad van die Maluti’s af.

Die winterveld was in ’n palet van grys en geel getooi soos die eerste sonstrale oor die vlaktes gestreel het. Die horison se kleure ’n sagte reënboogblou, met die laaste stukkie donker wat voor die dagbreek vermurwe het.

’n Kampvuur met bloekomstompies het geknetter en vonkies die lug in geslinger. Die koffieketel op die driepoot was aan die sing, met stoom wat uit die tuit geborrel het. Moerkoffie op sy beste. Met anysbeskuit sag geweek, elke proesel ’n meesterstuk.

Stemme het sag oor die veld van die statte gesweef, soos dit net op ’n winters­oggend kan. Ver weg het ’n hond geblaf.

Die veld was oop en groot. Die enigste geluid was die voetval deur die droë gras. ’n Miershoop het ’n rusbank geword om die wêreld te bespied.

’n Troppie blesbokke het in gelid oor die bult gestap. Die groot ooie met Desember-lammers voor, gevolg deur ’n paar jong ramme wat ’n veilige afstand van die tropram gehou het.

Die voorste ooi het skielik vasgesteek en stip na die miershoop met die hoed op gekyk. Toe die miershoop egter roerloos bly sit, het sy aangestryk, die bult af.

Teen dié tyd was ek heel gemaklik agter die miershoop. Die eerste van die jong ramme het die kim met kop en skouers gebreek en botstil bly staan – steeds nie tevrede met die miershoop met die vreemde vorm nie. Die trop ooie voor hulle in die vlakte het egter die deurslag gegee. Die troppie ramme het stil oor die bult se rand beweeg. Die voorste ram, tot in die teleskoop se kruishaar.

’n Vars lewertjie met growwe sout en mieliepap was die middag se koningsmaal – Vrystaat-kreef, ou Neef, ryk en lekker.

Die laaste aand is gedeel in gemeensaamheid van ’n kampvuur en ’n sekelmaan. Die Suiderkruis was helder in sy ewige baan oor Afrika se suidkant. ’n Jakkals het sy eensame tjankblaf oor die vlaktes laat hoor. Dit was winter.

Dis dié dat die 30-06-doppie op die lessenaar staan. Want die koel koper in jou hand neem jou na ’n ander werklikheid as die een waar mot en roes verniel en diewe inbreek en steel.

Ou Neef, tog jammer dat daar net een winter in ’n jaar is. Maar dalk kan ons die president vra om ’n plan te maak – hy gaan mos vir groot drome in die suidland. As ’n koeëltrein van die noorde tot die suide en ’n spiksplinternuwe stad moontlik is…

Groete op die Oosgrens.

 

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.