Oorwintering in 2019: Uitdagings en praktiese riglyne

3257

Alhoewel daar al baie oor die onderwerp van oorwintering geskryf is, bly dit ’n groot uitdaging vir elke produsent. Enersyds omdat voer in alle waarskynlikheid die grootste koste-inset vir die veeprodusent is en andersyds omdat geen twee wintertydperke ooit dieselfde is nie.

Voeg daarby kwessies soos die gehalte en hoeveelheid beskikbare veld wat met die wintertydperk gepaard gaan, veldbrande, ongewoon lang winters asook die produksieverwagting wat produsente van hulle vee het – en ’n mens het ’n resep vir ’n baie uitdagende winter.

Hierdie artikel fokus op sekere aspekte van oorwintering, met die klem op die slaggate, die moets en moenies van voervloei, voerbehoeftes en sekere praktiese riglyne om oorwintering so prakties en ekonomies as moontlik aan te pak.

Waar word kleigetrap?
Produsente is geneig om reaktief op te tree, gewoonlik met negatiewe koste-implikasies. Beplanning vir oorwintering begin reeds in die lente vóór die winter, wanneer die winterbehoefte in terme van droëmateriaalbehoefte bepaal moet word (100 koei-speenkalf­eenhede benodig nagenoeg 580 ton droëmateriaal per jaar).

Een van die foute wat gemaak word, is om te aanvaar dat een koei een grootvee-eenheid (GVE) is. Produsente oorskat ook hul voerbronne se produksies en onderskat hul vee se voerbehoeftes. Verder word voerbronne dikwels verkeerd aangewend.

Sekerlik die grootste probleem is dat die vee te veel vir die hulpbronne is – maak dus seker hoeveel vee die hulpbronne in ’n normale jaar op die lang termyn kan dra. Bly binne die norme en baie trane sal gespaar word.

So hoeveel voer word benodig?
Voor die somme gemaak word, is daar ’n paar aspekte wat goed verstaan moet word, naamlik:

  • Grootvee-eenheid (GVE);
  • weidingskapasiteit (ha/GVE);
  • drakrag (ha/GVE); en
  • die veebeladingskoers (ha/GVE).

’n GVE word beskryf as ’n bees wat 450 kg weeg en 500 g/dag groei op weiding met ’n gemiddelde verteerbaarheid van 55%. In hierdie geval het ’n GVE 75 MJ/dag nodig. Hieruit is dit duidelik dat ’n koei nie noodwendig ’n GVE is nie. Daar is ander aspekte wat ’n koei se GVE bepaal, naamlik haar raamgrootte asook die stadium van produksie.

Tabel 1 gee die GVE volgens beestipe en produksiestadium.

Die stelsel waarin geboer word, bepaal ook die waarde wat ’n koei verteenwoordig. In Tabel 2 word die norme verskaf wat ’n mediumraamkoei in verskillende stelsels verteenwoordig.

Weidingskapasiteit (ha/GVE) verwys na twee aspekte, naamlik spesiesamestelling en die produksiepotensiaal van die veld. Weidingskapasiteit word gedefinieer as die oppervlakte weiding (ha) benodig om ’n spesifieke diereenheid in produktiewe of reproduktiewe kondisie te hou vir die normale weidingsperiode (maande) sonder om die weiding te laat agteruitgaan of gronderosie te veroorsaak. Weidingskapasiteit word gewoonlik in ha/GVE of kleinvee-eenheid (KVE) uitgedruk.

Drakrag (ha/GVE) van ’n plaas verwys na al die bronne wat voer vir ’n plaas verskaf. Dit kan insluit die veld, aangeplante weiding asook ander bronne en dit word uitgedruk in oppervlakte (ha) benodig om ’n spesifieke diereenheid in ’n goeie produksiekondisie vir ’n normale weidingstyd (maande) te onderhou sonder om die weiding te laat agteruitgaan of gronderosie te veroorsaak.

Die veebelading (ha/GVE) verwys na die oppervlakte weiding wat aan elke gespesifiseerde vee-eenheid toegewys word.

Die verskil tussen veebelading en weidingskapasiteit moet verstaan word: Weidingskapasiteit verwys na die optimum gebruik van die plantegroei en veebelading verwys na die oppervlakte:diereverhouding wat die mees ekonomies is.

Ten einde die voerbehoeftes van die vee en die voerbeskikbaarheid van die verskillende voerbronne bymekaar te bring, is die terme droëmateriaal (DM) en droëmateriaalinname (DMI) geskep. Dit is die waarde van die voer waar die effek van vog en ’n paar ander aspekte uitgehaal is en die ruvoerinname van die dier kan hiervolgens gebalanseer word.

Meissner et al. (1983) werk op ’n gemiddelde DMI van 2,5% van liggaamsmassa vir groeiende diere. Indien voginhoud en vermorsing van hooi ingereken word, is die gemiddelde ruvoerinname (hooi) ongeveer 3% van liggaamsmassa. Vir lakterende diere is die gemiddelde DMI 3,0% (2,7% – 3,3%) van liggaamsmassa. Indien voginhoud en vermorsing van hooi ingereken word, is die gemiddelde ruvoerinname (hooi) ongeveer 3,5% van die liggaamsmassa.

Indien die aanname gemaak word dat ’n koei 450 kg weeg en dat sy in die onderhoudstadium is, benodig sy net 2,2% van haar liggaamsmassa per dag in voer. Dit beteken dat 10 kg hooi per dag of 300 kg hooi vir ’n maand benodig word. As aanvaar word ’n baal weeg 250 kg, sal 15 bale per jaar benodig word om hierdie koei te onderhou.

Nou moet daar besin word waar die hooi vandaan gaan kom. Die hooi kan vervang word met natuurlike veld, aangeplante weiding, oesreste of hooi wat self geproduseer of ingekoop is. Aangesien ’n dier se voedingsbehoeftes in kilogram droëmateriaal uitgedruk is en die produksie ook in droëmateriaal uitgedruk is, kan die behoefte en produksie gebalanseer word.

As die veld ’n drakrag van 3 ha/GVE het, beteken dit dat 3 ha veld genoeg kos vir een GVE vir ’n volle jaar sal produseer.

Dit beteken dat die 3 ha veld ongeveer 4 927 kg hooi of 4 517 kg droëmateriaal produseer. Bereken hoeveel kilogram droëmateriaal die voerbron produseer, wanneer dit die voer produseer en hoeveel van hierdie voer vir gebruik beskikbaar sal wees om te bepaal hoeveel vee vir hoe lank op watter bron geplaas kan word.

Begin vroegtydig
Hierdie jaar met sy laat reën gaan verseker ’n voertekort veroorsaak. Bepaal hoeveel beeste daar op die plaas is. Bepaal die hoeveelheid kos wat daar nou op die plaas is en bereken die droëmateriaal wat dit behoort te lewer.

Weens die droogte en laat reën behoort die veld net die helfte van normale produksie te lewer. Bereken nou hoeveel kos beskikbaar is en hoeveel benodig word. As daar aangevul moet word, is ’n goeie duimreël: ’n Baal per kop per maand. As alle diere in berekening gebring word, moet daar genoeg voer op die plaas wees.

Nou kan besluit word: Moet vee verkoop word, moet daar voer ingekoop word of moet die bestaande voerbronne anders aangewend word? Dalk moet die voersorghum byvoorbeeld vroeg bewei word sodat daar nie baie stokke onbenut kan agterbly nie.

Ander aspekte wat in gedagte gehou moet word, sluit in die kuddegrootte, die stabiliteit van die kudde en die terughou van ’n groot persentasie vroulike diere met die oog op ’n kuddeboufase. Kyk byvoorbeeld na mielies wat op baie plase een van die grootste bydraende faktore tot die voerbank is – gaan daar gestroop, gekuil of kopmeel gemaak word?

Unieke behoefte
Elke produsent se unieke behoefte en produksiestelsel sal hierdie vraag beantwoord, maar die antwoord het ’n bepaalde effek op hoeveel voer benodig gaan word. Indien speenkalwers afgerond word, sal kopmeel ’n goeie opsie wees, maar in ’n droogtetydperk waar volume verlang word, sal kuilvoer dalk ’n beter keuse wees.

Wanneer daar gevra word hoeveel voer, is dit ook belangrik om na infrastruktuur te kyk. Is daar voldoende stoorgeriewe beskikbaar? Baie voer wat ten duurste geproduseer is, gaan verlore as gevolg van swak en onvoldoende bergingspraktyke (nagenoeg 10% van ruvoer gaan verlore weens verwering en windverliese). Net só is dit ook nie gewens dat duur toerusting buite in wind en weer staan terwyl die voer onder die afdakke gepak is nie.

Een van die belangrikste faktore as dit kom by hoeveel voer voorsien moet word, is die feit dat voerinname die grootste drywer van veeproduksie is. Almal is bewus van die sterk korrelasie tussen liggaamskondisie en ekonomies belangrike eienskappe soos konsepsie- en herkonsepsiesyfers, kalf- en speenpersentasies en speenmassa.

As die National Research Council (NRC) se riglyne gebruik word, blyk dit duidelik dat ’n droë koei van 400 kg nagenoeg 3,15 kg energie en sowat 0,375 kg proteïen per dag benodig vir onderhoudsdoeleindes. Let wel dat dieselfde koei se energiebehoefte met 25% styg twee maande voor kalf, wanneer daar ook ’n verdubbeling in haar proteïenbehoefte ontstaan. Onthou ook dat koeie dikwels heelwat swaarder is as 400 kg en dat die nodige aanpassings gemaak moet word.

Handhawing van liggaamskondisie
Van kardinale belang in enige oorwinteringsprogram is die ekonomiese handhawing van liggaamskondisie. Winterweidings alleen kan nie aan diere se onderhoudsbehoeftes voldoen nie. Korrekte, strategiese lekaanvullings is hier van onskatbare waarde. Talle goeie voervloeiprogramme val juis hier plat, omdat daar nie aandag geskenk word aan die nodige proteïen- en/of energie-aanvulLings nie, met nadelige gevolge vir reproduksie.

Maak dus seker dat enige lekprogram die tekorte tydig aanspreek. Dit kan natuurlik wissel na gelang van die jaar en spesifieke produksiestelsel.

Vir meer inligting kontak Phillip Lee by Phillip.Lee@Hinterland.co.za of Pietman Botha by 082 759 2991.