SONKRAGSTELSELS het steeds ’n KRAGBRON nodig om te werk

81

Verskeie energieverbruikers, insluitend die landbou-sektor, het oor die jare verskillende tipes en groottes sonkragstelsels geïnstalleer om die gereelde kragon­derbrekings en hoë elektrisiteitskoste hok te slaan. Sekere van hierdie sonkragstelsels, bekend as netwerkgekoppelde (grid-tied) sonkragstelsels, het egter steeds Eskom of die munisipale kragnetwerk nodig om te funksioneer.

Voor die toename in sonkragopwekking in die Suid-Afrikaanse bedryf in 2011, is talle grootskaalse sonkragprojekte reeds suksesvol wêreldwyd geïnstalleer. Lande soos Duitsland het subsidies en gunstige invoertariewe beskikbaar gestel vir netwerkgekoppelde sonkragstelsels. Soortgelyk was Suid-Afrika se eerste sonplase en sonkragstelsels by besighede, winkelsentrums en boerderye ook netwerkgekoppelde sonkragstelsels. Die sonplase kon hul elektrisiteit teen gunstige tariewe aan Eskom verkoop, terwyl die verbruikers hoofsaaklik sonkragstelsels geïnstalleer het om hulle maandelikse elektrisiteitsrekeninge te verlaag.

Figuur 1: Basiese netwerkgekoppelde stelsel.

Netwerkgekoppelde stelsels
Netwerkgekoppelde stelsels maak sin vir areas en lande waar daar nie kragonderbrekings is nie en waar energie-opwekking of -bespa­ring die hoofdoel van die sonkragstelsels is. Hierdie tipe stelsels maak gewoonlik nie gebruik van batterye nie, wat dus die koste van die oplossing amper halveer en gunstige terugbetaaltydperke van tussen drie tot ses jaar bied.

Die uitdaging in die Suid-Afrikaanse konteks is dat hierdie stelsels geen krag kan opwek tydens ’n kragonderbreking nie. Die enigste manier om suiwer netwerkgekoppelde sonkrag te benut tydens ’n kragonderbreking, is om batterye met versoenbare hibriede omsetters by te voeg of die sonkragstelsel met slim-beheerde brandstof-kragopwekkers te integreer.

Ander redes waarom van die sonkragstelsels netwerkgekoppel is en moontlik moet bly, is omdat die verbruiker se kragverbruik eenvoudig te hoog is om op sonkrag alleen staat te maak, selfs al word batterye bygevoeg. Gevallestudies het getoon dat selfs al is die sonkragstelsel groot genoeg om die meeste van die verbruiker se laste deur die hele jaar te hanteer, daar nog steeds tye gaan wees waar die sonkrag nie genoeg energie gaan lewer nie as gevolg van slegte weer of hoër as normale kragverbruik. Brandstofkragopwekkers kan as ’n alternatief gebruik word tydens slegte weer, maar die koste hiervan is ongeveer drie maal meer as om die krag by Eskom aan te koop.

Die vermindering van Eskom-kragverbruik en die uitvoer van oortollige sonkragenergie terug in ons plaaslike kragnetwerk het ’n noemenswaardige bydrae gemaak tot die afname in beurtkrag.

Figuur 2: Basiese netwerkgekoppelde nie-invoerstelsel.

Wetlike vereistes
Kragverbruikers met netwerkgekoppelde sonkragstelsels word wel aangemoedig om die stelsels by hul kragvoorsiener te registreer. Dit is ’n nasionale wetlike vereiste en dit verhoed die kans dat die versekering nie sal uitbetaal indien iets skeefloop met die elektriese installasie nie. Verbruikers moet die finansiële som maak voordat hulle besluit om wel die uitvoertarief te eis, omdat dit nie altyd finansieel sinvol sal wees nie.

Dié wat oorweeg om heeltemal van die netwerk te ontkoppel, moet eers vooraf bepaal of dit wetlik moontlik is en wat die koste-impak sal wees. Vir party verbruikers maak dit heeltemal finansieel sin, terwyl dit vir ander groot koste met beperkte voordele sal inhou.

Daar is natuurlik ander tipe stelsels met ander vermoëns en toepassings as ’n suiwer netwerkgekoppelde sonkragstelsel, maar dié stelsels sal heel waarskynlik duurder wees met ander finansiële voordele. Dit is daarom belangrik dat die regte oplossing met die regte grootte stelsel gekies en geïnstalleer word.

Figuur 3: Netwerkgekoppelde stelsel met batterye.