Dis tyd vir vorentoe kyk en deelneem, sê Jaco Minnaar

Marleen Smith, SA Graan/Grain medewerker

673

Kyk vorentoe en neem deel om ’n nuwe era vir Suid-Afrika en sy landbou te laat aanbreek. Die sogenaamde “nege verlore jare” (onder oudpresident Jacob Zuma) is verby en agter die rug. Apatie en onbetrokkenheid gaan nie die soort erfenis skep wat jy aan jou kinders verskuldig is nie.

Dít was mnr Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, se boodskap aan afgevaardigdes op die produsente-organisasie se 2019-kongres.

“Die verkiesing en reaksies op al die verskillende kommissies (waar die georganiseerde landbou insette help lewer) en die inwerkingstelling van herstelplanne sal die toekoms van hierdie land bepaal. Maar ons kan nie net toeskouers hierin wees nie. Ons is deel van die land se toekoms en ons moet aktief deel van hierdie prosesse wees.

“Graan SA sal daar wees om sy stem te laat hoor oor die toekoms van landbou en die land, maar ons het julle steun nodig. Ons het jul betrokkenheid by hierdie organisasie nodig, sowel as jul betrokkenheid by die gemeenskappe waarin julle woon.

“Ons moet seker maak dat hierdie mooi land sy volle potensiaal bereik. Ons moet die hoop en die visie skep dat ons saam hierin kan slaag, en die geleenthede vir ons kinders skep om hier te leef en te floreer. Ons skuld hulle dit,” het Jaco gesê.

In sy samevattende slotboodskap het hy een spreker aangehaal wat ’n uitdaging gestel het aan almal wat daaraan toegewy is om Suid-Afrika beter te maak: Gaan koop vir jou ’n Suid-Afrikaanse vlag as simbool hiervan en hys hom voor jou huis om te wys jy glo in ’n nuwe Suid-Afrika.

“Begin by die klein take: Nooi mense na jou vergaderings toe uit, besoek jou buurman en ontwikkel begrip vir sy behoeftes. Ons het ’n verenigde landbou en verenigde Suid-Afrika nodig.

“Moenie vir ander wag om ons Kanaän te skep nie; skep dit self.”

Kommer oor winsgewendheid
In ’n jaar waarin produsente oor die land heen vuisvoos is en party al so lank as sewe jaar droogte trotseer, het Jaco gesê dit sal Graan SA se hooffokus bly om graanprodusente se winsgewendheid en volhoubaarheid te help verseker.

By die dag verloor die land graanprodusente – hulle word omtrent met die helfte minder elke 15 jaar. Die uitwerking hiervan spoel oor na landelike gemeenskappe, wat onder meer skole en kerke insluit. ’n Verdere uitwerking is die kommerwekkende groei in landbouskuld, veral oorlaatskuld.

Die graanproduksiebedryf is onder geweldige finansiële druk en nie volhoubaar as daar maar net op die gebruiklike trant aangegaan word nie.

“Ons moet op verskeie maniere aanpas en oplossings vir die beperkings vind.

“Droogte was nog altyd met ons en sal ook in die toekoms wees. Beoordeel self jou boerdery en maak die nodige aanpassings, hetsy dit alternatiewe gewasse, ruslandstelsels, bewaringsbewerking of die vergroting van jou veevertakking is. Let wel dat hierdie praktyke nie noodwendig vir almal werk en oral inpas nie, so doen jou huiswerk om te verhoed dat jy nie dalk risiko’s verhoog nie.

“Introspeksie is altyd noodsaaklik.”

Jaco Minnaar

Oorlaatskuld en regeringshulp
Klimaat is een van die voorste faktore wat landbouproduksie in Suid-Afrika beïnvloed en die wisselende en bykans onvoorspelbare toestande die afgelope tyd het volhoubaarheid erg benadeel.

Graan SA praat gedurig met handelsbanke en landboumaatskappye, beide op formele en informele vlak, om die graanprodusent se saak te stel en bystand, ondersteuning en kalmte te vra. Met insetverskaffers het die organisasie ook vergader en daar is reeds ondersteuning vanaf hul kant in die vorm van uitgestelde betalings en ingeperkte verhogings.

In die gesprekke met finansiers is die groot mate van oordragskuld wat jaarliks opbou, egter ’n groot probleem. Daarom het Graan SA via Agri SA staatshulp in die vorm van ’n soort waarborgstelsel vir graanprodusente gevra, maar weens die benarde stand van die staatskas plaas hulle nie veel hoop op hierdie alternatief nie, het Jaco gesê.

’n Droogteplan
Graan SA is ook deel van ’n droogtekomitee van die Nasionale Bemarkingsraad.

Dié komitee het vier voorstelle gemaak wat die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye aanvaar het om rampe en droogte­risiko’s te verlig sodat hulp verleen kan word – met bydraes vanaf beide die regering en die private sektor, wat produsente insluit.

Hierdie voorstelle sluit ’n ramp-en-droogtefonds in waartoe beide produsente en die regering bydra.

’n Tweede voorstel is vennootskappe tussen die regering en private sektor wat help om daadwerklike ingrypings te bewerkstellig om die uitwerking van rampe en droogtes in die landbou te verlig.

Wat die medium en lang termyn betref, word gevra vir versekeringsprodukte wat allesomvattend is en waartoe die regering gedeeltelik moet bydra. Koördinasie van vroeë waarskuwingstelsels is ook nodig sodat besluitneming en optrede betyds en doeltreffender kan wees.

Graan SA is hard aan die werk om te help sorg dat hierdie voorgestelde strategie uitgevoer word, sê Jaco.

Liggingsdifferensiaal
Oor die gewraakte liggingsdifferensiaal het Jaco gesê Graan SA beywer hom vir ’n gelyke speelveld waarin daar genoeg inligting beskikbaar is sodat produsente in ’n wisselvallige politieke en ekonomiese omgewing die regte bemarkingsbesluite kan neem.

Hulle het die afgelope jaar opnuut baie tyd bestee aan die kwessie van liggingsdifferensiale en wag vir die uitslag van ’n ondersoek daarna deur die Amerikaanse kenner, dr Matt Roberts. Sy voorstelle sal oorweeg word en so gou moontlik haalbaar geimplementeer word.

Daarna sal Graan SA egter sy fokus verskuif om markinligting deursigtiger te maak, soos die deurlopende bekendmaking van pryspremies wat in die mark beskikbaar is.

Die uiteindelike doelwit is ’n webtuiste, wat ’n produsent wat graan wil verkoop of ’n aankoper wat graan wil koop, kan besoek en waarop pryse wat op ’n bepaalde plek aangebied of gevra word daagliks gepubliseer word. Hy het ’n beroep op alle belanghebbendes gedoen om hieraan deel te neem om te help om ’n deursigtige kontantmark te vestig.

“Ons het reeds informele gesprekke met handelaars en kopers hieroor gehad en verwag dat hulle eersdaags hierdie inligting op die web gaan publiseer.”

Voorts besef Graan SA dat die vraag na graanprodukte in die markplek uiters noodsaaklik is en word baie aandag daaraan geskenk om na nuwe markte te gaan kyk, binnelandse verbruik te verhoog en Suid-Afrikaanse grane en oliesade se gehaltestandaarde op ’n punt te kry waar dit vergelykbaar is met graan wat ingevoer word.

“Hierdie aksies het reeds vrugte afgewerp en ons sien uit na nog voordele wat kom.”

Navorsing
Besteding aan en doeltreffendheid van navorsing is van die uiterste belang vir enige land wat mededingend en volhoubaar aan die wêreldmark wil deelneem. Daarom is Graan SA uiters bekommerd oor die merkbare agteruitgang hiervan in Suid-Afrika die afgelope dekade, het Jaco gesê.

Die organisasie het dus ’n afdeling vir navorsingskoördinasie binne eie geledere tot stand gebring. Hierdie afdeling vaar net al hoe beter in die vestiging van verskeie navorsingskonsortiums, in vennootskap met belanghebbendes in die bedryf, navorsingsinstellings en die regering.

Meer finansiering is egter nodig en Graan SA gaan soek selfs buite die landsgrense hierna.

Bedryfsheffings
Ten spyte van die droogte het Graan SA vanjaar baie meer heffings ingevorder as waarvoor begroot is – bykans R20 miljoen, het Jaco gesê. Hierdie nuus kom midde-in ’n tydperk waarin Suid-Afrikaners al hoe meer langtand raak om belasting aan die regering te betaal.

Jaco het gesê hulle sien veral ’n sterk neiging in sekere streke dat die bydraes van heelparty lede en hul totale bydrae groei.

“Dit bevestig vir ons dat Graan SA wel waarde tot jul boerderye en besighede toevoeg. Vrywillige bydraes is ’n kultuur wat aansteeklik is.”

Hy het ’n beroep op produsente gedoen om meer lede van die waarde van Graan SA te oortuig, sodat die organisasie nóg meer vir produsente kan verrig.

Ministers steun plan vir die platteland
Saam met AgBiz en Agri SA was Graan SA ten nouste betrokke by die opstel van ’n landbouplan, waarvoor daar in middel 2018 uit die presidensie gevra is. Dié plan het ten doel om die landbou en die landelike ekonomie te stimuleer en te laat groei.

Die voorgestelde plan is aan 17 kabinetsministers voorgelê en uiteindelik is dele daarvan in 2019 se staatsrede en begrotingsrede vervat.

“Ons glo dat die staat dit daadwerklik steun en dat dié plan die toekoms van landbou sal bepaal,” het Jaco gesê.