Trichoderma sorg vir gesonde grond

Alicia Geyer, MBFi
Gepubliseer: 9 Julie 2020

1413

Grond is ’n komplekse mengsel van mineraaldeeltjies, water, lug en organiese materiaal en die bydrae van hierdie fundamentele hulpbron tot plantproduktiwiteit is welbekend.

Grondkwaliteit en grondgesondheid bepaal landbou se volhoubaarheid. ’n Fyn balans tussen die chemiese, fisiese en biologiese (insluitend mikrobiologiese) grondkomponente dra by tot die handhawing van ’n gesonde grond.

Mikroörganismes: lae volume – groot impak
Ten spyte van die lae volume wat mikrobes in die grond opneem, lewer hulle ’n onvervangbare bydrae tot die volhoubare werking van die grond-ekostelsel. Een gram grond kan ongeveer een miljard bakterieë en 10 tot 20 miljoen fungi huisves. Grondmikrobes is in staat om organiese materiaal af te breek; atmosferiese stikstof na ’n plantbeskikbare vorm om te skakel; organiese stikstof na ’n biobeskikbare vorm om te skakel; organiese en anorganiese fosfate en swawel na biobeskikbare vorms om te skakel; plantpatogene in die grond te reguleer en onderdruk; plantgroei en wortelontwikkeling te verbeter; die opbou van plaagdoders en onkruiddoders in die grond te verminder; die opname van verskeie mikronutriënte te verhoog sowel as om grondstruktuur, waterhouvermoë en belugting van die grond te verbeter.

Trichoderma – van plantgroeibevordering tot siekte-onderdrukking
Alhoewel verskeie swamme plantsiektes veroorsaak, speel die groot meerderheid ’n belangrike rol in algehele grond- en gewaskwaliteit. ’n Mikrobiologies gesonde grond word wel nie net bepaal deur die hoeveelheid voordelige mikroörganismes in die grond nie, maar ook deur die diversiteit van die teenwoordige mikrobiese populasie. Daar is wel ’n paar genera wat die meerderheid van die funksies kan verrig wat bydra tot ’n mikrobiologies gesonde grond. Trichoderma spp. is een van die mees dominante genera wat natuurlik in grond voorkom. Dit vervul onder meer die volgende funksies:

  • Plantgroeibevordering en wortelontwikkeling deur die produksie van ’n reeks plantgroeireguleerders.
  • Biologiese antagonisme en beheer van plantpatogene deur die produksie van selwand-afbrekende ensieme en bio-aktiewe komponente.
  • Afbreek van organiese materiaal en beskikbaarstelling van verskeie makro- en mikronutriënte vir die plant.
  • Die afbreking van toksiese middels in die grond.
  • Indusering van die plant se weerstand om plantsiektes meer effektief te beveg.

Hulpbron in ’n onsekere omgewing
Die biodiversiteit en effektiwiteit van grondmikrobes word beïnvloed deur faktore soos pH, die teenwoordigheid van nutriënte, grondstruktuur, waterinhoud, gewasgeskiedenis, soutinhoud en die toevoeging van plaag- en onkruiddoders, om net ’n paar te noem. Grondgesondheid vanuit ’n chemiese en fisiese perspektief kan nie altyd gewaarborg word nie. Die biologiese komponente moet dus tot so ’n mate aanpas om hierdie versteuring te oorleef en nog steeds die voordelige funksies aan die plant te verskaf. Trichoderma spp. oorleef uiters goed onder suboptimale omstandighede en het metodes ontwikkel om die volgende grondtoestande te manipuleer tot voordeel van hulself en die plant:

  • Grond-pH: Trichoderma spp. kan die grond-pH in die risosfeer verlaag om sodoende die omgewing rondom die wortelsisteem meer voordelig te maak en om die beskikbaarheid en opname van nutriënte in die omgewing te bewerkstellig.
  • Beskikbaarheid van nutriënte: Dit kan onoplosbare makro- en mikronutriënte beskikbaar maak deur die produksie van organiese sure, cheleringsmiddels en deur die redoks-status van die nutriënte te verander. Nutriënte soos fosfaat, stik­stof, kalium, yster, mangaan, magnesium en koper kan meer doeltreffend deur die plant benut word in die teenwoordigheid van Trichoderma spp.
  • Droogte en hoë soutinhoud: Dit kan die plant se verdraag­saamheid teen verskeie abiotiese stresfaktore soos droogte en soutinhoud verbeter. In die teenwoordigheid van Trichoderma spp. word kalsium- en kaliumvlakke in die plantweefsel verhoog, terwyl natriumvlakke verlaag word. Dit verminder die skade wat grond met ’n hoë soutinhoud aan die plant aanrig. Dit verhoog verder die produksie en akkumulasie van osmotiese middels in die plant en sodoende verbeter die waterabsorberingskapasiteit van plantselle. Trichoderma spp. verminder die opbou van skadelike reaktiewe suurstofspesies wat tydens ongunstige omstandighede gevorm word. Alhoewel ’n mikrobiologies gesonde grond ’n diverse populasie van mikroörganismes benodig om optimaal te funksioneer, is die teenwoordigheid van ’n hoë konsentrasie voordelige Trichoderma spp. beslis ’n stap in die regte rigting.
Die effek van Trichoderma op die wortelgroei van gewasse. Links – mielies, middel – bone, regs – koring.